Hoewel binding ’n proses is wat oor ’n lang tydperk ontvou en gevestig word, en hoewel dit geensins jul verhouding gaan verdoem as jy nie jou baba binne die eerste uur kan vashou nie, is daardie eerste uur tog ’n kosbare tyd wat ’n goeie fondament vir ’n hegte band vorentoe kan vorm. “Babas is op hulle wakkerste in die eerste uur van hulle lewe. Dis die beste tyd om te bind,” glo Robin Johnson, ’n geregistreerde verpleegster.

Die Amerikaanse navorsers Marshall Klaus en John Kennell sê selfs dat ma’s en hulle pasgeborenes “geprogrammeer” is om in die sensitiewe periode net ná geboorte in nabye kontak met mekaar te wees en mekaar positief te stimuleer.

In die goue uur kan jy ’n intense chemiese verbinding met jou baba vorm. Gedurende kraam en geboorte stel ’n vrou se lyf oksitosien vry, ’n hormoon wat die baarmoeder laat saamtrek en die baba help uitkom. Oksitosien is ook ’n goedvoel-hormoon wat met liefde en binding vereenselwig kan word. Dit word ook vrygestel tydens ’n orgasme, en so ook met borsvoeding.

Reg ná geboorte is ma en baba nog onder die invloed van hierdie pynverligtende hormoon wat ook ’n euforiese gevoel veroorsaak – ’n resep vir liefde met die eerste oogopslag. Verder is die reuke wat tydens die geboorte deur baba en ma afgeskei word kragtige feromone wat die twee na mekaar aantrek. Dit help die baba om sy ma se tepel uit te snuffel en instinktief te begin suig.

Kundiges op www.parenting.com sê dat die band wat in hierdie tyd tussen ma en baba ontwikkel, nie net die toon aangee vir hul verhouding in die toekoms nie, dit help ook om jou kind se emosionele en fisieke gesondheid te bepaal in die dekades wat voorlê.

Die Amerikaanse Pediatriese Akademie moedig nuwe ma’s aan om in daardie eerste uur soveel moontlik vel-tot-velkontak met hulle pasgeborenes te hê.

Die bekende skrywer en endokrinoloog Deepak Chopra is van mening dat die moeder-kind-verbintenis ’n biologiese een is wat ook ’n diepgaande uitwerking op die fisiologie van die baba kan hê.

In die artikel The Science Behind Baby Bonding op www.parenting.com skryf die joernalis Patty Onderko oor twee studies wat Chopra se siening bevestig. Sy haal ’n artikel aan uit die joernaal Pediatrics waarin bevind is dat vroeggebore babas wat gereeld aangeraak en gemasseer of gevryf word, 50 persent meer gewig aansit as vroeggebore babas wat nie aangeraak word nie.

Sy vertel ook van ’n Japanse studie waarin bevind is dat babas wat aan hul ma se borsmelk geruik het terwyl hulle in die hakskeen geprik is, minder omgekrap was as babas wat aan ’n ander ma se melk, formulemelk of geen reuk nie blootgestel is. Die reuk van mamma se eie melk was genoeg om baba te kalmeer en pyn te verlig.

As ’n mens dit lees, behoort dit jou nie te verras dat babas makliker by die borsvoedroetine inval as hulle dadelik ná geboorte met hul mammas herenig word nie. Die reuk van ma se lyf – en miskien selfs haar melk – is die bekendste, gerusstellendste ding in die wêreld.

Dit verlig jou baba se stres op ’n natuurlike manier, want die geboorte moes vir hom baie spanningsvol gewees het. Hy het immers die veilige wêreld wat hy nege maande lank geken het, verruil vir ’n helderbeligte plek vol sensoriese stimulasie wat hy nie kan interpreteer nie.

In sy boek Magical beginnings, enchanted lives: A guide to pregnancy and childbirth through meditation, ayurveda, and yoga techniques skryf Deepak Chopra dat stresverligting die sleutel is tot die begrip van vroeë binding en jou kind se latere gesondheid kan raak.

Deur jou baba veilige en liefdevolle vel-tot-vel-kontak te gee, kan jy sy geboortestres heeltemal verlig. Dink ’n bietjie hoe jou maag op ’n knop trek of jou vel uitslaan wanneer jy groot spanning beleef. Hoeveel erger moet dit nie vir ’n klein babatjie wees nie? Volgens Deepak kan stres die manier verander waarop jou baba se gene later in sy lewe werk.

Stres kan gene vir sekere afwykings “aanskakel” en ander gene wat ons help om stres doeltreffend te beheer, “afskakel,” sê hy. Hierdie verskynsel word epigenetika genoem en ’n onlangse studie in die veld het gewys dat mense wat kindertrauma ervaar het, se kans om later weens outo-imuunsiektes in die hospitaal te beland, 70 tot 100 persent groter is.

Jou baba bind met jou deur aanraking en reuk. Sy sintuie is ingestel om op jou unieke reuk en die gevoel van jou vel te reageer. Daarom is vel-tot-vel-kontak en eerste borsvoeding (wat ’n natuurlike instink by babas is) so belangrik.

Ál meer hospitale en geboorteklinieke ondersteun hierdie uitgangspunt en sal baba reeds in die kraamsaal op mamma se bors vir vel-tot-vel-kontak neerlê.

Mediese prosedures word vir ’n wyle opsygeskuif om ma en baba kans te gee om te bind. Vel-tot-vel-kontak is die beste manier om baba warm te hou, want ma’s se liggaam reguleer die temperatuur.

Geen toedraai is nodig nie, en dit maak die skeidingstyd tussen ma en baba van baarmoeder tot bors minimaal. Die Vereniging van Amerikaanse Pediaters gee die volgende riglyne op www.sanfordhealth.org:

  • Gesonde pasgeborenes moet so vinnig moontlik in vel-tot-vel-aanraking met hul ma geplaas word tot hulle die eerste keer gevoed het.
  • Die mediese versorger en verpleegsters kan die eerste fisieke ondersoek behartig terwyl die baba aan sy ma se bors is.
  • Prosedures soos weeg, meet, bad, inspuitings of bloedtoetse moet wag tot ná die eerste voeding.
  • Baba en ma moet saam wees in die hele herstelperiode.
  • Ál meer hospitale beveel ook aan dat ouers minstens ’n uur alleen saam met hulle nuweling deurbring voor hulle hul baba aan familielede en vriende bekendstel. Mamma moet liewer daarop fokus om die baba sy eerste voeding te gee en hom te laat suig so lank as wat dit hom behaag.

Selfs in mediese noodgevalle is vroeë binding moontlik

Selfs in mediese noodgevalle is dit meesal steeds moontlik om binne die eerste paar minute ná geboorte te bind. Waar ’n ma ’n keisersnee moes kry, gaan sy dalk ’n paar minute moet wag om haar baba vas te hou terwyl sy toegewerk word. In daardie tyd kan die pa se bors as veilige hawe vir baba gebruik word, waarna hy na sy ma oorgeplaas kan word wanneer sy gereed is.

As ’n baba mediese aandag nodig het, kan daardie baba dikwels op sy ma se bors gestabiliseer word. Op die webwerf www.kangaroomothercare.com is daar verskeie suksesverhale van vroeggebore babas by die Uppsala Akademiese hospitaal in Swede wat met vel-tot-vel-kontak hul ouers se bors as broeikas gebruik en so ure, dae en weke of selfs maande lank aangesterk het.

Direk na geboorte

Gedurende kraam en in die minute ná geboorte ondergaan die ma se liggaam ’n hele paar ongelooflike veranderings. Ma se breinchemie verander, wat haar begeerte verhoog om te voed en versorg. Wanneer baba aan die bors suig, word nog oksitosien vrygestel, wat veroorsaak dat haar baarmoeder weer saamtrek en ophou bloei.

Borsvoeding in die eerste uur ná geboorte verbeter jou baba se kans op oorlewing met rasse skrede en ’n ma wat dadelik voed sal hoogs waarskynlik langer aanhou borsvoed. Babas wat borsvoed se kans is kleiner vir oorinfeksies, asma, diabetes, bloedkanker en wiegiedood. Borsvoedende ma’s het ’n kleiner kans vir borskanker, eierstokkanker en diabetes.

Wat maak borsmelk spesiaal?

Borsmelk het die perfekte kombinasie van proteïen, vette, vitamiene en koolhidrate – daar is niks beter vir jou baba se gesondheid nie. Leukosiete is lewende selle wat slegs in borsmelk gevind word.

Hierdie selle help om teen infeksies te veg. Dis die teenliggame, lewende selle, ensieme en hormone wat borsmelk so ideaal vir jou baba maak – hierdie bestanddele kan nie by formulemelk gevoeg word nie.

In die eerste ses maande van sy lewe het jou baba niks anders as hierdie gebalanseerde voedsel nodig nie. Borsmelk bevorder breingroei, help mammas gewig verloor, en is gerieflik want dis altyd daar, altyd vars, altyd die perfekte temperatuur. Dit spaar geld en tyd en rus ma’s biochemies beter vir moederskap toe omdat dit binding aanhelp.