Baba weier bors

akkreditasie
Borsvoeding is harde werk - vermy dus aanvanklik fopspene, wat makliker is om te suig. So nie kan baba lui vir suig word.

Vraag:

My baba het twee weke ná haar geboorte die bors begin vermy. Dit het aanvanklik goed met die borsvoeding gegaan, maar deesdae drink sy drie slukke en trek haar kop weg. Ek wil nie hê sy moet honger ly nie en wil beslis ook nie byvoedings gee nie. Gaan my melkproduksie afneem omdat sy so min drink en wat kan ek daaraan doen? Hoe kan ek haar aanmoedig om weer aan my te drink?

Antwoord:

Die eerste vraag wat ek gewoonlik aan ma’s vra wat sê dat hul jong baba die bors weier, is of sy enige fopspene, bottels of ander spene gebruik. Babas suig anders aan fopspene en bottelspene as aan die bors. Die mond moet wawyd oop wees om doeltreffend te kan borsvoed, maar die mondjie hoef nie baie groot oop te rek om aan ’n fopspeen of speen te suig nie.

Wanneer babas wat fopspeen suig of bottel drink dan aan die bors gesit word, wil hulle nie altyd die mondjie lekker wyd oopmaak om ’n groot deel van die donker deel om die tepel (oftewel die areola) in hul mondjie te neem nie. Hulle kry dan nie genoeg borsweefsel in die mondjie om die melk doeltreffend uit die bors te suig nie. Dis harde werk om borsmelk uit die bors te kry en as hulle sukkel, weier hul dikwels die bors.

Dis dus ’n goeie plan om fopspene, bottelspene en bottels te vermy terwyl jy besig is om borsvoeding te vestig, want dit kan jul borsvoeding-verhouding beslis ondermyn.

Met toewyding en uithouvermoë is dit moontlik dat ma’s genoeg melk vir hul baba kan maak. Die proses verg egter soms tyd en energie en die ma se motivering en selfvertroue is sleutel tot die sukses van borsvoeding. Dit kan ook help om die baba in ’n ander posisie vas te hou wanneer jy borsvoed.

Pleks van die bekende wiegieposisie waar jou baba voor jou lyf in jou arms lê, kan jy jou baba in die rugbybal-posisie vashou. Die baba lê dan langs jou met die voetjies na agter en die koppie onder jou arm deur. Dié posisie help ook soms dat babas wat winde sluk ’n meer gereguleerde slukaksie het.

Jy kan ook op jou sy lê met jou arm onder of bo jou kop en die baba langs jou en op haar sy geposisioneer.

Jy kan jou melkproduksie met verskeie metodes aanhelp. Ek het al dikwels genoem dat ongehinderde borsvoeding op aanvraag en vel-teen-vel-kontak borsmelkproduksie kan verhoog. Bad saam met jou baba en bring genoeg tyd deur waar sy met net ’n doek aan teen jou lyf lê.

Probeer saam slaap wanneer dit julle pas of leer babamasseringsoefeninge doen. Koester die tyd saam met jou baba en probeer dat ander verpligtinge nie onnodig met jou en jou baba se spesiale tydjies saam inmeng nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees