Die woord “brandboudjies” is ’n baie wye term wat vir ’n verskeidenheid velkwessies in die omgewing van ’n baba se doekarea ingespan word.

As jou baba ’n uitslag op sy boudjies het, is dit heel moontlik een van hierdie drie veltoestande: kontakdermatitis, ekseem of sproei.

Kontakdermatitis

Een van die grootste oorsake van brandboudjies is ’n velirritasie wat deur urine veroorsaak word, sê die Kaapstadse pediater dr. Paul Sinclair.

“’n Babadogtertjie wat te lank in ’n nat doek gelaat word, kan ’n ontsteking op haar eksterne labia kry, en ’n seuntjie op die kontakarea van die penis.”

Daar is ammoniak in elke baba se urine wat suur is en die vel kan brand. Dis waarom ’n doek gereeld geruil moet word.

Al is moderne doeke baie meer absorberend as voorheen, kan babas se teer velletjie steeds aangetas word. “Selfs ná net een piepieslag is daar genoeg uriensuur in die doek om die vel aan te tas,” waarsku Paul.

Babas wat diarree kry en veral dié wat nie suiker behoorlik verteer nie of ’n sekondêre laktose-intoleransie het, loop ook die gevaar om kontakdermatitis op te doen.

“Dié babas produseer ’n suur stoelgang wat brand, veral rondom die anus. Dit is nog ’n oorsaak van brandboudjies,” sê Paul.

Voorkom en behandel kontakdermatitis deur met elke doekruiling ’n boudjiesalf met ’n sinkbasis aan te smeer, is sy raad.

Ekseem

Net soos babas ekseem agter hul knieë kan kry, kan dit ook in die voue van die bobene ontstaan.

“Dit is waarom sommige ouers by spesifieke handelsmerke bly en sê dat slegs ’n sekere soort doek vir hul baba werk,” sê Paul.

Hierdie soort brandboudjies is soortgelyk aan kontakdermatitis, maar word as ekseem geklassifiseer omdat dit in die velvoue voorkom en nie noodwendig op dele wat in regstreekse kontak met die allergeen is nie.

Jou baba is dus allergies vir iets, en in dié geval is dit óf die doek, óf die reiniger, óf die boudjiesalf óf die vogdoekies wat jy gebruik.

“As jy nie wil hê jou baba se ekseem moet vererger nie, is die regte doek, ’n sagte reiniger en ’n eenvoudige versperringsroom ’n moet,” waarsku Paul.

Sy raad is dat jy jou baba se boudjies skoonmaak met watteskyfies wat in rooibostee gedoop is.

Dis alkalies en sal die suurheid neutraliseer. “As jou baba ware ekseem het, moet dit met ’n kort kursus kortisoon behandel word,” sê Paul.

Sproei

Brandboudjies met rooi spikkels of kolle is heel moontlik sproei. Dit word veroorsaak deur ’n swaminfeksie wat veroorsaak word deur die swam Candida albicans.

“Dit begin met ’n klein rooi ring om die anus en dan volg die kolletjies. By seuntjies is dit belangrik om die skrotum op te lig en te kyk of dit daar voorkom.

Lig ook die penis omdat hulle gewoonlik aan die basis daarvan sproei kry,” verduidelik Paul.

Behandel sproei met teenswammiddels wat deur die dokter voorgeskryf sal word.

Gaan dokter toe as…

“As jou baba brandboudjies het, jy by die apteek was, ’n salf aangesmeer het en daar steeds geen verbetering is nie, behoort jy jou dokter te raadpleeg,” sê Paul.

Moenie voorgeskrewe boudjiesalf wat ’n bietjie sink, ’n bietjie kortisoon en teenswam-bestanddele bevat elke dag gebruik nie.

Dit maak nie saak hoe goed hierdie salf werk nie, dit het ’n kortisoonbasis en die geslagsdele is soos die gesig: jy kan nie te veel kortisoon daaraan smeer nie omdat dit die vel dunner maak. ?

’n Room met kortisoon moenie elke dag gebruik word nie.

Antibiotika & brandboudjies

Antibiotika kan diarree veroorsaak, wat op sy beurt twee soorte brandboudjies veroorsaak: kontakdermatitis en sproei.

Antibiotika maak 80 persent van die gesonde kieme in jou baba se maag dood sodat daar niks is wat teen die sproei-swam kan werk nie. Laasgenoemde groei dus na hartelus.

Kinders wat herhaaldelik sproei kry en antibiotika moet drink, moet ook ’n teenswammiddel inneem, is Paul se raad.

Hoewel daar nie bewys is dat probiotika sproei en brandboudjies verbeter nie, gebruik baie ouers dit om die diarree teen te werk wat deur die antibiotika veroorsaak word.

“Sommige ouers gebruik selfs ’n aanrol-probiotikaroom op die doekarea,” sê Paul.

Raakgekoop

Baby Dove se Nappy Cream R34,99 vir 45 g, kleinhandelaars en babawinkels
Bennetts se Baby Bum Créme R80 vir 300 g, Pick n Pay, Checkers, Shoprite, Spar, Makro, Baby City, Reggie’s, Toys R Us, Game, Dis-Chem, Clicks en uitgesoekte apteke.
Antipeol Ointment R142,90 vir 18 g en R224,99 vir 37 g, Clicks, babawinkels en apteke.
Pure Beginnings se Baby Bum Cream R84,99 vir 125 ml, purebeginnings.co.za en Baby City.
Johnson’s se Baby Jelly R28,95 vir 250 ml, alle voor­aan­staande klein­han­de­laars.
Paw Paw Ointment en Paw Paw Cream R49,95 elk, Dis-Chem, Pick n Pay-apteke, MediRite-apteke, Clicks en ander apteke.
Sudocrem se Baby Care Cream R129,95 vir 250 g, Dis-Chem, Clicks, Spar, Pick n Pay, Baby City en takealot.com.
Bepanthen se Protective Baby Ointment R219 vir 100 g, alle groot kleinhandelaars.
Baby Sebamed se Diaper Rash Cream R115, Dis-Chem, Clicks, Pick n Pay-apteke, Baby City en apteke.
Beaucience se Baby Barrier Cream R64,99, beaucience. co.za, uitgesoekte apteke en gesondheidswinkels.
Skinsano se Multipurpose Ointment R209,95 vir 100 g en R259,95 vir 250 g), Dis-Chem, Clicks en uitgesoekte apteke.
Made 4 Baby Baby Bum Cream R55,95 vir 500 ml, by Clicks.
Made 4 Baby Zinc & Castor Oil Cream R32,95 vir 125 ml, by Clicks.