My goeie vriend Tommie,

Ek hoor jy word binnekort vir die eerste keer pa. Veels geluk, ou maat! Moet jou tog nie steur aan die pelle wat wonder hoe jý wat Tommie is, kinders gaan grootmaak nie.

Jy sal fine wees. Net omdat jy eens die student was wat kaalvoet klas toe is omdat jou een skoen pal weg was, maak nie van jou ’n toekomstige slegte pa nie.

Ek weet jy is meer van ’n syfers-ou. ’n Deurmekaar, briljante een. Maar vriend tot vriend kan ek jou belowe: So seker as wat een plus een twee is, gaan jou lewe nou verander – en nie soos jy gedink het dit sal verander nie.

In daardie opsig is graadkry en babakry vir ons pa’s dieselfde.

Jy glo jy het al die boekkennis en voorbereiding, tot die dag dat jy as vars gegradueerde by jou nuwe werk instap en agterkom dat net praktiese ervaring en wêreldwysheid jou hier gaan help oorleef.

Ek skat jy sal eers ná ’n jaar as pa die som kan doen van hoe en hoeveel jou lewe verander het.

En dan kan net een formule met volkome sekerheid gebruik word: Tyd en prioriteite BC (before children) en tyd en prioriteite AD (after delivery).

Ek is twee en ’n half jaar AD. Jou AD gaan anders wees as myne. Maar dit gaan ook anders wees as wat jy dink dit gaan wees. Tommie, jy hou mos van lysies.

Jy sê daar sonder vergeet jy dinge. Hier’s ’n lysie net vir jou van hoe ek my dinge verbeel het en wat uiteindelik gebeur het. Jy sal dit nie sommer in ’n ouerskapsgids kry nie; dis die wêreldwysheid wat met praktiese ervaring kom.

Wolfies in skaapklere 

1. Fopseen

Jy dink: ’n Fopspeen is soos ’n skakelaar om die baba se klank af te skakel.

Jy besef: Jou groot, lomp hande laat die fopspeen minstens vyf keer per dag op die vloer val, nes wanneer jy bo jou kop met daai lastige 1 mm-skroefie wil werk.

Hy is bloot nie gemaak vir raakvat nie. En ná elke val moet jy dit steriliseer. En as hy tussen die beddegoed wegraak, soos elke dag gebeur, wens ek jou sterkte toe ...

Wees bedag op die bedrieglike fopspeen.

2. Vroeg in die kooi

Jy dink: As baba sesuur gaan slaap, lê die hele aand nog voor. Sal ons ’n fliek kyk of ’n glasie wyn drink, vrou?

Jy besef: Hoe vroeër die kleintjie slaap, hoe vroeër word hy wakker.

Jou dag begin enige tyd van drieuur af, ’n tyd wat jou lyf jou nog nie vergewe het vir daai wyn of die fliek wat eers elfuur geëindig het nie.

3. Menskos

Jy dink: Man, as baba net eers van die bottel of die bors af is en regte kos kan eet; sommer dit wat jy en jou vrou vanaand eet. Dis volgens jou berekening kostedoeltreffend.

Jy besef: Kleintjie wil nie hê wat jy wil hê nie, tensy jy gaande is oor visvingers of piesangjogurt. En hoe groter die verskeidenheid kos waarvan die kleintjie hou, hoe groter is die verskeidenheid smeerkolle op jou kantoorhemp.

4. Lag en glimlag

Jy dink: ’n Baba wat lag is altyd beter as ’n baba wat huil.

Jy besef: Dis baie moeiliker om ’n laggende baba in die middel van die nag aan die slaap te kry as ’n huilende een.

Die boeke sê slaaptyd is ’n ernstige besigheid en ouers moenie koer nie. Maar jy sal wil koer, jou vaderhart gaan die knie buig voor die groot glimlag van onskuld.

En jy gaan nie slaap nie. 5TANDE Jy dink: Dit gaan wonderlik wees om te sien hoe die kleinding se tandjies as wit pêreltjies uitkom.

Jy besef: Tandekry is ’n nare proses en heel moontlik die oorsaak van koors, giftige doeke, ’n knaende gehuil en onrustigheid. Die somtotaal van jou probleme? Wel, kinders kry 20 tande. Werk dit uit.

Skapies in Wolfklere 

1. Die vuil doek

Jy dink: Moet my net nie vra om doeke te ruil nie, veral nie daai doeke nie.

Jy besef: As jy nie op doekediens is nie, sal jy elders moet veld wen as jou vrou se veronderstelde steunpilaar.

Dit kan enigiets wees van kind wieg, bottels was, wasgoed was of kos maak. Help met die doeke, Tommie. Dis ’n plus, nie ’n minus nie.

2. Winde uitklop

Jy dink: Ek het nie die geduld om ’n ruggie te vryf, te tik en te timmer tot die melkwindjie oplaas kraak nie.

Jy besef: ’n Luide knor kan jou dryf tot ’n oorwinningskreet soos wanneer die Springbokke ’n drie druk. (Onthou jy dit nog? Dit was ook een of ander tyd BC.)

3. Babatee

Jy dink: ’n Flou verskoning vir partytjie hou, ’n onnodige uitgawe gevolg deur ’n kattebak vol oortollige geskenke.

Jy besef: Baba is nou al maande oud en steeds hoef ons nog nie ’n enkele keer poeier, boudroom of borslappe te gekoop het nie. Magic !

4. 'n Stootwaentjie

Jy dink: Die goed is onbekostigbaar en neem al die ruimte in die kattebak in beslag.

Jy besef: Vir so ’n klein gewiggie kan ’n kriewelende kleintjie onmenslik swaar in jou arms raak. Buitendien is ’n entjie se stap in die waentjie ’n kitsoplossing vir slaaploosheid.

5. Skoonma

Jy dink: Skoonma gaan nou vyf keer meer dikwels hier wees.

Jy besef: Danksy skoonma kan ons af en toe ’n klein bietjie afskakel, rustig met die wete dat baba in veilige, liefdevolle en ervare hande is.

En skielik, wanneer die nood roep, is jy tot bereid om skoonma self te bel op soek na raad, al het jy vergeet om haar op haar verjaardag te bel.

Ten laaste, Tommie: geniet dit. Die babatyd gaan gou verby. Die kleintjie is mos iemand ’n bietjie soos jy, uitgeknip om deur jou grootgemaak te word.

Jy is nou iemand se held, met of sonder skoene. So as jy tel, Tommie, tel tog heel eerste jou seëninge.