Niemand kan stry nie: Om ’n ma te word, is een van die wonderlikste en betowerendste gebeurtenisse, maar dis ook een van die stresvolste en moeilikste fases van ons lewe. Want saam met jou baba skenk jy ook die lewe aan ’n dikwels nuwe emosie: skuldgevoelens.

“Ek lees nou die dag die aanhaling ‘Skuldgevoel is so ’n vroulike emosie dat dit in pienk ink geskryf behoort te word’,” vertel Anne Cawood, ’n maatskaplike werker met ’n privaat praktyk en skrywer van Kinders moet grense hê.

“Ek dink egter nie dis outomaties deel van ouerskap nie, want dit lyk nie of mans so knaend daaraan ly soos vroue nie,” sê sy. Die meeste skuldgevoelens berus op wanpersepsies en daarom moet ons perspektief behou en objektief na ons situasie probeer kyk, is die raad van Ilze Alberts, ’n Johannesburgse sielkundige.

Anne meen een van die redes waarom veral vroue aan skuldgevoelens ly, is dat ons oorkrities oor onsself is. “Dit kan wees omdat ons oor eeue heen gesosialiseer is om te glo dat ons vir ál ons gesin se geluk verantwoordelik is. Goeie ma’s moet mos hul eie behoeftes opsyskuif en hul kinders en man se behoeftes eerste stel, nie waar nie? Ma’s het dus mettertyd begin glo dat alles van ons afhang, ook ons kinders se geluk.

Die samelewing het egter verander en meer ma’s het buite die huis begin werk, maar daar word steeds van ons verwag om vir die kinders en huishouding verantwoordelik te wees,” sê sy. Ma’s het dus ál meer druk op hulleself begin plaas en probeer om supervroue te wees. “Enigiets wat nie perfek is nie, is vir ons onaanvaarbaar – en só het skuldgevoelens ontstaan.”

Nuut in die spel

Veral nuwe ma’s word deur skuldgevoelens geteister, sê Anne. Ons word oorval deur goedbedoelde raad van familielede, klinieksusters, kundiges, die media en boeke. “Al wat nuwe ouers wil doen, is om dinge reg aan te pak, maar hulle raak verward. As ’n paartjie se idees oor kind grootmaak boonop verskil, word daar druk op hul verhouding geplaas. Kommunikasie ly daaronder en probleme in die verhouding kan ontstaan.

’n Nuwe ma se behoefte om alles reg te doen en die perfekte ouer te wees, kan meer en meer begin oorheers,” verduidelik sy. Anne sê ma’s begin dan dikwels vergelykings tref. As ’n vriendin se baba begin deurslaap terwyl joune nie eens slaap nie, word die druk net erger. Gevoelens van mislukking en skuld begin jou gesonde oordeel aantas. Dis ’n oorweldigende ervaring om ma te word en dit verander nooit regtig nie, sê Meg Faure, medeskrywer van die Koester jou baba-boekreeks.

“Ons maak elke besluit baie persoonlik omdat ons weet dat ons vir altyd ’n impak op ’n menselewe maak. Dis juis waarom ons elke liewe besluit ontleed. Met baie van ma’s se besluite moet jy jou eie, jou kind, jou man en nog boonop jou werk se behoeftes ook in ag neem. “Dis geen wonder dat daar dan skikkings aangegaan word nie. Dit is juis in hierdie oomblikke en weens die klein foute wat ons as mense maak, dat skuldgevoelens ontstaan.”

Meg sê skuldgevoelens is ’n absolute deel van ouerskap. “Die meeste dinge waaroor ons stres is onbelangrik. Sal jou baba vir die res van sy lewe daaronder ly omdat jy sy doek te lank aangelaat en hy brandboudjies gekry het? Nee. Sal jou baba ’n emosionele wrak wees omdat jy hom ’n paar minute gelos het om te huil sodat jy jou kleuter se boud kan afvee? Nee. “Dis daarom baie belangrik dat ons as ma’s perspektief behou en aanvaar dat ons so goed as wat ons kan aan ons kinders se emosionele behoeftes voldoen.”

Die depressie-gevaar

Een van die grootste probleme is dat ’n nuwe ma se strewe na perfeksie en die gepaardgaande skuldgevoelens tot nageboortelike depressie kan bydra. Daarom moet jy ’n steunstelsel hê en iemand op wie jy kan staatmaak en om raad kan vra. “Dis so belangrik om te besef daar is nie iets soos ’n perfekte ouer nie,” sê Anne.

“Al wat babas regtig nodig het, is ’n ma wat goed genoeg is, en veral ’n ma wat ontspanne is. Dit sal jou baba help om ook te ontspan en positief te ontwikkel, wat jou weer minder gespanne maak. “ ’n Oorspanne ma wat met skuldgevoelens worstel, se baba sal ook veeleisend en gespanne word – en kort voor lank moet jy dan ’n nuwe stel skuldgevoelens hanteer!” maan Anne. 

Hoekom voel ek skuldig?

#1 Ek het tyd vir myself nodig

Die meeste van ons sal wat wil gee vir ’n bietjie tyd vir onsself. Jy voel dalk skuldig om jou baba by jou ma of skoonma te los, want dit kan jou laat voel jy skeep haar af. Jy sal egter mettertyd leer dat jy tyd vir jouself en jou verhouding met jou maat nodig het.

Slim raad Jy sal beter na jou baba kan omsien as jy self meer energie het, beter slaap en gelukkig is.

#2 Ek is nie perfek nie

Daar is vandag soveel druk van die samelewing op ons om ’n volmaakte ma te wees, sê die sielkundige Ilze Alberts. “Ons leef in ’n tyd met toegang tot ’n wye verskeidenheid bronne van inligting.

Boeke vertel ons wat om te doen, TV-programme wys ons die illusie van ’n ma met volmaakte grimering, golwende hare, ’n laggende baba in sy stoeltjie en ’n fynproewerete op die tafel. Die werklikheid is egter myle daarvan verwyder.” Moenie skuldig voel as jou huis nie meer altyd netjies is en jy nie meer ure se beplanning in ’n aandete kan sit nie.

Slim raad Vertel jouself elke dag dat jy ’n goeie ma is. Wees net goed genoeg – nie volmaak nie!

#3 Ek skeep my man af

’n Baba het ’n geweldige impak op jou huwelik en ma’s voel dikwels skuldig omdat hulle meen hul liefdesverhouding ly onder die nuwe baba en hulle het nie tyd of lus vir seks nie.

Slim raad Probeer om af en toe, selfs net vir ’n uur, iets saam te doen en in die aand tyd te maak om oor jul dag te gesels. Deel jou frustrasies en bekommernisse met jou maat.

#4 Ek moet terugkeer werk toe

Werk is een van die hoofredes waarom vroue skuldig voel, sê Ilze. Jy voel dalk skuldig as jy by die werk is en weer skuldig as jy by die huis is en jy eintlik baie werk het.

Slim raad Kry perspektief en fokus op die positiewe. Sê vir jouself: Ja, dis nie lekker om my kind by ander mense te laat nie, maar dit is goed vir my kind om ander mense te leer ken. Hy leer so om ook op ander mense staat te maak en dit help hom om verhoudings met ander te smee.

#5 Ek het ander kinders

Baie ma’s voel skuldig omdat hulle nie meer soveel tyd saam met hul ander kinders kan deurbring nie. Jy kan jou oudste dalk nie meer so gereeld optel nie omdat die nuwe baba soveel aandag vereis en gevoed moet word.

Slim raad Wees realisties en besef jy kan nie ewe veel aandag aan jou baba en ander kinders bestee nie. Vra dus hulp en laat jou maat met die versorging van die baba help sodat jy ook spesiale bindingstyd met jou ander kinders kan deurbring.

Wenke wat werk
  • Begin sommer vroeg in jou swangerskap aan jouself werk. Kry insig in jou temperament. Intense, doelgedrewe vroue moet besef dat dinge aan die begin nie georganiseerd gaan wees nie en dat jy jou deur jou baba moet laat lei.
  • Hou jou verwagtinge realisties en jy sal baie minder skuldig voel.
  • Probeer uitwerk hoe jy en jou maat die baba gaan grootmaak. Besluit wie se raad julle gaan volg en wat julle liefs gaan ignoreer.
  • Moenie jou laat intimideer deur mense wie se raad nie met jou ouerskapsmetodes ooreenstem nie. Wees veral versigtig vir mense wat dinge sê soos “Jy moes liewer ... of “Ek het nog altyd ...”.
  • Onthou dat jy oor jou eie reaksies besluit. Niemand anders kan jou skuldig laat voel nie. Hulle kan dalk probeer, maar stel jou gerus dat jy dinge op jou manier doen en uit jou eie foute leer.
  • Moenie jou oor klein dingetjies ontstel nie.
  • Kyk vanuit ’n ander oogpunt na die bron van jou skuldgevoel. Probeer die positiewe in elke situasie raaksien pleks daarvan om jou teen die negatiewe vas te staar.