In die jare 90 het navorsers finaal bewys dat ’n baba wat aan liefdevolle interaksie blootgestel word, intellektueel flukser ontwikkel as babas wat nie so gelukkig was nie. Jy kan dus baie doen om jou baba se breintjie van dag een af flink te laat werk. Ons vertel jou hoe.

Tyd is kosbaar

In die eerste jare van jou kind se lewe word sowat 700 nuwe verbindings per sekonde tussen breinselle gevorm. Die vinnige groei verduidelik waarom baba se kop binne die eerste drie jaar sowat 16 cm in omtrek toeneem – dis ongelooflik as ’n mens in ag neem dat dit in die daaropvolgende 15 jaar net nog 5 cm sal groei voor dit die volwasse grootte is! Omdat net verbindings wat gereeld benut word, permanent vir toekomstige gebruik vasgelê word, is die vroeë jare van onskatbare waarde. Die implikasie is dat jou kind waarskynlik in sy latere lewe sekere vaardighede of eienskappe nie sal ontwikkel as jy hom nie in die eerste drie jaar daaraan blootstel nie.

Verander weer én weer

Volgens neuroloë verander jou baba se brein fisiek met elke nuwe verbinding wat dit skep. Dis nie soos ’n arm of been wat net in grootte toeneem namate jou kind ouer word nie. Jou baba word met sowat 100 biljoen breinselle gebore, maar kan hulle almal nie onmiddellik gebruik nie omdat die verbindings tussen die meeste selle nog nie vasgelê is nie en boodskappe dus nie tussen selle oorgedra kan word nie. Namate jou baba nuwe dinge ervaar, word verbindings geskep. Verbindings wat gereeld gebruik word, vorm digte senuweebane in die brein, terwyl verbindings wat selde gebruik word, uiteindelik in ’n sogenaamde snoeiproses verdwyn. Jy dink dalk dis ’n tragiese verlies, maar dit is eintlik broodnodig. Snoei maak die manier waarop jou baba inligting verwerk meer vaartbelyn en stel elke kind in staat om optimaal op die uitdagings van sy spesifieke omgewing te reageer, amper soos ’n plant wat gereeld gesnoei moet word om te kan gedy.

Kritieke ontwikkelingsfases

’n Kritieke ontwikkelingsfase verwys na ’n beperkte tydperk waarin sekere soorte stimulasie waarskynlik tot die bedrading van sekere dele van die brein sal lei. In daardie venstertydperk kan ’n kind ’n vaardigheid met verbasende gemak aanleer. Dit word egter toenemend moeiliker, indien nie onmoontlik nie, om die spesifieke vaardigheid aan te leer as die goue kans eers verby is. ’n Voorbeeld is Japannese babas wie se ouers uitsluitend Japannees met hulle praat. Hulle sal teen hul eerste verjaardag nie meer tussen die Engelse woorde rice en lice kan onderskei nie omdat die r- en l-klanke nie in hul taal voorkom nie en die brein dié selle wat hulle in staat sou gestel het om hierdie klanke te hoor, weggesnoei het omdat hulle dit nooit gebruik het nie.

Vrugbare ontwikkelingsfases

Jou baba se brein het ook vrugbare ontwikkelingsfases. Dit verwys na tye waarin sekere vaardighede net begin ontwikkel en die betrokke dele in die brein wat dit beheer, as’t ware van nuuts af bedraad word. ’n Voorbeeld is wanneer babas van 10 tot 12 weke oud begin om hul visuele fokus te verskuif; iets wat hulle tot in daardie stadium nie kon beheer nie. Dit is gewoon slim om die spreekwoordelike yster te smee terwyl dit nog warm is. Jy kan gereeld ’n eenvoudige speletjie speel wat jou baba aanmoedig om sy fokus van een hoëkontras-voorwerp na ’n volgende te skuif. Jy kan met ander woorde die invloed wat jy op jou kind se ontluikende vaardighede het, versterk en sy brein digter bedraad.

Eenvoudig bly baas!

Die wete dat jy so ’n invloed op jou kind se ontwikkeling het, gaan gepaard met ’n verantwoordelikheid en dit kan dikwels swaar op nuwe ouers se skouers rus. Die goeie nuus is dat jy nou die feite het en ouers wat beter weet, vaar onvermydelik beter. Nog beter nuus is dat as jy jou gesonde verstand inspan en jou kind in ’n liefdevolle omgewing gekoester hou, jy reeds die belangrikste dinge reg doen. Jy kan net daarop voortbou deur op die vrugbare groeifases te fokus. Kyk fyn hoe jou kind se ongelooflike vaardighede en vermoëns natuurlik na vore kom. Pas dan jul interaksie aan sodat jy die nuwe vaardighede oefening gee. So sal jy elke ontwikkelingsgeleentheid die beste benut. Die gesegde lui: “Kinders is soos sponse wat alles indrink.” Of, soos die Amerikaanse ontwikkelingskenner dr. Glenn Doman sê: Kinders is so lief vir leer dat hulle dit enige tyd bo kos sal kies. Elke ma sal saamstem dat dit die waarheid is. Dis normaal om aanvanklik oorweldig te voel wanneer jy die eerste keer besef jou kind se ontwikkeling rus op jou skouers. Gelukkig is daar ’n stap-vir-stap-resep wat, as jy dit volg, sal verseker dat die tyd wat jy saam met jou kind deurbring, maksimum waarde het en uiteindelik sy ontwikkeling as holistiese mens doeltreffend sal steun.

1. Wys emosie, ma!

Babas is nie ervare genoeg om te weet wanneer iets hul aandag verdien nie. Hulle sien dit dus nie raak nie – tensy dit met emosie opgetooi word. Emosies, of dit nou kalmerend of opgeruimd is, help ’n baba om nuwe dinge te leer. Die goeie nuus is dat jul liefdevolle interaksie met haar die gom is wat hierdie kennis gaan laat vasklou. Studies bevestig dat die oomblikke wat die meeste met emosie gelaai is, die beste onthou word. Dit is van toepassing op kinders en volwassenes. Wanneer jy dus by haar is, kan jy gerus die moeite doen om jou gesigsuitdrukkings te oordryf, in snaakse stemmetjies te praat, haar te vertroetel en wilder rol- en swaaispeletjies te speel. Laat haar weer ander kere snoesig teen jou lê terwyl jy vir haar ’n storie vertel of ’n sprokie lees. As jy steeds onseker is, dink aan die verskil tussen ’n swart-wit fliek en ’n fliek in volle kleur. Interaksie sonder en met emosie kan daarmee vergelyk word.

2. ’n Knypie kontras

Babas dink konkreet en dis dikwels vir hulle moeilik om nuwe begrippe aan te leer sonder dat albei teenoorgesteldes teenwoordig is. Dis byvoorbeeld baie makliker om die begrip van klein te leer as daar ’n groot voorwerp langsaan lê waaraan sy kan vat. Net so kan jy jou kind die verskil tussen hard en sag leer deur haar aan ’n plastiekbal en ’n lappie te laat vat.

3. Maak gebruik van taal

Taal is baie nou met intellektuele ontwikkeling verbind. Dink aan jouself as ’n sportkommentator wat deurlopend terugvoer gee oor wat jou baba doen, dink en voel. As jy net vir haar die woorde gee vir wat sy doen, dink en voel, is dit klaar ongelooflik waardevol vir haar ontwikkeling. Ons dink in woorde en daarsonder is dit onmoontlik om van die wêreld om ons sin te maak. Taal gee logika aan jou baba se wêreld en jy verrig ’n baie belangrike taak deur haar wêreld vir haar te “vertaal”. Wanneer dit by die leer van nuwe woorde kom, sal jou baba die woorde wat sy die meeste hoor, die vinnigste leer. Gebruik nuwe woorde oor en oor in eenvoudige sinne: “Dis tyd om te bad. Jy hou van bad. Kom ons gaan bad, liefie.”

4. Herhaal, herhaal, herhaal

Nes volwassenes leer babas die beste deur herhaling. Herhaling bevorder herkenning, wat ’n belangrike intellektuele vaardigheid is. ’n Maklike manier om dit te oefen is om die duidelikste kenmerke van iets herhaaldelik te beskryf. Byvoorbeeld: ’n Hond het vier pote, ’n groot neus en maak “woef”. Of: ’n Voël het vere, twee bene, ’n snawel en sê “twiet”. As jy dit aanhoudend benoem en beskryf, sal jou baba oor die wêreld om haar leer, en heeltyd nuwe dinge leer.

5. Wys wat jy sê

Babas ervaar die wêreld deur hul lyf en daarom leer hulle iets makliker as dit fisiek vir hulle voorgespeel word. As jy wil hê jou baba moet die verskil tussen rond en vierkantig leer ken, gee haar gerus ’n ronde en vierkantige voorwerp om aan te vat. As jy haar wil leer om met begrip te tel, begin deur haar handjies te klap: 1, 2, 3, of deur blokkies op mekaar te stapel: 1, 2, 3. Jy moet dus vir haar “vertoon” wat jy wil hê sy moet leer. As dit is om op te hou om die kat se stert te trek, streel met haar handjie saggies oor die kat. Gee vir haar die woorde vir dié ervaring: “Kyk, die katjie hou daarvan om saggies gestreel te word.”

Liefdevolle verhoudings
Ontwikkelingswetenskaplikes verwys dikwels na “ryk” omgewings, maar dit moenie met luukse babastootwaentjies en berge speelgoed verwar word nie. Wat hiermee bedoel word, is ’n omgewing wat oorloop van liefdevolle interaksie tussen ’n baba en ’n volwassene, of dit nou ’n ouer of versorger is. Babas leer nie by speelgoed of ander babas nie. Verskeie studies het gewys hulle het ’n liefdevolle volwassene nodig wat iets bied wat hulle nêrens anders sal kry nie – interaktiewe ervarings wat nommerpas is vir die spesifieke kind se behoeftes en sy manier om met die wêreld kontak te maak. Volwassenes kan met emosies soos liefde en opwinding ’n kind se wêreld ophelder sodat hy weet waar om sy aandag vir die meeste breinvoordeel te vestig. Hulle kan ook ’n ander kernbestanddeel tot ’n kind se groeiende brein toevoeg wat soos water op ’n saadjie sal wees: taal. Woorde, gebare en gesigsuitdrukkings gee betekenis aan alledaagse ervarings en stel babas in staat om ’n beter begrip van die wêreld te kry en intellektueel, emosioneel en sosiaal te ontwikkel. Volwassenes “ontsyfer” die wêreld vir ’n baba soos ’n gids ’n vreemde land vir toeriste verstaanbaar maak. Dié soort interaksie met ’n volwassene is so belangrik dat ontwikkelingsdeskundiges aan die bekende Harvard-universiteit in Amerika ’n klompie jare gelede ’n konsepdokument met die titel “Young Children Develop in an Environment of Relationships” die lig laat sien het. Die dokument haal die Russies-Amerikaanse ontwikkelingsielkundige Urie Bronfenbrenner so aan: “Ten einde normaal te ontwikkel, het ’n kind gedeelde aktiwiteite met een of twee volwassenes nodig wat ál ingewikkelder word. Hulle moet ’n irrasioneel emosionele verhouding met die kind hê. Iemand moet mal wees oor daardie kind, in die eerste plek, en in die laaste plek. Altyd.”