Borsmelk is vloeibare goud. Juis daarom is dit belangrik dat jy weet hoe om die melk wat jy pas uitgepomp het en nie dadelik gaan gebruik nie, vir later te bêre. Waarin jy dit berg maak nie regtig saak nie, solank die houer skoon is, sê suster Ashleigh Fairweather van die babaproduk-vervaardiger NUK.

Jy kan borsmelk vries in:

Plastieksakkies

Daar is ’n paar handelsname wat sakkies spesiaal vir dié doel vervaardig. Een daarvan is Medela. Hierdie sakkies is so ontwerp dat dit aan ’n borspomp – gewoonlik dié van ’n gelyksoortige handelsnaam – vasgeplak kan word terwyl jy uitmelk. Die melk gaan dus reguit van jou bors tot in die sakkie, wat milliliter vir milliliter afgemerk is.  Maar wees gewaarsku, dis taamlik moeilik om dié sakkies in die hande te kry.

Jy kan ook jou eie plastieksakkies gebruik as jy wil. Sorg net dat die plastiek dik is, is die raad van Louise Goosen van die Borsvoedingsvereniging en voorsitter van die Kaapstadse melkbank. Wees ook daarvan bewus dat dié manier van bêre maklik in ’n morsige spul kan ontaard.

Ysblokkiehouers

Giet die melk in die holtetjies en sodra dit gevries is, kan jy dit in ’n plastieksak pak en so ’n sak vol blokkies opbou. Hou die sak toegeknoop.

“Dié manier van borsmelk vries is baie gewild. Een groot voordeel is dat jou vrieskas nie vol botteltjies staan nie,” sê Louise. ’n Ander voordeel is dat jy met dié blokkies klein hoeveelhede melk – sowat 25 tot 30 ml – op ’n slag kan vries. Dit werk goed as jy weet vier blokkies is genoeg vir een voeding of as jy ’n vars voeding met net ’n blokkie of twee wil aanvul.

Bottels of koppies vanglas of plastiek

Die belangrikste oorweging is dat die bottel of houer ’n deksel moet hê wat goed pas, sê Louise. Ashleigh voeg by dat ma’s nie te veel aandag moet skenk aan die omstredenheid oor plastiekgebruik nie.

“Solank die houer skoon is, is jy reg,” meen sy.

Dis ook onnodig om toebehore te steriliseer wanneer jou baba ses maande of ouer is. Was dit net dadelik en deeglik.

Sommige borspomp-vervaardigers maak nuttige plastiekkoppies waarin jy die melk direk kan pomp en vries. Ander – soos NUK – verkoop bottels sonder tiete maar met ’n stewige deksel waarin jy jou melk kan vries. Die voordeel van laasgenoemde is dat jy nooit melk hoef oor te gooi van een bêreplek na ’n ander nie – jy pomp, vries en voed in een bottel!

WENKE
  • Meng ontvriesde borsmelk met vars borsmelk as jy meer melk nodig het.
  • Melk ’n paar keer uit en vries net een keer. Gestel jy melk drie keer per dag uit: Bêre dié melk dan elke keer in ’n afsonderlike houer in die yskas. Wanneer al drie houers melk teen die einde van die dag ewe koud is, kan jy dit in een houer saam-giet en vries. Dis veral nuttig vir ma’s wat by die werk uitmelk.
  • Onthou om nie die koue ketting te breek as jy by die werk uitmelk nie en die houers vol melk in ’n koelsak tot by jou huis te vervoer en dan in die yskas te pak.

Moet nooit, ooit ...

  • Borsmelk in die mikrogolfoond ontdooi nie. Die uitermatige en skielike hoë temperature vernietig sommige voedingstowwe.
  • Borsmelk wat jy reeds ontvries het, weer vries nie. Bêre ontvriesde melk wat jy nie dadelik kan gebruik nie in die yskas en gebruik dit binne twee uur.

Vervaldatums

Merk altyd die melk wat vrieskas toe gaan. As jy nie spesiaal vervaardigde plastieksakkies of -bottels gebruik wat ruimte vir merkplek laat nie, plak bloot ’n plakker of maskeerband op die houer en skryf daarop.

“Jy hoef nie die tyd of presiese dag neer te skryf nie,” sê Louise. “Merk die houers as week 1, Julie 2020 of week 3, Augustus 2020.”

Die idee is bloot dat jy jou gevriesde melk so vroeg moontlik gebruik.

  • Ses maande Dis hoe lank jy borsmelk in ’n kisvrieskas (die soort wat in jou ouma se plaaskombuis staan) kan bêre.
  • Drie maande Dis hoe lank jy borsmelk in die vrieskompartement van ’n tweedeur-yskas kan bêre.
  • Twee weke Dis hoe lank jy borsmelk in ’n klein vrieshokkie van ’n eendeur-yskas kan bêre.
  • 48 uur Dis hoe lank jy borsmelk in die yskas kan bêre. As jou baba jonger as drie maande is, is 24 uur in die yskas ’n veiliger riglyn. Ignoreer bronne wat sê jy kan die melk tot agt dae in die yskas hou. Hierdie riglyn is gebaseer op ’n aanname dat jou yskas se temperatuur altyd 4 grade Celsius is. En wie kan dit met sekerheid sê?
  • Ses uur Dis hoe lank borsmelk teen kamer­temperatuur vars en veilig bly.

KOEL AF!
  • Borsmelk ontvries besonder vinnig. Hier is ’n paar maniere waarop jy dit kan doen:
  • Oornag in die yskas (’n uitstekende en baie veilige manier)
  • In ’n beker louwarm – nooit kokende nie – water(vir haastige ma’s)
  • Buite die yskas. Die duur hang af van waar jy bly: Die melk sal ’n bietjie vinniger ontvries tydens ’n somermiddag op Upington as ’n winteroggend op Bethlehem.


MAAK ALTYD SEKER DAT ...
  • Daar genoeg plek is dat die melk kan uitsit, want dis wat gebeur wanneer vloeistof vries. Vul dus die houer wat jy gebruik net driekwart vol, anders kan dit bars.
  • Die vrieshouers gesteriliseer of skoon is, ongeag of dit van glas of plastiek is. Jy kan kook- of stoomsterilisasie kies, of Milton, maar jy hoef nie meer te steriliseer as jou baba al ’n halwe jaar of ouer is nie.

Wees gerus as...

Jou ontvriesde borsmelk anders as vars borsmelk lyk. Dit kan effens blou, geel of selfs bruin voorkom. Die lae kon ook ’n bietjie geskei het. Dis normaal!