Jou lyf is darem maar ’n wonderlike ding. Gedurende jou swangerskap begin jou borste al verander namate jou liggaam hom voorberei om vir jou nuwe baba te sorg. En wanneer jou baba gebore word, is daar twee hoofhormone – prolaktien en oksitosien – wat sorg dat jy meer as genoeg melk het. Hierdie hormone beïnvloed melkproduksie en -afskeiding. Albei word deur die pituïtêre klier of hipofise vervaardig. Dié klier sit aan die onderkant van die skedel en is so groot soos ’n ertjie. Die voorste lob van die hipofise stel prolaktien in die bloedstroom vry en die agterste lob oksitosien. Prolaktien is die hormoon wat aanvanklik die melkkliere stimuleer om borsmelk te maak. Jou melkvlak wissel deur die dag en tydens voedings: In die aande en wanneer jy rus, is dit baie hoër en teen laatmiddag het jy gewoonlik die minste melk. Oksitosien verhoog die bloedtoevoer na die borste en laat die spiere om die melkkliere saamtrek om die melk in die buise te dwing. Met ’n voeding styg en val die oksitosienvlak in ooreenstemming met die uitpomp van melk. Dié proses noem ons die sakrefleks. Dis die einste sakrefleks wat al vir menige verleentheid gesorg het omdat dit kan veroorsaak dat melk uit jou bors begin drup of selfs spuit wanneer jy jou baba hoor huil of wanneer voedingstyd nader kom. Oksitosien, wat soms die nesskrop-hormoon genoem word, kan jou ook lomerig en ontspanne laat voel.

Meer melk vir baba

Hoe meer jou baba aan die bors drink, hoe meer melk maak jou lyf. Daarom is die beste behandeling vir te min melk juis om jou baba meer gereeld aan jou borste te laat drink. Hou in gedagte dat jou baba se vraag na melk gaan verander namate hy groei en ontwikkel. Dit gebeur dikwels teen 10 dae, drie weke, ses weke, drie maande en ses maande oud, want dis wanneer hy ’n groeiversnelling beleef. Eenvoudig gestel het die hoeveelheid melk wat jou bors maak, baie met vraag en aanbod te doen. ’n Ma van ’n tweeling sal byvoorbeeld dubbel die hoeveelheid melk kan maak as ’n ma met net een baba. Volgens navorsing kan jy met elke sakrefleks omtrent 35 ml borsmelk vrystel en kan jy in een voeding vier sulke sakreflekse hê. Baie vroue voel egter net die eerste sakrefleks, wat die tipiese krieweling in die bors is. Dis soms effens ongemaklik, maar gelukkig duur dit nie te lank nie.

Struikelblokke & oplossings

1. Dis seer as sy vassuig

Dit is normaal dat jou tepels aanvanklik seer is wanneer jou baba vassuig, maar die pyn is nie veronderstel om langer as ’n minuut te duur nie. Beproef die volgende om te sorg dat jou baba behoorlik vassuig:

  • Sorg dat jy gemaklik sit of lê en bring jou baba na jou lyf toe – moenie afbuk na jou baba op jou skoot om te borsvoed nie.
  • Jou baba suig goed vas as haar ken en neus teen jou bors druk, die onderlip uitgekrul en die tepel en areola in haar mond is.
  • Jou baba drink goed as haar wangetjies effens ingetrek is, daar beweging om haar slape is en jy kan hoor hoe sy sluk.

2. Gebarste of seer tepels

Teer tepels is normaal, maar seer tepels nie. Gebarste of seer tepels ontstaan gewoonlik omdat baba verkeerd vassuig. Borsvoeding behoort nooit seer te wees nie. Jou baba moet op die regte manier aan die bors begin suig om ’n goeie suigrefleks aan die gang te kry. Voorkom seer tepels so:

  • Sorg dat jou baba na jou bors kyk, dus met sy lyf teenaan joune is en hy nie op sy ruggie met sy gesig na die bors gedraai lê nie.
  • Moenie wegbeur as dit teer is nie. Dit laat die tepel uit sy mond glip sodat hy net aan die puntjie suig, wat die probleem vererger. Jou hele areola moet in jou baba se mond wees. Byt net vas, want ná ’n paar minute behoort die pyn minder te word.
  • Gebruik ’n goeie tepelroom, maar wend dit spaarsamig aan. As jy te veel gebruik maak jy die tepel sagter en meer geneig om te bars.
  • Gee die tepels ook tussen voedings lug en laat borsmelk op die tepel droog word.

3. Stuwing

Soms word jou borste so vol, geswel en hard dat baba dit nie regkry om vas te suig nie. Stuwing kom voor as daar feitlik geen vloei uit die borste is nie, geen melk lek nie en die vel blink en gespan is. Daar is ook dikwels knoppe onder die vel, die oksels is besonder pynlik, die bors is seer met aanraking en jy kan warm, sweterig en bewerig voel. Hier is raad vir vol borste:

  • Pak ná ’n voeding koolblare wat in die yskas gebêre is op die bors en hou dit daar tot die volgende voeding.
  • Staan in ’n warm stort terwyl jy jou borste masseer om vloei te stimuleer en die areola sag te maak sodat baba goed kan vassuig.
  • As daar steeds nie genoeg melkvloei is nie, klop by ’n fisioterapeut aan wat jou borste met ultraklank kan behandel. Hierdie behandeling is heeltemal pynloos en baie doeltreffend.

4. Mastitis

Dit begin gewoonlik as ’n pynlike plek op een deel van die bors. Dit kan rooi en warm wees wanneer jy dit aanraak en sal baie seer wees. Skielike griepsimptome loop gewoonlik die teerheid van die bors vooruit. Dit sluit in koors, koue rillings en ’n seer lyf, naarheid en braking. Mastitis kan baie ernstig word as dit nie vinnig behandel word nie omdat dit ’n abses in die bors kan veroorsaak. Die enigste manier om mastitis te behandel, is met antibiotika. Dis veilig om jou baba uit die aangetaste bors te voed en dit sal ook help om jou mastitis te behandel. Jou kleinding kan wel weier om die melk uit die aangetaste bors te drink omdat die infeksie dit anders laat smaak. As baba heeltemal weier om die bors te neem, moet jy met ’n borspomp uitmelk.

5. Borste wat lek

Sommige vroue het ’n sterker sakrefleks as ander en daarom sal hul borste makliker lek of selfs spuit. Wanneer borste lek is dit meestal die dunner voormelk wat uitkom en hou dit geen gevaar of probleem in nie behalwe dat dit morsig is. Hou altyd borsdoekies byderhand as jou borste geneig is om te lek.