Besny: ja of nee?

akkreditasie
Die voorvel-vraagstuk woed nou al baie jare. en elke af en toe kom nuwe navorsing uit wat die debat weer op sy kop keer. Hier is die nuutste menings.

Voorvel of geen voorvel? Dit is die vraag waaroor mense reeds vanaf Bybelse tye stry. Sommige kulture het besnydenis – die verwydering van die voorvel van die penis – destyds as barbaars beskou, vir ander was dit ’n belangrike kulturele of godsdienstige oorgangsritueel.

Moderne tye het mediese vooruitgang gebring, maar steeds geen universele en duidelike antwoord op die besnydenisvraagstuk nie. Dit bly omstrede: Sommige ouers meen dis meer higiënies, ander sê dis onnodig wreed. Selfs dokters verskil oor die wenslikheid van besnydenis.

Die gesaghebbende Amerikaanse Academy of Pediatrics het in Augustus 2012 die wêreld laat regop sit toe hulle ’n verklaring uitgereik het waarin hulle vir die eerste keer gesê het dat die voordele van pasgebore manlike besnydenis meer is as die risiko’s en dat die voordele toegang tot die prosedure regverdig vir gesinne wat dit kies.

Hulle het egter nie roetine-besnydenis vir alle pasgeborenes aanbeveel nie. Dié verklaring het gevolg nadat hulle in 2007 ’n multidissiplinêre taakspan op die been gebring het om al die getuienis oor manlike besnydenis te bestudeer.

Baie teenstrydige menings

Hul verklaring het ’n storm van protes en debat ontlok. Etiese kwessies is geopper: Is dit regverdig om so ’n belangrike besluit namens ’n baba te neem? En is die mediese voordele werklik genoeg om die etiese en sielkundige vraagstukke uit te kanselleer?

Meer onlangs is daar in April vanjaar ’n studie deur die Amerikaanse Mayokliniek bekend gemaak waarin bevind is dat die helfte van alle onbesnyde mans ’n mediese toestand sal opdoen wat met die voorvel verband hou.

Volgens dié studie is daar minstens 100 voordele van pasgebore besnydenis vir elke nadeel.

Een van die skrywers van dié studie, Brian Morris, ’n afgetrede mediese professor by die universiteit van Sydney in Australië, het selfs gesê dis oneties om nié vir ouers die opsie van besnydenis vir hulle babaseuns te gee nie. Maar almal stem nie met hom saam nie. ’n Internasionale organisasie teen besnydenis, NoCirc, meen dis oneties dat ouers so ’n belangrike besluit namens hul kind neem.

Baie van hul lede is mans wat verontreg voel omdat hul ouers hierdie besluit namens hulle geneem het, terwyl sommiges vir altyd geskend is deur ’n besnydenis wat verkeerd geloop het.

Volgens NoCirc verminder die verwydering van die voorvel ook die sensitiwiteit van die glans (voorpunt van die penis) en beperk sensasie tydens seksuele aktiwiteit. Hulle beskou dit as ’n menseregtekwessie.

NoCirc in Suid-Afrika beywer hom ook om die roetine-besnydenis van pasgeborenes te keer en om mense in te lig oor die “ware gevare” van besnydenis.

Wat sê die wet?

Suid-Afrikaanse wetgewing is ondubbelsinnig: Volgens die Kinderwet van 2005 is die besnydenis van manlike kinders onder 16 jaar verbode, tensy dit om mediese of godsdienstige redes gedoen word.

Hierdie wet is van krag sedert April 2010, en oortreders kan beboet of selfs 10 jaar lank tronk toe gestuur word. Ouers wat hul kinders om mediese of geloofsredes wil laat besny, moet ’n spesiale toestemmingsbrief teken.

Tog duur besnydenis voort en ironies genoeg was daar verlede jaar sprake van ’n massaveldtog deur die departement van gesondheid om pasgeborenes in KwaZulu-Natal te laat besny om latere MIV-infeksie te help voorkom.

’n Artikel in die Suid-Afrikaanse Mediese joernaal het die etiek en wettigheid hiervan bevraagteken. Die skrywer, prof. David McQuoid-Mason, ’n professor in mediese reg, het aanbeveel dat dokters weier om dit te doen.

Die uitvoerende komitee van die Verenigde Suid-Afrikaanse Neonatale Vereniging het in 2011 ook gesê roetinebesnydenis by babas om MIV te voorkom is oneties omdat die kind nie kan kies nie. Dr. Hugo van der Merwe, ’n uroloog van Pretoria, meen daar is geen beduidende mediese voordeel daaraan om ’n baba met ’n normale voorvel te besny nie.

“Die risiko van komplikasies is laag – 0,2 tot 5 persent – maar die komplikasies kan werklik dramaties wees.” Van die ontstellendste moontlike komplikasies sluit in amputasie van die voorpunt van die penis en dat die penisweefsel kan sterf.

Daar moet ’n duidelike onderskeid getref word tussen neonatale besnydenis weens geloofs- of kulturele tradisies en dié om mediese redes, sê Hugo.

“As daar mediese redes vir ’n besnydenis is, is dit voor die hand liggend dat dit die beste opsie vir die kind is. Die dokter behoort wel die ouers in te lig oor wat dit behels en wat die risiko’s is.”

Mediese redes vir besnydenis

Die algemeenste mediese rede vir besnydenis by babas is ’n abnormale vernouing van die voorvel, sê Hugo.

“Die kind kan nie sy blaaspypie ledig nie, en dit gee aanleiding tot infeksie.” Die tweede mees algemene oorsaak is infeksie van die voorvel. Dit is dikwels ook die gevolg van ’n vernouing, dus ’n vernouingskomplikasie.

Hoewel organisasies soos NoCirc in so geval ’n dwarssnit in die voorvel bepleit pleks van ’n volledige besnydenis, sê Hugo die dwarssnit is net ’n tydelike oplossing.

“Dit is vir kinders wat ’n baie vernoude voorvel én infeksie het. Dan word die dwarssnit gemaak, wat die infeksie tyd gee om te genees. Dit help die infeksie dreineer sodat ’n besnydenis later gedoen kan word.

“ ’n Dwarssnit is nie ’n finale prosedure nie, want kosmeties het dit ’n slegte uitkoms. Dit lyk abnormaal en nie soos ’n penis moet lyk nie.”

Wat behels die prosedure?

Verskillende metodes word in Suid-Afrika vir besnyding ingespan, sê die Pretoriase uroloog dr. Hugo van der Merwe. Almal val egter gewoonlik in een van twee groepe:

  • Chirurgie, waar die voorvel met ’n skalpel afgesny word.
  • Klemprosedures, waar ’n klem op die voorvel gesit word en dit doodgedruk word sodat dit na sowat sewe dae afval.

Die risiko's

Daar is potensiële risiko’s met sowel die chirurgiese as die klemprosedures vir die besnydenis van babas, sê Hugo.
“Met klemprosedures sien ’n mens meer dikwels infeksies, maar dit is gewoonlik omdat dit gedoen is deur mense wat nie regtig daarin opgelei is nie.

“Met chirurgie is die risiko vir infeksie kleiner, maar daar is weer die risiko’s wat gepaard gaan met narkose. ’n Mens wil nie graag vir ’n baba narkose gee nie.” Is later beter vir die een metode as vir die ander? Ja en nee, sê Hugo.

“Narkose is ’n baie groter risiko vir ’n pasgeborene as vir ’n ouer kind of volwassene. Chirurgie is ook moeiliker by ’n baba omdat die penis so klein is en ’n fout verreikende gevolge kan inhou. Die dokter moet dus uiters ervare wees met die prosedure – kies dus jou dokter versigtig.”

Hy is nie ’n voorstander van plaaslike verdowing vir chirurgiese besnydenis nie, hoewel sommige dokters dit so doen om die risiko van narkose uit te skakel.

“As ’n klein kindjie wil skop en skree, sal hy dit doen en daar is min wat jy daaraan kan doen. As jy ’n piepklein voorvelletjie van ’n piepklein penis moet afsny terwyl baba skop en skree, kan daardie messie gly.”

Dis ook baie belangrik dat die dokter die kind evalueer voor die besnydenis plaasvind, want sekere penisse behoort nie besny te word nie.

"'n Pasgebore baba behoort in spesialishande. ’n Mens moet altyd ’n neonatale besnydenis versigtig benader, maar dit is amper nog belangriker om te kan sien wanneer ’n baba nié ’n besnydenis mag kry nie.

“Soms is daar ’n aangebore afwyking of gebrek by die penis wat ouers nie altyd dadelik kan sien nie. Dan gebruik medici dikwels die voorvel om later rekonstruksie te doen. Onthou dit dus ook as jy ’n besnydenis oorweeg.”

As ’n baba met hipospadie gebore word – waar die gaatjie van die urienbuisie op die verkeerde plek op die penis sit – word besnydenis byvoorbeeld eers oorweeg as die afwyking reggestel en daar steeds oorbodige voorvel is.

“Dit hang af van die graad van die afwyking en of daar nog ’n voorvel oorbly nadat dit reggestel is,” sê Hugo. Hy sê dis belangrik dat ouers ingelig is voor hulle toestemming vir die prosedure gee.

“Jy moet weet wat die potensiële gevare is. En as jy dit om mediese redes laat doen, moet die dokter dit ook eers deeglik met jou bespreek.”

Kyk hiervoor uit

Ná besnydenis neem dit sowat 10 dae om te herstel. Bel jou dokter dadelik as:

  • Dit heeltyd bloei of daar bloed in die doek is.
  • Dit toenemend rooier raak.
  • Jou baba koors het.
  • Daar enige teken van infeksie is soos ’n afskeiding of toenemende swelling.
  • Jou baba nie binne die eerste agt ure urineer nie.

Die vinnige opvolg van komplikasies kan verdere probleme uitskakel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees