As ouers van ’n baba is daar so baie verskillende dinge waaraan ons aandag moet gee dat om vir baba voor te lees, dikwels agterweë bly. Dis ook nie altyd maklik nie – veral nie as jou baba jonger as ’n jaar is en die boek liewer wil eet as lees nie. Dan kan ’n mens nie help om te wonder of dit regtig die moeite werd is om jou baba so vroeg al aan boeke bekend te stel nie. Moet egter nie moed verloor nie, sê Wilma Tindall, ’n Kaapstadse spesialis in vroeë kinderontwikkeling. Die voordele van stories hoor – selfs op so ’n bloedjong ouderdom – is oneindig.

Boeke en voorlees kan ...

  • Intimiteit skep deur jul nabyheid en die onverdeelde aandag wat jy aan jou kind bestee terwyl julle saamlees.
  • ’n Liefde vir boeke, stories, woorde en klanke by jou kind begin kweek.
  • Met haar taalontwikkeling help. Kinders moet klanke en woorde hoor voor hulle kan leer praat.
  • Nuuskierigheid stimuleer en jou kleinding meer leer oor die wêreld, sy dinge en die mense daarin.
  • Baba se verbeelding aanwakker.
  • Jou kind aan die dink sit oor situasies, emosies en probleme.
  • Jou kind leer om empatie vir ander mense te ontwikkel.
  • Haar op die skool begin voorberei.

As jy vir haar lees, leer sy hoe om ’n boek te hanteer, dat ’n mens van links na regs blaai en dat geskrewe woorde iets beteken wat ontsyfer kan word.

Wanneer ’n baba omtrent agt maande oud is, kan sy reeds vir kort rukkies konsentreer. Dis dan ’n goeie tyd om haar op jou skoot te tel en saam na prentjies te kyk. Jou kleinding kan luister wanneer jy dinge benoem of kortliks kommentaar op ’n prentjie lewer.

“Dit gaan nie regtig op hierdie ouderdom oor ’n storie nie,” verduidelik Wilma. “Die waarde lê meestal in die liefdevolle aandag en jul gelukkige tyd saam, jul nabyheid en jul interaksie met helder, duidelike en eenvoudige prente wat as bekendstelling aan boeke dien. Jou kind leer ook dat jy inligting uit ’n bladsy kan kry.

“Lees is ’n goeie roetine wat jy nou al kan begin. Hou net die sessies kort en prettig,” is Wilma se raad. As jou baba jonger as agt maande is en jy is ywerig om vir haar te begin lees, stel Wilma voor dat jy boekies lees oor dinge in jul daaglikse omgewing wat jy kan uitwys en benoem, soos speelgoed, bekertjies, borde, klere en selfs mense se gesigte en troeteldiere. “Namate jou kind ouer word, kan jy ’n kort sinnetjie oor elke voorwerp byvoeg om haar taalontwikkeling aan te help,” sê sy. “Kinders geniet die klanke, en is ook gek oor aksierympies.”

Wat om te lees

Moenie dink dat jy arms vol boeke moet gaan koop om ’n boekwurm groot te maak nie. Jy kan vir klein kinders sommer hul eie materiaal skep.

“Maak ’n boek met tydskrifprente of foto’s,” is die raad van Wilma Tindall, ’n Kaapse ontwikkelingspesialis.

“So kan jy seker maak dat die boek prente bevat van dinge wat in jou kind se omgewing sigbaar is.”

Boekies vir babas onder een

• Boekies van dik karton gemaak.

• Lap- en plastiekboekies.

• Boeke met verskillende teksture en selfs geure.

• Boeke met prentjies wat groot, helder en baie eenvoudig is sonder te veel detail en aanvanklik met baie min teks.

• Fotoalbums van jou kind, familielede en jul aktiwiteite.