Baba slaap skielik sleg

akkreditasie
Hoe gemaak met 'n baba wat op ses maande skielik sleg slaap?

Vraag:

My baba slaap al vyf maande lank sleg. Sy het fantasties geslaap tot sy ses maande oud geword het. Sy eet baie goed. Ek borsvoed, maar sy drink nie gedurende die nag nie. Sy word tussen vier tot ses keer per nag wakker. Ons druk net haar fopspeen in haar mond as sy wakker word. Ek is nie ’n voorstander van slaapafrigting nie. Hoekom word sy so dikwels wakker? Wat kan ons doen om haar te leer slaap?

Antwoord:

Om deur te slaap is aangeleerde gedrag. Ons brein word gebore om aanvanklik ná elke slaapsiklus (wat gewoonlik tussen 90 en 180 minute duur) wakker te word. Wanneer ’n baba gebore word, word sy dus gemiddeld elke drie uur wakker om te drink, waarna sy weer verder slaap.

Deur sekere dinge te herhaal word ’n gedragspatroon by die baba vasgelê wat later lei tot ’n verband met slaap. Dink byvoorbeeld aan ’n baba wat aan die slaap gesus word.

Later kan sy nie aan die slaap raak sonder beweging nie, en ’n baba wat fopspeen suig kan later glad nie sonder haar fopspeen aan die slaap raak nie. En aangesien die baba dan ná elke slaapsiklus wakker word, word dieselfde prikkel weer eens benodig.

Dit is natuurlik dat babas in hul eerste ses maande geleidelik beter begin slaap, maar as die baba nie onafhanklik aan die slaap kan raak en aan die slaap kan bly teen die einde van die ses maande nie, begin hulle gewoonlik heelwat meer gereeld wakker word.

Jou babatjie verbind die suig aan ’n fopspeen met slaap en word waarskynlik elke keer wakker wanneer die fopspeen uitval, of teen die einde van die slaapsiklus wanneer sy agterkom die fopspeen is nie in haar mondjie nie.

Die antwoord is dus om haar te leer om sonder haar fopspeen te slaap. Laat haar aanvanklik met die fopspeen aan die slaap raak, maar haal dit uit wanneer sy in ’n dieper slaap val. Die fopspeen kan dan geleidelik elke aand ná ’n korter ruk uitgehaal word tot sy dit glad nie meer nodig het nie.

Wees net versigtig dat jy nie die fopspeen met iets anders vervang, soos om haar aan die slaap te sus nie. ’n Slaapspeelding kan wel die fopspeen vervang.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees