Die algemeenste oorsaak van luieruitslag of brandboudjies is te lang blootstelling aan ’n nat of vuil doek, sodat die urine en stoelgang baba se sensitiewe velletjie begin irriteer en die natuurlike beskermende lagie van die vel afbreek. Nat, warm boudjies is die ideale teelaarde vir bakterieë.

Maar voor jy begin skuldig voel, onthou dat sommige babas se vel meer sensitief vir sulke irritasies as ander is en ná die geringste blootstelling kan reageer, al het jy baba se doek hoe gereeld geruil. Diarree kan ook ’n rol speel – een studie het gewys diarree speel ’n rol in 70 tot 80 persent van luieruitslag-gevalle.

Voorkoming

Voorkoming is die beste geneesmiddel, sê die slim mense, en dit geld ook vir luieruitslag. Hier is ’n paar slim wenke om brandboudjies te voorkom.

  • Begin in die laaste maand van jou swangerskap ’n goeie probiotikum drink. Probiotika bevorder die natuurlike bakterie-balans van die liggaam en help om diarree en dus die gepaardgaande risiko vir brandboudjies te voorkom. Dit kan ook help om swaminfeksies soos sproei te keer. Babas wat vaginaal gebore word, kry probiotika in die geboortekanaal, maar keiserbabas nie. As jy ’n keisersnee gehad het, is dit dus ’n goeie idee om so gou moontlik vir jou baba probiotika te gee deur hom dadelik aan die bors te sit en miskien ook ekstra probiotika te gee.
  • Belê in goeie, absorberende doeke wat jou baba se boudjies deurentyd droog hou en ruil baba se doeke gereeld.
  • Was baba se boudjies met elke doekruiling deeglik. As jy sien dat vogdoekies jou baba se vel irriteer, kan jy dit met ’n waslap of watte met water vervang. As jy wel gekoopte afveelappies verkies, moet jy seker maak dit bevat geen geurmiddels wat baba se vel kan ontstel nie.
  • Maak seker jy droog baba se boudjies deeglik af nadat jy dit gewas het, veral in die velvoutjies.
  • Gebruik met elke doekruiling ’n goeie skermroom wat nattigheid van die vel af weghou. By sommige babas werk gewone ongegeurde petroleumjellie goed.

Maak dit beter

Soms is selfs nie eens die beste voorsorgmaatreëls genoeg nie. Luieruitslag kan sowel jou kleinding se boudjies as die geslagsdele aantas, en die pyn kan hom huilerig en knieserig maak.

Voor jy jou aapstert se brandboudjies reg kan behandel, moet jy kan onderskei tussen die verskillende soorte brandboudjies sodat jy die regte medikasie kies. So nie, is dit die moeite werd om in ’n goeie mengsel te belê. Jy kan jou apteker vra om dit vir jou te meng.

1. Irritasie van vel

Met gewone luieruitslag is die vel gewoonlik effens rooierig en geïrriteerd. Dis baie belangrik om dadelik werk daarvan te maak al is dit hoe gering, aangesien die beskadigde vel kwesbaar is vir swam- en bakteriese infeksies wat die luieruitslag kan vererger.

Behandeling:

Behandeling Ruil baba se doeke meer gereeld as gewoonlik. Nat weggooidoeke moet elke twee uur geruil word en vuiles dadelik. Maak jou baba se boudjies met elke doekruiling deeglik skoon deur dit met water en watte te was. Jy kan hardnekkige stoelgang met ’n lappie met kookolie op verwyder.

Droog dit deeglik af – ook in die velvoue – deur met ’n skoon handdoek sagkens daarop te druk – moenie vryf nie. Wend ’n gewone skermroom of sinksalf aan. As jou baba gedurig brandboudjies kry, kan jy ’n ander soort doek kies.

Party babas se vel is sensitief vir die stof waarvan die weggooidoek gemaak is of die seep waarin lapdoeke gewas word. Voeg sowat 125 ml (halwe koppie) asyn by jou lapdoeke se afspoelwater om die invloed van chemikalieë in die waspoeier te verminder. Sommige kenners reken dit help ook om jou baba se boudjies met rooibostee te behandel. Jy kan jou baba in ou rooibostee bad of die nat sakkies oor sy boudjies vee.

Gewone luieruitslag behoort ná drie tot vier dae van behandeling op te klaar. As dit langer duur of erger word, moet jy die dokter, apteker of klinieksuster se hulp inroep.

2. Bakteriese infeksie

Babas se boudjies is veral vatbaar vir bakteriese infeksie as die vel klaar effens stukkend is. Dit lyk dan helderrooi en geswel en voel warm. Gelerige, nat seertjies of puisies kan vorm en jou baba kan selfs koors daarvan kry.

Behandeling:

’n Gewone skermroom sal nie help nie. Vra jou apteker vir ’n goeie antibakteriese salf soos Bactroban. Hou sy boudjies skoon en droog. Jou dokter sal in ernstiger gevalle antibiotika voorskryf.

3. Sproei of 'n swaminfeksie

Brandboudjies weens sproei begin gewoonlik met klein rooi kolletjies wat toeneem tot dit uiteindelik een groot helderrooi en opgehewe area met duidelike rande vorm.

Behandeling:

Die dokter sal waarskynlik ’n swamdoder soos Canesten of Nystatin voorskryf. Was jou hande deeglik ná elke doekruiling. Swaminfeksies is dikwels algemeen by babas wat antibiotika gekry het. Probeer dus om altyd ’n probiotikum saam met die antibiotikum te gebruik.

Dokter toe

Luieruitslag is baie algemeen en selde ’n rede vir paniek. Wanneer die uitslag egter voortduur en bestand is teen gereelde behandeling, moet jy jou dokter raadpleeg sodat jy ’n deeglike diagnose en voorskrif kan kry.

Die kans is goed dat daar dan ’n bakteriële of swaminfeksie ontstaan het. Die uitslag kan pyn en ongemak veroorsaak, maar wanneer dit gepaardgaan met ander simptome soos koors of rusteloosheid, of as die uitslag op ’n ander deel van baba se lyf opduik, moet jy ook jou dokter raadpleeg.

Slim 5-punt plan

1. Begin deur baba se boudjies sagkens met watte en louwarm water of ’n skoon waslappie af te vee. Maak seker alle oorblyfsels van stoelgang en urine word verwyder.

2. Melk ’n bietjie uit en drup die borsmelk op die watte. Wend aan soos jy verfrisser op jou gesig sal aanwend.

3. Blaas baba se boudjies droog met ’n haardroër wat koeler gestel is.

4. Wend ’n mengsel van ’n swamdoder (soos Canesten of Daktarin), antibakteriese salf (soos Sudocrem of Bactroban) en ’n goeie sink-en-kasterolie-salf aan.

5. Laat jou kleinding so gereeld moontlik kaalbas in die son speel. Vars lug verrig wondere vir gewone brandboudjies. Maak net seker baba lê op ’n waterdigte lappie of handdoek om enige verrassings op te vang!

Het jy enige raad vir brandboudjies? Stuur dit aan web@babaenkleuter.co.za