Boekies vir babas

akkreditasie
Dis nooit te vroeg om vir 'n baba te begin lees nie - dan sal hy nie anders kan as om eendag 'n boekwurm te wees nie.

My dogtertjie noem my ’n “neukenaarskrywer en grootprater”.

Met ’n ma wat so ’n twyfelagtige reputasie vir storietjies maak het, het sy en haar twee medespruite seker nie ’n keuse nie: Hulle moet maar van boeke hou. Ten minste verseker dit ook lekker laaaang skoottyd.

Daardie styf-styf nestel teen mamma se warm bors terwyl ’n mens boonop na prentjies kan kyk, is waarskynlik die rede waarom my tweejarige nou stil-stil kan verdwyn en soek jy hom, is hy pens en pootjies op sy bed – boek in die hand kliphard besig om storietjies te maak.

Dit was nie altyd so nie. Hy was ’n bedrywige klein klits wat op ’n jaar oud veel eerder die hele biblioteek se boeke een vir een soos domino’s uit die rakke sou laat kantel as om vir storietyd stil te sit. Tot op 18 maande kon ek hom steeds nie sover kry om ’n kartonboekie met net 10 bladsye van voor tot agter deur te blaai nie.

Dit het my bekommer. My ander twee is al met woorde gevoer voor hulle vaste kos kon bemeester. Die oomblik toe daardie nekkie styf geword het, het ek vir hulle prentjies gewys en goeters vertel, hoofsaaklik omdat ek nie een van daardie ma’s is wat sommer oor enigiets kan babbel nie. Ek kan nie iets sê as ek nie weet waaroor om te praat nie.

Maar met ’n boek in die hand kon ons rustig saam op ’n wiegstoel sit. Stilstaan by ’n bladsy as iets my baba interesseer, omblaai as hy of sy wil en sommer net saam die prentjies of rympies geniet.

Prente en teksture was die kruk wat ek gebruik om my eie kommunikasiestruikelblokke te oorkom, met ’n wese wat nie in taal kan terugpraat nie en aan wie se nie-verbale terugvoer ek nog gewoond moes raak.

Boeke is ’n manier waarop ek maklik twee van my eie vreugdes met my babas kon deel: lees en sit. Om te kan sit is mos ’n skaars plesiertjie vir ’n nuwe mamma.

En as my babadogtertjie Simonne die boek eerder wou lek as blaai, dan was dit wonderlik, want ek sit steeds – en dan kan ons sommer wieg ook.

En as my babaseuntjie Matieu weier om om te blaai wanneer hy die brandweerwa sien en ek 330 keer die brandweerliedjie oor en oor moet sing en weer moet wys waar die leer is, waar die brandweerslang, waar die wiele en nog meer, dan is dit ook reg so, want ons sit! Ons ontspan saam.

Maar toe kom Reynier. En van sit is daar geen sprake nie. Nee, ons hardloop. Om die porselein te red, om vir die soveelste keer al die legoblokkies op te tel, om die kombuiskaste vir ’n derde keer die week reg te pak.

Ek het aangehou om vir die ander kinders te lees wanneer hy in die nabyheid was en hom met sy eie dinge besig gehou het. Ek het gewonder of die dag ooit sou aanbreek dat hy hom by ons sou aansluit.

Hy was 18 maande toe hy die eerste keer met ’n boek in die hand na my toe gestap het. Sy opdrag was: “Lees!”. Ek wou omval van verbasing, maar so het ons gemaak en nooit ooit weer teruggekyk nie.

Thea Müller, ’n lees- en spelterapeut van die leesterapie-groep Read for Africa, glo jy moet ’n kind in die baarmoeder al aan taalritme en -klanke bekendstel – dis waar ’n liefde vir taal begin.

“Maar moet jou kind nooit dwing om te lees nie. Leestyd vir babas moet eerder koestertyd as lees as sodanig wees,” maan Thea. “As ’n baba lees as ’n plig of straf ervaar, as iets wat hy glad nie wil doen nie, gaan hy later ’n weersin in boeke en woorde ontwikkel.”

Vir Thea is lees veel meer as woorde of prente op ’n bladsy. “Boeke moet ’n avontuur saam met mamma en pappa wees. Babas moet vry voel om daardie boek te proe, voel, ruik, selfs te hoor. “As jou baba stilsit met leestyd, is hy gereed vir die ervaring. As hy nie wil stilsit nie, moet julle op ’n ander manier met boeke en stories omgaan, sodat dit vir hom pret word.”

Moet jou aapstert ook nie dwing om te lees as sy iets anders wil doen nie, skryf Miemie du Plessis, kinderboekuitgewer by Lapa Uitgewers, op www.storiewerfco.za.

“Vir ten minste die eerste jaar sal jou baba waarskynlik die boek gryp, skud, kou en die bladsye so vinnig as moontlik omblaai. “Dit beteken egter nie dat jy besig is om jou tyd te mors deur vir jou baba te lees nie. Jou baba word gefassineer deur haar eie behendigheid en toets dit uit waar en wanneer sy kan.

“As sy vir ’n rukkie by ’n bladsy vertoef, hoef jy nie die presiese teks te lees nie. Jy kan bloot sê: ‘O, wat ’n pragtige blom is dit nie!’ Geleidelik sal sy begin om die boek bladsy vir bladsy te bestudeer en op ’n dag sal sy na die blom in die illustrasie wys en sê: ‘Blom!’

Doen dit so

  • Babas kan heel eerste lig, donker en die kleur rooi onderskei en daar is bababoeke wat patrone in net swart, wit en rooi het. Dié prente vorm dan al patroonreekse in baba se brein, hoewel hy dit natuurlik nog nie kan interpreteer nie.
  • Die oomblik wanneer babas teen so ses maande oud self goed kan begin vashou, kan jy vir hulle ’n stewige kartonboek gee om deur te blaai. Die fyn motoriese en sintuiglike ervaring van blaai gaan dalk vir jou baba belangriker as die inhoud van die boek wees. Dit maak nie saak nie. Alles maak deel uit van die proses van verwondering.
  • Storietyd moet in die eerste plek ’n warm, koesterende ervaring saam met mamma of pappa wees. Dit moet gaan oor die troos, die liefde, die nabyheid – die boek is eintlik ’n bysaak.
  • Lees of boekiebelangstelling moet nooit ’n kompetisie tussen ouers word nie. Moenie mylpale najaag nie; jy doen jou kind geen guns nie. Boeke moet vir jou kind plesier verskaf.

Alles op hul tyd

’n Mens hoef net na Thea se eie negejarige tweeling te kyk om te sien hoe verskillend kinders in dieselfde gesin woorde en lees kan benader. Sy’t vir albei uit Dr. Seuss-boekies voorgelees toe hulle nog in die baarmoeder was. Sy’t dieselfde lap-, karton- en sponsboeke vir albei in hulle eerste maande deurgeblaai.

Op twee kon Amir al hoofletters herken en uitwys – op die stoof, teen ’n winkelvenster of waar hy dit ook al oplet. Carni het geen teken getoon dat sy belangstel nie. In graad 1 het Carni saam met die ander kinders begin lees.

Toe sy egter die wonder van lees begin ontdek, het sy haar boetie vinnig verbygesteek en baie dikker en moeiliker boeke in Afrikaans sowel as Engels begin aanpak. Teen die einde van graad 1 het sy so ’n waagmoed ontwikkel dat sy daarop aangedring het om self haar ma se eksemplaar van die Australiese roman Shantaram deur Gregory David Roberts te lees – ’n vreeslike dik boek met fyn skrif en geen prentjies nie. Dit het haar nie afgeskrik nie.

Thea het natuurlik ’n stokkie daarvoor gesteek omdat die inhoud nie geskik sou wees nie, maar haar toe Lotta se lewe deur Alice Pantermuller en Enid Blyton se The magic faraway tree in die hand gestop. Sy het dit verslind. Thea glo wat sy reg gedoen het, was om Carni op ’n prettige manier aan boeke bloot te stel sonder om ooit druk op haar te plaas.

“My kinders se slaaptydstories was vir hulle soos ’n slaapkruk – hulle kon nie daarsonder nie, soos ander kinders nie sonder ’n fopspeen of ’n trooskombersie aan die slaap kan raak nie. Vandag is hulle albei lief vir lees.”

Nog raad

  • Praat duidelik en stadig.
  • Jy hoef nie elke woord in elke storie te lees nie – laat jou baba toe om die pas te bepaal en om te blaai wanneer hy wil.
  • Lees met geesdrif en wees self opgewonde oor wat jy jou baba vertel – jou geesdrif is aansteeklik. Babas leer deur voorbeeld – as jý dit geniet, moet dit mos iets wees waarvan hy ook behoort te hou.
  • Dramatiseer waar jy kan, en gebruik jou lyf! Maak die stories aksiebelaai.
  • Hou jou leessessies kort; ’n paar minute op ’n dag is genoeg.
  • Verpersoonlik die storie deur jou kind se naam vir die hoofkarakter te gebruik – hy gaan dadelik daarmee assosieer.

Boeke vir babas

In my huis het die volgende boeke die grootste aftrek gekry:
Geboorte tot nege maande:

  • Lapboekies
  • Sponsbadboekies wat kan piep
  • Prenteboeke soos Lapa se Eerste 100 woorde of Eerste 100 diere. Hierdie boeke het aanvanklik in groot blokformaat uitgekom waarin die prente helder en groot is. Ek het egter gevind dat die kleinerformaat-weergawes baie makliker is om te hanteer. Jy kry selfs prenteboekies wat so groot soos ’n baba se hand is – dis ideaal! Dit lyk aanvanklik duur, maar dis die moeite werd om daarin te belê.
  • Tweestuk-legkaartboekies soos Mamma en baba: plaas (Lapa). Dis ook lekker om aan die fluweeltekstuur te raak.
  • Ander tekstuurboekies wat van vere, leer, spons en growwe oppervlakke gebruik maak.
  • Klankboekies waar knoppies gedruk word sodat ’n mens geluide kan hoor, soos Dit raas op die plaas (Human & Rousseau).
  • Enige boekie uit Eric Hill se Otto-reeks (Human & Rousseau).
  • Hoe meer interaktief en sintuiglik die ervaring is, hoe lekkerder vir jou baba. Hou dit egter nog eenvoudig.

Boeke vir peuters

Van nege maande tot twee jaar en ouer:

Ek het gevind dat jy maar met die stories kan laat waai die oomblik dat jy agterkom dat boeke jou kind fassineer. Moenie bang wees vir groot woorde nie, maar as jy sien jy verloor jou baba, vereenvoudig gerus. Jy hoef nie woord vir woord te lees nie.

  • Moeder Gans se rympies en stories (Human & Rousseau) vertaal deur Philip de Vos is ’n móét.
  • Karnallies deur Antje Damm (Protea) is ’n kartonboekie waarmee jou kind baie maklik aansluiting sal vind. Verrassend akkuraat en prettig.
  • Guido van Genechten se Mag ek in jou doek loer (Human & Rousseau) is ’n wenner wanneer dit tyd word vir potjielesse.
  • Babalela deur Martie Preller (Lapa) behoort enige nuwe ma se eerste storie-aankoop te wees. My kinders was so mal oor die rym en die ritme dat hulle die storie op 18 maande al kon memoriseer en “saamlees”.
  • Bybelstories-opwipboek (Fantasi) het die mooiste opwipprente.
  • Die Moemin-reeks deur Tove Jansson (Human & Rousseau) is groot gunstelinge. Die opwip-boek het Matieu op 17 maande deur drie dae in die hospitaal gehelp toe ons niks anders by ons gehad het nie.
  • Enige boek wat deur Charles Fuge geïllustreer is, is betowerend, soos Partykeer wil ek styf opkrul, of Dis wonderlik wanneer jy glimlag (albei Lapa).
  • Die Muisboot deur Paddy Bouwma (Protea).
  • Só lief is ek net vir jou deur Jutta Langreuter en Stefanie Dahle (Human & Rousseau)
  • Kerneels die Kat deur Gry Kappel Jensen (Protea)
  • Leah se Meermin deur Nanette van Rooyen en Magdel van Zyl (Lapa)
  • Kardoesie deur Pawel Pawlak, vertaal deur Jaco Jacobs (Lapa)
  • Human & Rousseau se dinosourus-reeks: Daar’s ’n diplodokus by die deur, Daar’s ’n stegosourus in die storie, Daar’s ’n trikeratops op die trampolien en Daar’s ’n T-rex in die tuin.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees