Bêre jou borsmelk só

akkreditasie
Wat moet jy weet oor die vries en ontvries van jou baba se gunsteling-drankie? Ons verduidelik hoe jy borsmelk berg.

Jou borsmelk is mos vloeibare goud, en daarom is dit belangrik om te weet hoe om die melk wat jy pas uitgepomp het en nie dadelik gaan gebruik nie, vir later te bêre. Waarin jy dit berg maak nie regtig saak nie, solank die houer skoon is. Daar is talle gerieflike opsies.

Moet nooit, ooit ...

... borsmelk in die mikrogolfoond laat ontdooi nie. Die uitermatige en skielike hoë temperature vernietig sommige voedingstowwe. Moet ook nie borsmelk wat jy reeds ontvries het, weer vries nie. Bêre ontvriesde melk in die yskas en gebruik dit binne twee uur.

Vervaldatums

Merk altyd die melk wat vrieskas toe gaan. As jy nie spesiaal vervaardigde plastieksakkies of -bottels gebruik wat ruimte vir merkplek laat nie, plak ’n plakker of maskeerband op die houer en skryf daarop. Jy hoef nie die tyd of dag neer te skryf nie, maar merk die houers as week 1, September 2014 of week 3, Oktober 2014. Die idee is dat jy jou gevriesde melk so vroeg moontlik gebruik.

Ontvries borsmelk so

Borsmelk ontvries besonder vinnig. Jy kan dit op ’n paar maniere doen:

  • Oornag in die yskas (’n uitstekende en baie veilige manier)
  • In ’n beker louwarm – nooit kokende nie – water (vir haastige ma’s)
  • Buite die yskas. Die duur hang af van waar jy bly: Die melk sal ’n bietjie vinniger ontvries op ’n somermiddag op Upington as ’n winteroggend op Bethlehem.

Maak altyd seker ...

... dat daar genoeg plek is vir die melk om uit te sit, want dis wat gebeur as vloeistof vries. Maak dus die houer wat jy gebruik net driekwart vol, want as jy dit boordensvol maak, sal die houer bars. Hou die houers – of dit nou glas of plastiek is – gesteriliseer of skoon. Jy kan kook- of stoomsterilisasie gebruik, of Milton, maar jy hoef nie meer te steriliseer wanneer jou baba ses maande of ouer is nie.

Wees gerus as ...

... jou ontvriesde borsmelk anders as vars borsmelk lyk. Dit kan effens blou, geel of selfs bruin voorkom. Die lae kan ook ’n bietjie skei. Dis normaal!

Hoe lank?

  • Ses maande Dis hoe lank jy borsmelk in ’n kisvrieskas (die soort wat in jou ouma se plaaskombuis staan) kan bêre.
  • Drie maande Dis hoe lank jy borsmelk in die vrieskompartement van ’n tweedeur-yskas kan bêre.
  • Twee weke Dis hoe lank jy borsmelk in die klein vrieshokkie van ’n eendeuryskas kan bêre.
  • 48 uur Dis hoe lank jy borsmelk in die yskas kan bêre. As jou baba jonger as drie maande is, is 24 uur in die yskas ’n veiliger riglyn. Ignoreer bronne wat sê jy kan die melk tot agt dae in die yskas hou. Hierdie riglyn is gebaseer op ’n aanname dat jou yskas se temperatuur altyd 4 grade Celsius is. En wie kan dit met sekerheid sê?
  • Ses uur Dis hoe lank borsmelk teen kamertemperatuur vars en veilig bly.

Glas- of plastiekbottles/koppies

Die belangrikste oorweging is dat die bottel of houer ’n deksel moet hê wat goed pas. Dis ook onnodig om toebehore te steriliseer wanneer jou baba ses maande of ouer is. Sommige borspomp-vervaardigers maak nuttige plastiekkoppies waarin jy die melk direk kan pomp en vries. Die voordeel van laasgenoemde is dat jy nooit melk hoef oor te gooi van een bêreplek na ’n ander nie – jy pomp, vries en voed in een bottel!

Ysblokkiehouers

Giet die melk in die holtetjies en sodra dit gevries is, kan jy dit in ’n plastieksak pak en so ’n sak vol blokkies opbou. Hou die sak toegeknoop.

Dié manier van borsmelk vries is baie gewild. Een groot voordeel is dat jou vrieskas nie vol botteltjies staan nie. ’n Ander voordeel is dat jy met dié blokkies klein hoeveelhede melk – sowat 25 tot 30 ml – op ’n slag kan vries. Dit werk goed as jy weet vier blokkies is genoeg vir een voeding of as jy net ’n vars voeding met ’n blokkie of twee wil aanvul.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees