Aanraking gee ons ’n sin van ons liggaam en vertel ons of ons bedreig of vertroos word. Dit skakel met ons emosies.

Aanraking is ’n kosbare manier om jou liefde aan jou baba te kommunikeer. Toe jy jou kleinding vir die eerste keer vasgehou het, het jy waarskynlik sy koppie en klein vingertjies sonder ophou gestreel. Dít is die oorweldigende instink om deur aanraking te bind. Aanraking is nie net ’n wonderlike manier om te bind nie – dit is absoluut noodsaaklik vir jou baba se leervermoë, ontwikkeling en selfs oorlewing.

Belangriker as kos

In die 1930’s en 1940’s het navorsing deur die Amerikaanse sielkundige Harry Harlow, ’n voorloper in die veld van aanrakingsnavorsing, gewys presies hoe noodsaaklik aanraking vir ’n nuwe baba is.

In hierdie navorsing is pasgebore apies van hul ma geskei en grootgemaak deur twee fopma’s wat van draad en maasstof gebou is.

Die eerste “ma” het melk met ’n bottel aan albei gegee en die ander “ma” het nie melk gebied nie, maar was bedek met ’n sagte, gebreide en rekbare handdoekstof bo-oor die harde maasstofliggaam.

Dit was merkwaardig om te sien hoe die apies hul tyd meestal op die maag van die sagter “ma” deurgebring het en slegs die harder “ma” vir ongereelde voedings besoek het. Dit wys dat die behoefte aan aanraking selfs die behoefte aan voeding oorheers.

Wat ’n baba kan voel

Wanneer dit by die basiese behoefte aan aanraking kom, is ons menslike babas nie anders nie – aanraking is noodsaaklik om te kan groei en oorleef, fisiek sowel as emosioneel.

Aanrakingsinsette word deur jou baba se vel, gewrigte en organe ontvang en dra inligting aan sy brein oor oor temperatuur, pyn, aanraking en drukking.

Aangesien hierdie insette mettertyd verfyn word, leer jou baba ook waar hy aangeraak is, hoe hard dit was en selfs wat hy voel. Aanraking gee ons ’n sin van ons liggaam en vertel ons of ons bedreig of vertroos word.

Dit het dus ’n noue skakel met ons emosies. Jou baba se sin vir tas is met geboorte een van sy mees gevorderde vaardighede. Hoewel hy jou nie so duidelik kan sien nie (babas kan met geboorte omtrent net 25 cm ver sien), voel hy jou kalmerende aanraking onmiddellik wanneer jy hom liefkoos.

Hy voel ook die verandering in temperatuur van die warm omgewing in die baarmoeder tot die kouer lug van die teaterkamer. Hy sal die pynlike prik van ’n naald voel, maar dit sal ’n rukkie duur voor sy sin vir tas so gevorderd is dat hy weet waar hy aangeraak of geprik word.

Babas wat nie aangeraak word nie, floreer nie. Navorsing het gewys dat wesies minder floreer het as hulle nie liefdevol vasgehou en aangeraak is nie, al is daar genoeg en gereeld in hul voedingsbehoeftes voorsien.

Ons weet ook dat pasgeborenes wat gemasseer word vinniger gewig aansit en beter slaap as dié wat nie gemasseer word nie.

Aanraking maak slim

Aanraking speel ’n enorme rol in leervaardighede, koördinasie en selfs intelligensie. Wanneer jy jou baba aanraak en liefkoos, begin sy brein ’n interne kaart van sy liggaam vorm.

Hy het ’n goeie begrip van sy liggaamstelsel nodig om sy bewegings te koördineer (motoriese beplanning). Jou baba sal byvoorbeeld na ’n bal wat uit sy bewertjie hang reik, want hy weet waar sy hande is en hoe om dit in die rigting van die bal te stuur.

As hy weet waar sy mond is, kan hy die bal na sy mond toe trek om dit verder te verken. Later word dié motoriese beplanningstake meer ingewikkeld, soos wanneer hy leer fietsry of skryf.

Die fondament van al dié vaardighede lê in jou liefdevolle liefkosing. Sonder ’n sterk liggaamstelsel leer jou baba nie hoe sy liggaam by hierdie wêreld inpas nie. Dié vermoë staan as ruimtelike bewustheid bekend.

As jou baba sy liggaam deur aanraking leer ken, ontwikkel hy ’n ruimtelike skets van homself en uiteindelik van die wêreld om hom. Hy leer byvoorbeeld “ek is só groot en kan onder die stoel pas”.

Dit sal hom eendag baie in die kleuterskool help waar hy ruimtelike speletjies soos legkaart- en blokkiesbou speel. Dit is ook later noodsaaklik vir ’n goeie begrip van wiskunde en wetenskap.

Eenvoudig gestel: Deur jou baba aan te raak, ontwikkel jy goeie liggaamstelsels wat noodsaaklik is vir verkenning en leervaardighede en wat op die lange duur bydra tot jou baba se intelligensie.

Die fondament van liefde

Binding ontwikkel in die eerste jaar van ’n baba se lewe en vorm die fondament van al jou baba se verhoudings, selfs dié wat hy later in sy lewe vorm.

Aanraking maak deel uit van die vorming van ’n hegte band. Die meeste ouers vind dit onweerstaanbaar om hul pasgeborene se sagte hare of sysagte vel te streel. Dieselfde plesier wat ons daaruit put, word weerspieël in die meeste babas se reaksie tot aanraking.

Babas bind vinnig met die persoon wat hulle aanraak en hulle versorg.

Maklike masseertegnieke

Koeimelkery

Streel albei jou baba se bene afwisselend van sy heupe tot by sy enkels deur met twee hande op ’n slag elkeen van sy bene te vryf.

Herhaal dan met een hand op ’n slag deur van sy heupe ferm en stadig in die rigting van sy enkel te vryf. Dis dieselfde aksie as wat ’n mens gebruik om ’n koei te melk. Die skepwiel Dit kalmeer die meeste kleingoed.

Plaas een hand net onder jou baba se ribbes en laat jou hand in die rigting van sy lies gly. Net voor jy jou hand lig, moet jy die ander hand onder sy ribbes plaas en die beweging herhaal. Behou deurentyd kontak met jou baba se vel. Herhaal hierdie beweging ’n paar keer.

Vingerdrukkies

Hou die basis van jou baba se vinger (een vinger op ’n slag) en gly met jou vingers tot by die punt van die vinger, terwyl jy dit rol en druk. Herhaal met elke vinger tot jy al tien gedruk en gestreel het.

Streel albei jou baba se bene afwisselend van sy heupe tot by sy enkels deur met twee hande op ’n slag elkeen van sy bene te vryf. Herhaal dan met een hand op ’n slag deur van sy heupe ferm en stadig in die rigting van sy enkel te vryf. Dis dieselfde aksie as wat ’n mens gebruik om ’n koei te melk.

Die skepwiel

Dit kalmeer die meeste kleingoed. Plaas een hand net onder jou baba se ribbes en laat jou hand in die rigting van sy lies gly. Net voor jy jou hand lig, moet jy die ander hand onder sy ribbes plaas en die beweging herhaal.

Behou deurentyd kontak met jou baba se vel. Herhaal hierdie beweging ’n paar keer. Vingerdrukkies Hou die basis van jou baba se vinger (een vinger op ’n slag) en gly met jou vingers tot by die punt van die vinger, terwyl jy dit rol en druk. Herhaal met elke vinger tot jy al tien gedruk en gestreel het. 

Topwenke vir babamassering

Babamassering is ’n wonderlike ervaring vir jou en jou baba en jy kan kort ná geboorte al daarmee wegspring.

  • Kies ’n tyd van die dag wanneer jou baba kalm en wakker is. Vir die meeste babas werk soggens die beste.
  • Trek jou baba se klere in ’n warm kamer uit. Los liewer sy doek en frokkie aan as dit koud is.
  • Masseer jou baba met babaolie of -room en sê altyd eers vir hom dat jy aan hom gaan vat voor jy aan hom raak.
  • Neem altyd jou baba se ouderdom in ag, asook hoe gewoond hy aan massering is. Om mee te begin kan jy jou baba dalk net een of twee keer streel en kyk of hy wys dat dit vir eers genoeg is.

Raakgekoop

Dié babavelsorgreeks van Purity & Elizabeth Anne’s is geurvry. Akwaroom R31,49 (325 ml), petroleumjellie R26,79 (250 ml), sjampoe- en-reinigingsmiddel R44,99 (200 ml). By alle groot kleinhandelaars en babawinkels te koop.