Babas kan self eet - regtig!

akkreditasie
Lizbe Botha
B&K se dieetkundige skrywer, Zelda Ackerman, het haar dogtertjie op ses maande al geleer om self te eet. Hier vertel sy hoe sy te werk gegaan het.

Met my eerste twee babas het ek, soos die meeste ma’s, purees gemaak en gevries en my babas getrou met ’n lepel gevoer.

Skaars ’n maand ná my derde se geboorte moes ek in diepte ondersoek instel na ’n nuwe manier van kos gee: babageleide spening. Volgens navorsing is die meeste gesondheidswerkers nie positief daaroor nie omdat hulle dit nie self ervaar het nie.

Met ’n klein babatjie in my arms het ek besluit dat ek ’n eenkeer-’n-leeftyd-geleentheid het om as dieetkundige self te kyk of die metode werk. In die maande voor Carissa begin eet het, het my effens skeptiese brein begin plek maak vir ’n opgewonde hart oor hierdie nuwe uitdaging.

Stomgeslaan

Ek het nooit gedink dat my ses maande oue dogtertjie my voete so onder my sou uitslaan nie. Sy het van haar eerste ete af so oulik geëet. In die eerste week het sy soms ’n braakrefleks gehad as ’n stukkie kos wat te groot was agter in haar mond beland het. Sommer gou het sy geleer wat om met die kos in haar mond te doen.

Koubewegings, wat ons gewoonlik eers in babas van agt of nege maande sien, het sy van die eerste ete af al gewys. Toe sy net begin eet het, was haar vermoë om die kos op te tel en in haar mond te sit maar beperk en sy kon nie veel inkry nie.

Dit was wonderlik om te sien hoe haar vaardigheid elke dag verbeter het en ná net twee weke kon sy al genoeg kos self eet, sonder ’n enkele tand in haar mond.

Aangepaste babageleide spening

Wanneer babageleide spening streng uitgevoer word, word kosse soos pap, jogurt en sop uitgesluit. Met my voedingskennis het ek geweet dat babas wat nie ysterverrykte pap eet nie en net stukkies vleis wat moeilik tot in babamagies kom, ’n ystertekort sal ontwikkel. Ek het dus besluit om dit effens anders aan te pak.

Van week een af het ek ’n lepeltjie pap en ook lepeltjies vleispuree voor haar gesit en sy het dit self opgetel en geëet. Die pap en vleis moes nie net vir yster sorg nie; ek wou ook hê dat sy gewoond raak aan lepeltjiekos.

Dis net so belangrik dat babas van die begin af leer lepeltjiekos eet as handkos. ’n Maand lank het ek die kos op haar eetstoeltjie se skinkbord gesit, en toe ’n bord begin gee.

Ek het ’n paar dinge dus effens anders gedoen, maar die beginsel om baba self te laat eet, het ons te alle tye toegepas.

Skrikkerige mamma, vreeslose baba

Die heel eerste kossies het ek met ’n taamlike geruste hart gegee, maar fermer kosse soos pasta en perskes wat nie heeltemal so sag was nie, het my effens benoud gemaak.

Die eerste keer dat ek ’n stukkie vleis gegee het, sal ek nooit vergeet nie. Ek het op die punt van my stoel gesit en elke beweging van haar dopgehou. Ek was gereed om enigiets van die Heimlich-maneuver tot KPR uit te voer. Niks was natuurlik nodig nie. Sy het effens gestik en ek het besluit om (ter wille van mý senuwees) eerder by vleispuree te bly.

Wanneer sy effens gestik het, het ek net ’n klappie op die rug gegee, sommer net waar sy daar in haar stoel gesit het. Onbewus van die gevaar van verstikking, het sy natuurlik elke stukkie kos met dieselfde geesdrif geëet, sonder ’n bang haar op haar kop. Hoe meer kleurryk, hoe opwindender was die eetavontuur vir haar waar sy al die lekker goed wat almal eet, ook kon ontdek.

Wie nie waag nie, wen nie

Toe sy teen agt maande oud druiwe en tamaties begin eet, het ek baie getrou elke babatamatie en druiwekorrel middeldeur gesny (of selfs middeldeur gehap as dit nie anders kon nie), want ’n baba kan mos maklik aan die ronde goed stik.

Tot een dag, toe ek buite kom waar Carissa sit en haar boeties soos apies in die bome rondklouter op soek na bessies wat hulle haar kan voer. Toe ek self een van die ronde vruggies beproef, kom ek agter die goed wat sy so inryg het nog ’n groterige pit ook in.

Sommer net daar het ek besluit dat as sy nie daaraan stik nie, is ek seker dat sy ’n heel tamatie en druiwekorrel kan hanteer, en dit was toe ook so. Ek het besef dat ek ’n bietjie meer kon waag. Ek het kort-kort iets beproef wat harder is.

Ek is natuurlik altyd by haar as sy eet en as ons iets waaghalsigs probeer, hou ek haar met valkoë dop. Ek het haar nooit laat eet by ’n oppasser nie.

Ek dink tog dat babageleide spening ’n baba in ’n mate kan beskerm teen verstikking, want hulle leer van vroeg af wat om te doen met stukkies kos (of ander goed) in hul mond. Sy sal stukkies harder kos soos soetrissie wat te groot is om te sluk, net uitspoeg.

Nou, op 10 maande, kan sy al ferm pruim en perske, heel aarbeie en selfs ’n appel aan ’n stronk eet.

Morsjorsie

Ek was effens bang vir die gemors, maar die borslap met ’n bakkie het die morsery aanvanklik minder gemaak. Van die kos het tog buite die bakkie geval en dit was tydrowend om die eetstoel skoon te maak en vrugtevlekke uit somerrokkies te was.

Ek het ’n borslap ontwikkel wat haar klere en eetstoel silwerskoon en droog hou. Sy kan ook self stukkies kos wat geval het daaruit haal en weer eet, wat vermorsing baie min maak.

Haar eetstoel bly die beste eetplek, maar sy kan ook weg van die huis af in ’n ander eetstoel of sommer op ’n kombersie baie lekker sit en eet sonder dat daar ’n groot gemors is.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees