book-icon Uitgawe Februarie & Maart 2018

Borsvoed deur dik & dun

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Refluks, ’n koliekbaba of hospitalisering is alles situasies wat borsvoeding kan kompliseer. Almal sê dalk: “Hou op borsvoed”, en dalk het jy ook al gedink dat dit ’n logiese en makliker oplossing is. Maar jy hoef dit nie te doen nie – selfs al is die omstandighede hoe moeilik, kan jy jou baba steeds die beste gee.

Of dit nou stille refluks of reflukssiekte is, die suurinhoud wat in jou baba se slukderm opstoot kan haar goed ongelukkig maak. Borsmelk bly egter steeds die beste vir ’n baba met refluks. Dit word vinnig en maklik verteer en verlaat die maag dus gou, wat die kans verminder dat die melk opstoot. Borsmelkvervangers vir refluksbabas help dalk dat daar minder melk gespoeg word, maar dit stoot steeds in die slukderm op en bly ook langer daar omdat dit dik is. Die gevolg: brandpyn. Borsmelkvervangers word ook moeiliker verteer, bly langer in die maag en vloei meer gereeld as borsmelk terug. Daar is twee soorte refluksbaba. Een wil aanhoudend drink omdat die melk en suigaksie hul ongemak verlig. Voed hulle twee tot drie uur lank uit net een bors voor jy borste ruil. As jou tepels van die lang voedings seer word, kan jy agterna ’n bietjie borsmelk daaraan smeer en dit droog laat word. ’n Paar minute sonblootstelling is ook goed. ’n Fopspeen kan ook help, maar kan borsmelkproduksie belemmer en veroorsaak dat jou baba swak gewig aansit as jy dit te veel gebruik. Die tweede soort refluksbaba vermy voedings omdat hulle melk met pyn verbind. Kies ’n plek sonder steurnisse of probeer voed terwyl julle twee in die bad is. Dit kan ook help om te voed wanneer sy vaak is. Vermy ’n fopspeen. Die hoeveelheid melk wat babas spoeg lyk dikwels meer as wat dit regtig is. Refluks verdwyn meestal heeltemal teen omtrent ses maande oud. Byt vas en voor jy weet, is dit iets van die verlede.

Die meeste hospitale laat borsvoedende ma’s toe om saam met hul baba in die hospitaal te oornag. Jy sal waarskynlik in ’n groot stoel moet slaap, maar jy sal by jou baba kan wees en steeds op aanvraag kan borsvoed. Sommige hospitale stuur ma’s snags huis toe as hulle nie borsvoed nie. As jou baba geopereer word en ’n paar uur voor die tyd nie mag drink nie, is dit beter as jy nie daar is nie en ’n ander familielid by jou baba bly. Jou baba sal nie kan verstaan hoekom jy haar nie voed nie en dit sal vir julle albei baie moeilik wees. Jy kan terugkeer sodra jou baba weer mag borsvoed. Soms kan ’n baba ná ’n operasie of groot prosedure vir ’n ruk nie borsvoed nie. Hou dan aan uitmelk tot sy weer aan jou kan drink.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees