Hoewel babas ’n groot deel van hul lewe omslaap, is die meeste pasgeborenes se slaapsiklus maar taamlik wisselvallig. Party slaap bedags heerlik maar is snags wawyd wakker. Namatehulle ouer word, verander hul slaapbehoeftes en ook hul slaapsiklus. Daar’s gelukkig heelwat wat jy kan doen om jou baba se slaapgewoontes te beïnvloed en van vroeg af ’n slaaproetine te kweek. Dit hoef nie ’n baie rigiede roetine te wees nie, want baba gaan sy roetine wil aanpas namate hy nuwe ontwikkelings­fases betree.

Hier is voorstelle wat jou baba – en jou – sal help om ’n goeie nag se slaap in te kry.

0-3 maande

Wanneer moet ’n mens met ’n slaaproe­tine begin? Die antwoord is voor die hand liggend: sodra jou baba in die dag te lank aaneen slaap en snags gereeld wakker word. Dit gebeur meestal iewers in babase eerste drie maande. As hy bedags meer as snags slaap, beteken dit hy ruil sy dag- en nagroetine om.

Help hom om in die nag beter te slaap deur hom bedags meer gereeld wakker te maak, soos elke drie uur vir ’n voeding.

As jy sukkel om hom wakker te kry, haal eers sy kombersies af sodat hy afkoel en stadig wakker word.

Laat dag- en nagvoedings verskil. Bedags kan jy hom in helder daglig voed terwyl strelende klassieke musiek in die agtergrond speel, en snags kan jy die vertrek donker en sonder byklanke hou.

Maar moet hom nie bedags te min laat slaap in die hoop dat hy in die nag beter sal slaap nie. Dit werk nie!

WENKE

  • Moenie jou baba se slaaptydroetine te laat maak nie en sorg dat dit elke dag op dieselfde tyd gebeur. Soms sal jy nie daarby kan hou nie, soos wanneer julle gaan kuier of kuiergaste kry. Wees maar buigsaam en moenie baba se roetine in ’n ander omgewing aan hom opdwing nie.
  • Dis middernag en baba is wakker!
  • Probeer om nie jou baba uit sy bedjie te tel as hy in die middel van die nag wakker word nie. Vryf sy ruggie, neurie saggies of tik hom liggies op sy boudjies tot hy weer insluimer.
  • As hy droog, skoon, nie honger nie en ook nie siek is nie, kan jy hom elke nag ’n bietjie langer laat huil voor jy na hom toe gaan. Wag eers vyf, dan 10 en uiteindelik 20 minute voor jy na hom toe gaan, maar moet hom nie optel nie. Dit gaan waarskynlik net ’n paar nagte aanhou voor hy in die roetine kom om self aan die slaap te raak.
  • Begin met ’n kalmerende roetine 30 tot 45 minute voor slaaptyd. Dit kan ’n bad insluit, en jy kan rustig saam met hom op die bed lê en saggies vir hom sing.
  • Gee sy laaste voeding in die kamer waar hy gaan slaap. Hy sal waarskynlik in jou arms aan die slaap raak; lê hom dan saggies in sy bedjie neer.  Sommige babas onder drie maande het teen tienuur ’n laaste voeding nodig voor hulle vir die nag gaan slaap. Dit sal vanself ál vroeër plaasvind namate hulle ouer word.

3-6 maande

Op dié ouderdom kan die meeste babas snags 10 uur lank sonder ’n voeding klaarkom.

Hou die tyd waarin julle rustig raak konstant en dieselfde; babas het hierdie voorspelbaarheid baie nodig. Jou baba sal nou tussen ses- en agtuur saans wil gaan slaap.

Sit hom in sy bedjie terwyl hy nog nie diep slaap nie, maar wel vaak is. Dis baie belangrik dat hy in hierdie stadium leer om hom self aan die slaap te maak. Kinders verskil egter en dis glad nie die einde van die wêreld as hy dit nog nie regkry nie. Druk deur en moenie te gou moed verloor nie!

’n Baba se slaapsiklus is gewoonlik 40 tot 45 minute lank. As dit is hoe lank hy bedags aanmekaar slaap, is dit waarskynlik al wat hy nodig het.

WENKE

  • Stel hom bloot aan geluide gedurende sy slaaptye bedags sodat hy kan begin onderskei tussen dagslapies en nagslapies.
  • Ruil sy doek net voor jy hom die laaste keer vir die nag voed sodat jy hom nie weer vir ’n doekruiling wakker hoef te maak nie. Gebruik goeie doeke wat die hele nag lank hou.
  • Gee hom ’n sagte massering as deel van sy slaaptydroetine.
So lyk ’n slaaptydroetine
So lyk ’n slaaptydroetine

6-12 maande

Dié ouderdomsgroep reageer baie beter op ’n vroeë slaaptyd-roetine. Onthou dat babas wat oormoeg is, snags meer gereeld wakker word.

Jul slaaptydroetine kan sesuur saans begin, maar moenie verbaas wees as hy soggens vyfuur reeds katjie van die baan is nie!  Wenke

Babas van hierdie ouderdom behoort nie snags wakker te word vir ’n voeding nie. Verminder die hoeveelheid melk in sy bottel of beperk die tyd wat hy snags borsvoed.

Maak seker hy is warm genoeg, maar ook nie te warm nie.

NOG WENKE
  • Wees realisties. Moenie moedeloos raak as dit voel jy is die enigste lewende wese wat snags nie slaap nie as gevolg van jou baba se slegte slaaproetine.
  • Baie babas se slaaproetine word omvergewerp wanneer hulle tande kry of siek is.
  • Doen wat vir júlle werk! Jy werk dalk bedags en voel baie meer gerus as jou baba tussen julle in die bed lê. Daar is geen wet of reël wat dit verbied nie – die doelwit is egter dat almal rustig en deurlopend slaap. Die ideaal is dat hy in sy eie bedjie slaap en dit regkry om hom self aan die slaap te maak, maar dis beslis nie die einde van die wêreld as hy dit nié regkry nie. Lekker slaap!