book-icon Uitgawe Junie & Julie 2018

Bind met jou baba

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Nie net weet elke ma daar is krag in ’n drukkie nie, geleerde navorsers het dit ook oor en oor bevind. “Baie studies wys dat wanneer ’n ma onmiddellik ná haar baba se geboorte vel-tot-vel-aanraking met hom het, die baba meer tevrede en kalm is. Sy temperatuur, hart- en asemhalingstempo en sy bloedsuikervlak is meer stabiel as dié van ’n baba wat nie dieselfde aanraking met sy ma het nie,” sê Erica Neser, ’n internasionaal gesertifiseerde laktasiekonsultant, opgeleide voorligter en skrywer van How Babies and Toddlers Really Sleep. Erica verduidelik dit is ’n baba se sensoriese persepsie van sy ma – die bekende klank van haar stem en hartklop, die ritme van haar asemhaling en veral haar reuk, wat hy danksy die vrugwater ken – wat hom verseker dat hy in ’n veilige omgewing is. Dít maak jou baba rustiger en help hom om makliker te stabiliseer. Vel-tot-vel-aanraking reg ná die geboorte laat ’n baba toe om dieselfde “gesinskieme” te kry wat ’n pasgeborene se immuniteit verhoog, verduidelik Hettie Grove, ’n geregistreerde verpleegkundige en vroedvrou van Gauteng. Hierdie gesonde bakterieë wat op jou vel voorkom, help om jou baba later in sy lewe teen ongesonde bakterieë te beskerm. Vel-tot-vel-aanraking is ook goed vir ma’s, sê Hettie. Dit help om die goedvoel-liefdeshormoon oksitosien vry te stel, wat op sy beurt weer jou stres verminder. Studies wys dat ma’s wat onmiddellik ná die geboorte vel-tot-vel-aanraking met hul baba gehad het, ook minder met oorvol borste gesukkel het.

Ma’s of pa’s en hul baba moet in die eerste uur ná die geboorte waar moontlik vel-tot-vel-aanraking geniet. Michelle Walton, ’n doula en terapeutiese refleksoloog van Johannesburg, verduidelik dat die “goue uur” ná geboorte noodsaaklik is omdat pasgeborenes in hierdie tyd nege fases deurloop. “Daarom kan dit wat in die eerste uur gebeur, ’n lewenslange uitwerking op die baba hê,” sê Michelle, wat die onderneming BirthRite bedryf. Die goue uur is boonop goeie nuus vir borsvoeding, sê Hettie. “Jou baba kan voed so gereeld as wat hy wil. Dit verhoog die aantal voedings, wat die melkvoorraad vir later begin regkry.”

Bly in die eerste weke tuis sodat jy op jou baba verlief kan raak, is Hettie se raad. “Dit is waaroor die eerste ses weke gaan. Die idee is dat jy op jou baba verlief raak en uitpluis hoe jou baba jou laat weet hy wil voed, slaap of speel.”

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees