Postnatale of nageboortelike depressie (PND) is waarskynlik baie meer algemeen as wat mense dink. Ongeveer een uit drie ma’s kan hieraan ly, sê Linda Lewis – ’n spesialis op die gebied van PND en iemand wat self daaraan gely het – op haar webtuiste. PND word soms verwar met sy twee susters: bababloute en postnatale psigose.

Dis omdat daar onderskei word tussen drie soorte gemoedstoestande wat op swangerskap kan volg. Wat ons gewoonlik sommer bababloute noem is die ligste vorm van depressie ná geboorte, terwyl postnatale psigose ’n baie ernstige vorm is. PND lê iewers in die middel. In hierdie artikel bekyk ons die simptome en behandeling van elkeen van die toestande.

Drie soorte blou

Bababloute (baby blues), oftewel nageboortelike neerslagtigheid, is taamlik algemeen en slaan meestal binne die eerste dae ná die geboorte toe. Tot 85 persent van vroue doen dit op, maar dis meer algemeen by eerstekeer-ma’s. Jy ervaar gewoonlik teen dag drie enige (of almal) van dié simptome:

  • Onvermoë om te slaap
  • Huilerigheid
  • ’n Hartseer gevoel
  • ’n Gevoel van afhanklikheid
  • Broosheid
  • Moegheid
  • ’n Bietjie angs
  • Benoudheid oor hoe om jou baba groot te maak

As die simptome ná twee weke nie wyk nie, is dit dalk besig om in postnatale depressie (PND) te ontaard. Die erns van PND verskil van vrou tot vrou en word ook verskillend ervaar. Kenners meen dit slaan gewoonlik tussen die sesde week en derde maand ná geboorte toe, maar dit kan ook onmiddellik begin of selfs ’n jaar ná jou baba se geboorte eers kop uitsteek. Dis ’n ernstige toestand en vereis behandeling. Psigiaters reken egter PND word dikwels misgekyk omdat vroue bang is om te erken dat hulle nie die mas opkom nie. Die kenners meen net sowat 10 persent van vroue wat aan PND ly, meld dit aan. En hoe verskil PND van gewone depressie? Hoewel dit ewe intens is, is die groot verskil dat die ma se neerslagtigheid en angs om haar baba draai. Postnatale psigose is seldsaam en tas net sowat twee uit elke 1 000 vroue aan. Dit kom meestal binne die eerste drie maande ná die geboorte voor. Dis lewensgevaarlik en vroue wat dit het, dink kinder- en/of selfmoord is die enigste uitweg. Onmiddellike hospitalisering is dus noodsaaklik.

Hoe weet jy jy het PND?

Die tekens van PND lyk so:

  • Lusteloosheid, ’n verandering in jou eetpatroon en spysverteringsprobleme
  • Slapeloosheid óf die begeerte om aanhoudend te slaap
  • ’n Onvermoë om met jou baba te bind 
  • Oorsensitiwiteit vir mense se kommentaar
  • Konsentrasieprobleme
  • Die gevoel dat verantwoordelikhede jou oorweldig
  • ’n Gevoel dat jy misluk as ’n ma – jy voel oor die algemeen waardeloos en nutteloos
  • Onttrekking van almal en alles
  • Geen vreugde of belangstelling in dinge wat jou gewoonlik opgewonde gemaak het nie

Angs, paniek en obsessies

Kenners onderskei ook tussen postnatale depressie en postnatale paniek- en angsversteurings. Postnatale paniek- en angsversteuring word dieselfde as PND behandel, maar daar word ’n duidelike onderskeid tussen die twee getref. As jy postnatale paniek- en angsversteuring het, is jy nie terneergedruk nie, maar geweldig angstig. Jy kry gereeld angsaanvalle, wat simptome soos kortasemigheid, lighoofdigheid en ’n baie vinnige hartklop kan insluit. Jy is dikwels voortdurend bekommerd dat iets slegs met jou baba gaan gebeur. Postnatale obsessief-kompulsiewe gedrag is nóg ’n gemoedsversteuring wat onder PND val. Op die gesaghebbende webtuiste www.postpartum.net word geraam dat tot 5 persent van ma’s daaraan ly. Simptome sluit herhalende gedagtes oor jou baba in soos dat jy die baba wil seermaak. Dit gebeur egter selde dat vroue die daad by die gedagte voeg. Hierdie versteuring behels ook dat vroue dinge oor en oor doen, soos om skoon te maak, of sommige take slegs in ’n spesifieke volgorde verrig – alles in ’n poging om hul angs te besweer. Al dié versteurings is tydelik en behandelbaar. Kry dus vinnig hulp as jy dink jy ly daaraan.

Wie loop die gevaar om PND te kry?

Hoewel enigiemand PND kan opdoen, is daar sekere risikofaktore wat jou meer kwesbaar daarvoor maak. Dit sluit in:

  • ’n Eie of familiegeskiedenis van depressie of angstigheid
  • Gereelde PMS
  • Gebrekkige ondersteuning met die versorging van jou baba
  • Finansiële of huweliksprobleme
  • Komplikasies met die swangerskap, tydens geboorte of probleme met borsvoeding
  • Groot aanpassings in die ses tot twaalf maande voor die geboorte
  • ’n Meerling-geboorte
  • Onvrugbaarheidsbehandeling of ’n miskraam
  • ’n Baba in die intensiewesorg-eenheid
  • Onvrugbaarheidsbehandeling of ’n miskraam
  • ’n Baba in die intensiewesorg-eenheid

Die voorkoms van nageboortelike depressie is laer by vroue wat hul baba borsvoed. Gereelde borsvoeding kan ook help om die impak van PND te verminder. Keisersneë, daarenteen, kan ’n vrou se risiko vir PND verhoog, aldus die uitslag van ’n studie wat in 2011 bekend gemaak is. In dié opspraakwekkende studie aan die Jang-Ming-universiteit in Taiwan is gewys dat vroue ’n selfs groter risiko loop ná ’n elektiewe keisersnee as ná ’n keiser wat weens ’n noodgeval uitgevoer moes word. Navorsers reken die tyd wat dit kos om te herstel ná ’n keisersnee kan een van die redes wees.

Behandeling

Sorg dat jy onmiddellik ’n afspraak by jou dokter maak en vra vir ’n verwysing na ’n terapeut of psigiater, verkieslik iemand wat in nageboortelike depressie spesialiseer. Jy kan ook ’n psigiater of terapeut direk raadpleeg as jy van ’n goeie een in jou omgewing weet. Doen dit liewer vroeër as later, selfs al het jy net sommige van die simptome. Dit is ewe belangrik dat jou huismense, familie en naaste vriende weet hoe jy voel en wat met jou fout is. As hulle nie weet nie, sal hulle nie weet hoe om jou te ondersteun nie. Die goeie nuus is dat PND baie suksesvol behandel kan word met medikasie, ondersteuning, berading en psigoterapie – verkieslik ’n kombinasie. Die medisyne is nie gewoontevormend nie, maar dit duur ’n paar weke voor dit inskop. Jou terapeut of dokter sal kan raad gee oor borsvoeding terwyl jy die middel drink. 

Dit het met my gebeur: Charné Ward, Pretoria

Charné Ward (40) en haar tweeling, Alexander en Emma (3).

Ek is op 32 weke van swangerskap ginekoloog toe vir my weeklikse ondersoek, en eers vyf dae later huis toe, sonder my boep en met twee bondeltjies in die neonatale intensiewe sorgeenheid (NISE). Ek het elke dag hospitaal toe gegaan en saans sonder my kinders terug huis toe gekeer. ’n Maand later is Emma en Alexander uiteindelik ontslaan, vergesel van ’n lang lys voorwaardes en noodnommers. Ek was bang ek gee meer aandag aan die een as aan die ander en het dit daarom vermy om hulle op te tel. Daar was geen band tussen ons nie; ek wou hulle eintlik nie hê nie. Ek het werklik gevoel ek wil hulle op die trappie van ’n kinderhuis gaan los, maar ’n stemmetjie het gemaan: “Jou ma en sussies gaan woedend wees!” Dit was my ma en my man, Shaun, wat besef het ek het hulp nodig. Shaun het een van die NISE-susters se hulp gevra, wat my na ’n sielkundige verwys het. Ek het die sielkundige maande lank besoek en dinge het stadig maar seker verbeter. Ek het naghulp gekry en my familie het ook ekstra tyd saam met ons deurgebring om ondersteuning te verleen. Ek en my twee kinders het uiteindelik ’n band begin vorm – wat vandag onvernietigbaar is.

Vrae en antwoorde in ’n neutedop

Kan ek PND kry terwyl ek swanger is?
Voorgeboortelike depressie is dikwels ’n voorloper van nageboortelike depressie, maar vroue sukkel om dit te herken omdat hulle die neerslagtigheid aan deurmekaar hormone toeskryf. Praat met jou dokter of raadpleeg ’n terapeut as jy enige van die simptome van PND ervaar terwyl jy swanger is, selfs al is dit in ’n ligte vorm.

Hoe raak dit my baba?

PND het geen langtermyn-uitwerking op babas nie, mits jy hulp kry voor jou kind twee jaar oud is. Die ouer kinders in die huis kan egter skade ly.

Kan pa dit kry?

Mans kan ook depressie ná die geboorte van hul kinders opdoen. Navorsing wys dat die voorkoms hiervan enigiets tussen 1,2 en 25 persent is. Hoewel mans moeilik erken dat hulle hartseer en angstig is, is dit beslis moontlik. Volgens kenners is nageboortelike depressie by pa’s hoofsaaklik die gevolg van onrealistiese verwagtinge oor hoe dit gaan wees om ’n baba in die huis te hê. Ma’s wat borsvoed sluit dikwels ook die nuwe pa onbewustelik uit. Dit is net so belangrik dat pa vinnig hulp kry.

My vriendin het PND ...

As jy weet van ’n vrou na aan jou wat aan PND ly, kan jy die volgende doen om haar te help:
• Moedig haar aan om te praat. Jy hoef net te luister.
• Bied jou hulp aan pleks daarvan om te vra wat jy kan doen, en wees prakties. Sê byvoorbeeld dat jy op Woensdae vir hulle aandete sal bring.

Kry hulp
Gaan gerus na www.lindalewis.co.za of kry haar boek When your blessings don’t count – A guide to recognising and overcoming postnatal distress.