Kies ’n kamer

Naby of ver van jou kamer af? Dis die eerste besluit wat jy oor die babakamer sal neem, en dis meestal ’n hoogs persoonlike besluit.

Sommige ouers hou daarvan om te weet die babakamer is naby, ander verkies dit weer ver sodat hulle nie wakker word van elke klein babageluidjie nie. Die rigting waarin die babakamer se vensters kyk, is egter belangriker as die afstand van jou kamer af.

In Suid-Afrika kan ’n kamer met groot vensters aan die suidekant van jou huis te koud word. Die ideaal is ’n kamer met vensters wat noord wys.

Moet ook nie vergeet van die bure se braaiplek of erger nog, hul hondehok nie. Jou baba gaan in daardie eerste paar maande baie slaap en ’n aanhoudende geblaf of skielike harde musiek kan hom wakker hou.

Voor jy op ’n babakamer besluit, is dit ’n goeie plan om self ’n nag lank in daardie kamer te slaap. Hoe anders gaan jy weet van die raserige warmwatersilinder in die kamer se dak of ’n pyp wat reg langs die muur afloop en ’n onaardige geluid maak elke keer as iemand die stortkraan opdraai? En wie sou ooit kon raai die straatlig skyn net mooi by daardie kamer in?

Wees ook op die uitkyk vir ’n moontlike trek in die kamer.

Voor die vensters

Gevoerde gordyne wat lig uithou sal die kamer donkerder maak en jou baba herinner aan die baarmoeder, wat sy aanpassing in sy nuwe wêreld ’n bietjie kan aanhelp. Gordyne wat die lig uithou sal daardie allerbelangrike dagslapies ook makliker maak.

Op die vloer

Goed, julle het op die beste kamer besluit – nou is dit tyd om oor die binnekant van die kamer te besin. Hoe lyk die mat? Moet dit dalk vervang word? Matte versamel stof en stof is ’n algemene allergeen. As julle die kamer ’n nuwe vloerbedekking wil gee, oorweeg houtvloere met los matte. Hierdie soort vloere word makliker skoon gehou en los matte kan meer gereeld vervang of omgeruil word.

Teen die mure

Die kleur van ’n babakamer is baie belangrik. Hoewel babas baie van helder kleure hou, moet ’n mens hul kamer liefs nie te vrolik versier nie, veral nie aan die begin nie. ’n Babakamer moet ’n kalmerende invloed op jou baba hê nie. Kies liewer gedempte kleure met min kontras.

Baba-beligting

Hoe skyn die son bedags in die kamer? Is dit te fel? Die gordyn of blinding wat jy kies, asook die plek van die bababed, sal hierdeur beïnvloed word. ’n Nagliggie of ’n lig met ’n doofskakelaar is ook ’n goeie plan. So kan jy jou baba in die donker kom voed sonder om oor iets te struikel én die omgewing kalm hou terwyl hy drink. Oppas vir ’n staanlampie op sy doekruilstasie, want vanuit die posisie waarin jou baba lê as jy sy doek ruil, skyn die lampie dalk direk in sy ogies.

Die beste bababed

Die bababed is sekerlik die belangrikste meubelstuk wat julle vir jul bondeltjie gaan koop. Vergeet eers van voorkoms en funksie – veiligheid is die belangrikste oor- weging.

Hier is ’n paar wenke:

  • Vra na veiligheidskodes (dis die nommers wat met ’n EN begin). Bababeddens met ’n veiligheidskode behoort diep genoeg te wees om te keer dat jou baba later uitklim. Die openinge tussen die sparre moet klein genoeg wees dat jou baba nie daardeur kan val nie.
  • Een van die kante van die bedjie moet verkieslik kan oopmaak (dit skuif gewoonlik op en af) sodat jy jou baba maklik kan in- en uittel. Maak seker die meganisme is van so ’n aard dat ’n ouer kind dit nie sommer sal kan oopmaak nie.
  • Maak seker die bed is met loodvrye verf geverf. Die meeste nuwe beddens sal aan dié vereistes voldoen, maar ’n ou of antieke bed dalk nie.
  • As julle ’n opslaan- of kampbedjie wil koop, maak seker dit het ’n sterk basis en gebruik net ’n matras wat vir die bed aanbeveel word.
  • Speelgoed hoort buite die bababed – selfs sagte speelgoed – want jou baba kan daarin versmoor. Maar as dit dan nou moet, plaas Teddie liewer aan die voetenent van die bed en nie by jou baba se kop nie.

Hou die bed weg van ...

  • Gordyne of blindings, want jou baba kan later albei van dié in die hande kry en verstrengel raak, 
  • Muurverwarmers,
  • Sonnige of koue vensters,
  • Vensters wat kan oopmaak, en
  • spieëls of enigiets wat swaar is en hang en dalk op jou baba kan val.
Is daar plek vir jou?
Die een of ander tyd in jou kindjie se lewe gaan sy wil hê jy moet naby haar slaap, al is dit eers later wanneer jy moet slaapstories lees, as sy in die nag wakker skrik van ’n nare droom of as sy siek is. Maak dus seker daar is plek vir jou ook in die babakamer, hetsy ’n gemaklike stoel (wat veral belangrik is as jy beplan om te borsvoed) of jou eie enkelbed.

Die regte temperatuur

Babas wat heelnag onrustig is, kan te warm of koud kry. Maar hoe weet jy wat die regte temperatuur is?

Volg dié riglyne:

  • Wat reg is vir jou, is meestal ook reg vir babas. Sowat 20 tot 23 °C is die ideaal. Skaf ’n muur- termometer aan as jy seker wil wees.
  • Moenie jou baba te warm aantrek vir slaaptyd nie. Babas kry gou te warm.
  • Maak seker die kamer is goed geventileer, met ander woorde dat dit deur die dag en nag genoeg vars lug kry.
  • Wat van ’n waaier? ’n Waaier kan ’n warm kamer goed afkoel, maar moet dit nie op jou baba laat blaas nie. Onlangse navorsing het gewys dat babas wat in kamers met draaiende waaiers slaap, ’n skraler kans het om aan wiegiedood te sterf. Dit is blykbaar omdat waaiers die lug sirkuleer en dus die risiko van herinaseming baie verminder.
Jou kombers en my matras

Die besluit oor die bed is een ding. Daarna moet jy die regte beddegoed koop.

Maak seker ...

  • Die matras is nuut en nommerpas vir die bed wat julle gekoop het (en onthou om die plastiekomhulsel om die matras te verwyder). Daar behoort nêrens ’n gaatjie of gleuf te wees waar ’n baba-arm, -been of -kop kan inglip en moontlik vassit nie.
  • Dis ’n matras met gate aan die een kant. ’n Babakussing is onnodig.
  • Die matras is ferm.
  • Die beddegoed is dun en van rekkatoen. Gebreide of gehekelde komberse soos dié wat jou ouma maak is wonderlik, want dit hou jou baba warm en sal hom nie laat oorverhit nie. Spesiale baba-slaapsakke is ’n blink plan want babas kan hulself nie dieper daaronder inwikkel en so ’n stuk lap oor die kop kry nie. Jy hoef ook nie die slaapsak uit te trek vir nagvoedings of doekruilsessies nie. Kies ’n slaapsak wat reg is vir jou baba se ouderdom en maak seker dit het nie ’n kappie nie.

Bly weg van ...

  • Sagte beddegoed soos duvets, want dit word met wiegiedood verbind.
  • Waterbeddens, skaapvelkussings, boontjiesakke en ringkussings. Dit is nie geskikte slaapplek vir babas nie.
  • Elektriese komberse.
  • Bababedbeskermers (cot bumpers) help jou baba teen die harde sparre beskerm. Hou in gedagte dat ’n veilige een genoeg strikkies moet hê om dit lekker stewig aan die sparre vas te maak en die bed soos ’n handskoen moet pas. As julle in die somer las van muskiete het, is ’n muskietnet ’n goeie idee. Die soort wat uit die plafon val, werk goed, maar jy kry ook ’n spesiale soort wat op bababeddens gemonteer word.

Monitor haar

Die meeste babakamers het deesdae ’n babamonitor. Dit maak ma’s en pa’s se lewe baie makliker, want jy weet presies wat in daardie bedjie aangaan. Eers was dit net die geluide uit die kamer wat gemonitor is sodat jy duidelik kan hoor as jou baba huil. Nou kry jy ook monitors met ’n kamera wat jou toelaat om jou baba op ’n klein skerm of jou foon dop te hou.

Sensorkussings (wat tussen die bodem van die bababed en die matras geplaas word) laat weer ’n alarm lui wanneer jou baba vir ’n vasgestelde tydperk (meestal sowat 20 sekondes) geen beweging toon nie.