Borsvoeding & seks

akkreditasie
Het jul sekslewe by die agterdeur uitgesluip toe julle jul bondeltjie vreugde by die voordeur indra? Blameer julle borsvoeding?

Is daar seks ná geboorte?

Niks kan ’n mens voorberei op die werklikheid van die lewe met ’n nuwe baba nie. Die eerste weke is dol, ongeag of jy borsvoed of bottelvoed. Die meeste nuwe ouers voel of hul net-net oorleef.

Slaapontneming is ’n passiedoder en wanneer baba eindelik insluimer, haal julle net verlore slaap in. Babasorg is ’n 24/7-taak en julletyd iets van die verlede. Jou liggaam moet boonop ná die geboorte herstel, veral as jy ’n perineale skeur, episiotomie of keisersnee gehad het.

Emosionele faktore speel ook ’n rol. Wipplankemosies weens hormoonskommelinge is algemeen. Soms is moederliefde aanvanklik so allesoorweldigend dat ’n vrou haar maat afskeep.

Ma’s is ook óp gevoel. Jou klein mensie is heeldag in jou persoonlike ruimte – teen slaaptyd wil jy asseblief net jou lyf vir jouself hê. Toenadering deur jou maat is net nóg een van die nimmereindigende liggaamlike eise wat jou energie tap.

Verlaag borsvoeding jou libido?

Omdat navorsingstudies gemengde resultate oplewer, het ons gaan kers opsteek by ma’s op die borsvoedorganisasie La Leche League se Facebook-blad. Die meerderheid voel inderdaad minder amoreus, hoewel dit vanselfsprekend ook ’n gevolg van vroeë moederskap kan wees. “Borsvoedingshormone kan jou libido onderdruk,” meen Veronica.

“Albei ouers moet oopkop bly en kompromieë aangaan. Ek moet darem byvoeg dat niks meer sexy is as ’n man wat borsvoeding heelhartig ten koste van homself ondersteun nie.”

“My lewensmaat wil teen die mure uitklim,” vertel Petro. “Die arme man is totaal ontneem van erotiese aandag en voel of hy gestraf word. Die tweeling dreineer my. Ek borsvoed én melk uit en wil nie hê nóg iemand moet aan my oorwerkte borste raak nie. Saans wil ek op die bed neerval en ’n uiltjie knip voor ek die deurnag-restaurant heropen.

My fantasieë? Slaap. ’n Lang bad. Om rustig ’n koppie tee te drink. Seks is nommer 999 op my prioriteitslys. Die boonste items is: Bly wakker, voed die babas, ruil doeke, maak aandete, trek self aan …”

Colleen se baba is nege maande oud en haar libido is steeds soek. “My maat aanvaar dit brom-brom, maar besef borsvoeding is my keuse en die beste vir ons kleinding.”

Is daar goeie nuus?

Ja, borsvoedingshormone kan jou libido ’n hupstoot gee. Oksitosien (die sogenaamde liefdeshormoon) en prolaktien (die moederskapshormoon) skep ’n gevoel van welbehae wat na jou liefdeslewe kan oorspoel. Moederskap is die hoogtepunt van vroulikheid – dis moontlik dat jy begeerliker as ooit voel.

Wanneer seks seermaak

Jou estrogeenvlak is laag terwyl jy borsvoed, en dit kan vaginale droogheid en ongemak meebring. Catharina, ook op die Facebook-blad, het geweldig daarmee gesukkel. “Ek het vyf maande lank van die pyn gehuil wanneer ons liefde gemaak – of selfs net daaroor gepraat – het.

Dit was só frustrerend. Borsvoeding het my behoefte verhoog, tog wou my lyf nie saamspeel nie. Nadat ons elke smeermiddel op die mark probeer het, het ’n vriendin kokosneutolie voorgestel. Dié keer was my trane van vreugde. Wees net versigtig; dit kan kondome beskadig.”

Pynlike seks begin ’n bose kringloop: Hoe banger jy is, hoe groter die kans dat jou vaginale wande saamtrek en verdere ongemak veroorsaak. Wag dus liefs tot jy volkome herstel het en jou dokter intimiteit die groen lig gee. Smeermiddels en genoeg voorspel is noodsaaklik.

Jou dokter kan ’n estrogeenroom of setpil voorskryf. In hierdie vorm onderdruk estrogeen nie melkproduksie nie. Beproef die eerste paar kere posisies waarin jy die diepte van penetrasie beheer sodat jy seks nie met pyn verbind nie.

Jou borste: Pappa se speelgoed of baba se kos?

Moeder Natuur het borste ontwerp om ons babas te soog, maar in die moderne samelewing is dié liggaamsdele eerder seksvoorwerpe. Borsvoeding in die openbaar is omstrede. Vir sommige vroue is die verband met seks so sterk dat hulle bottelvoeding verkies.

Ander borsvoed, maar beskou hul borste as verbode terrein omdat erotiese liefkosings hulle liggaamlik of emosioneel ongemaklik maak. Soms kom die taboe van pa se kant.

“Ná ons eerste kind se geboorte was my man doodbang om aan my borste te raak,” onthou Pamela. “Daar het ’n onsigbare geen-toegang-bordjie gehang. Hy was soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel toe ek ons kleinding speen.

Tog was hy ongelooik ondersteunend toe ons tweede met ’n noodkeiser met algemene narkose gebore is. Hy het baba vel-tot-vel vasgehou en in die herstelkamer aan my bors gesit. Ek het ’n foto daarvan – dis dierbaar!”

Soos swangerskap en geboorte kan laktasie jou anders oor jou vroulikheid laat dink.

“Ek het gestoei met die onderskeid: Is my borste funksioneel of seksueel?” vertel Inez. “Is dit oukei om baba te voed met dieselfde liggaamsdele wat my en my maat seksueel stimuleer? Wil ek hê hy moet my borste liefkoos terwyl dit die baba se voedingsbron is? Al hierdie vrae het my aandag afgelei tydens seks.

“Ses maande later het ek dinge deurgewerk. Dit help dat my kleintjie goed slaap en borsvoeding my libido prikkel. Gelukkige manlief!”

Oksitosien en orgasme

Wanneer jou baba drink, stel jou brein oksitosien vry. Dit skop jou sakreeks aan die gang en die spierselle om jou alveoli (melkblasies) trek saam en stort borsmelk in jou melkbuise. Oksitosien word ook tydens ’n orgasme vrygestel.

Dit kan ’n nat spulletjie afgee, hou dus maar jou bra aan of ’n handdoek byderhand. Voed baba vroegtydig indien julle planne vir die aand het.

“Ek sal nooit die poel melk onder my vergeet nie,” sê Marian. “Niemand het gewaarsku dat ek sou lek tydens ’n orgasme nie. Toe die ergste skrik oorwaai, het ek en manlief byna die baba wakker gelag.”

Baba se sesde sintuig

In die eerste paar weke is dit asof ’n baba ’n telepatiese band met sy ma het. Sodra jy sterk emosies soos begeerte ervaar, is hy wakker. Sonika kan hiervan getuig:

“Ons het daardie tipiese ervaring gehad wat ’n mens in ieks sien: Net toe ons lekker opgewerk raak, huil boeta vir melkies. ’n Sin vir humor is belangrik – oor jul skreeuende baba of jou druppende borste."

Gee jul liefdeslewe weer woema

Dr. Elmari Craig Mulder, ’n kliniese seksuoloog van Pretoria, gee raad aan nuwe ouers.

1. Gun jouself ’n blaaskans. Jul lewe het pas onherroeplik verander – moenie skuldig of bekommerd voel as seks die laaste ding in jou of jou maat se gedagtes is nie. Nuwe ma’s kan vind dat borsvoeding, die aanpassing by ’n nuwe roetine en moontlike seksuele druk hul seksdrang knou.

2. Dit is normaal. Ná swangerskap duur dit ’n geruime tyd voor jou hormone stabiliseer en jy gemaklik in jou vel voel. Respekteer mekaar se behoeftes en fokus op sensuele eerder as seksuele intimiteit. Hou mekaar vas of vryf jou maat se rug en voete.

3. Beplan vir seks. Dink vooruit en bestuur jul tyd sinvol. Afwagting kan net so stimulerend wees as spontaneïteit. Kry soms ’n babaoppasser of werk rondom baba se behoeftes.

4. Kry hulp. Aanvaar familie en vriende se bystand. Oorweeg meer wegneemetes, stel ’n huishulp aan, betaal rekeninge oor die internet. Só spaar julle ure en energie en skep julle meer saamweestyd.

5. Respekteer jul gesondheid. ’n Gesonde leefstyl help jou liggaam herstel. Eet gesond en kry matige oefening. Gaan stap as gesin om die blok. Slaap wanneer baba slaap.

6. Ontspan en wees goed vir jouself en jou maat. Jy besef dalk nie hoe gespanne jy of jou maat is tot julle doelbewus probeer ontspan nie.

7. Wees geduldig. ’n Vrou se liggaam keer nie onmiddellik ná kindergeboorte terug na normaal nie.

Vaginale penetrasie kan tydelik ongemaklik en selfs pynlik wees. Beëindig die seksdaad dadelik as dit seer is. ’n Goeie silikonbasissmeermiddel is dikwels al wat nodig is.

Voorbehoeding

Moenie in die eerste ses weke hormonale voorbehoedmiddels gebruik nie; dit kan jou melkvoorraad beïnvloed. Daarna is ’n progesteroonmiddel gewoonlik veilig. Vermy voorbehoedmiddels met estrogeen – dit onderdruk melkproduksie.

Kan ek swanger raak?

Borsvoeding alleen bied meer as 98 persent beskerming teen swangerskap indien:

  • Jou baba jonger as ses maande is;
  • Jy nog nie weer begin menstrueer het nie;
  • Baba al sy suigwerk aan die bors doen en geen byvoedings of vaste kos kry nie.

Sodra een van dié faktore verander, is dit tyd om ’n ander vorm van gesinsbeplanning te oorweeg.

Onthou ook

  • Praat met mekaar. Wanneer seks laag op jou prioriteitslys is, kan jou maat seergemaak en verward voel. Jy, daarenteen, is gedaan en selfs wrokkig oor die ekstra druk wat hy op jou plaas. Deel jul gevoelens voor bitterheid jul verhouding vertroebel.
  • Maak ’n “afspraakaand” ’n weeklikse instelling, al kom julle aanvanklik nie sover om liefde te maak nie. As jy nog nie gereed voel om baba by ’n oppasser te los nie, kan julle hom saamneem na ’n fliek of eetplek. ’n Kersligete of DVD-aand tuis is ewe romanties.

'n Woordjie aan pa's

  • Tydens swangerskap is die meeste pa’s opgewonde oor die voordele van borsvoeding. Sodra hulle met die werklikheid gekonfronteer word, is jaloesie algemeen. Dis moeilik om skielik jou geliefde se aandag en liggaam te deel. Jy kan uitgesluit voel omdat jy nie die “toerusting” het om baba te troos of voed nie.
  • Wees geduldig en behou perspektief. Borsvoeding duur nie vir ewig nie, al voel dit nou so. Ná die eerste twee weke is dit geriefliker – en minder tydrowend – as bottelvoeding en kry ouers meer slaap. Jy kan dalk nie dadelik met voedings help nie, maar daar is soveel ander maniere waarop jy en baba kan bind. Ná ses weke kan mamma soms uitmelk sodat jy kan bottelvoed.
  • Borsvoedende ma’s het net so gou en so gereeld ná geboorte seks as dié wat bottelvoed. Ondersteun jou maat, moet haar nooit laat voel sy moet tussen jou en jul baba se behoeftes kies nie. Hulp met baba en die huishouding is die beste vorm van voorspel.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees