Hoe het Kids Living begin?

Ek het in Nederland in die reisbedryf gewerk en my man, Jeroen (50), vir die meubelgroep Ikea. Ek was nog altyd gek oor dekor. In 2006 het ons kom kuier by my swaer en skoonsuster in Suid-Afrika, wat toe net hul eerste baba gehad het. Ons het verlief geraak op die land. Ons het hier na ’n musiekboksie vir die baba gesoek, maar kon nie een kry nie. Dit het ook gevoel asof daar soveel pragtige huise in Suid-Afrika is, maar nie een ordentlike babadekorwinkel nie. Ons het daarvan begin droom om een in Suid-Afrika te begin, want ons het geweet watter wonderlike babaprodukte daar in Europa beskikbaar is. In April 2008 het ons Suid-Afrika toe gekom, kinders en al, en in Desember het ons Kids Living oopgemaak. Die tweeling, Sophie en Phillipe (nou 15), was toe vyf.

Werk jy en jou man saam?

Ek en Jeroen ken mekaar al vandat ons 16 is en is baie goeie vriende. Baie mense het al vir my gevra hoe ek saam met my man kan werk, maar ons het ’n ongelooflike verhouding en selfs al stry ons oor iets, kan ons dit altyd uitwerk. Jeroen hanteer die administrasie en invoer van goedere, terwyl ek op die aankope en dekor fokus. Ons is ’n volmaakte kombinasie; ons eienskappe vul mekaar aan.

Hoe hanteer jy die ma-werk-balans?

Toe ons destyds na Suid-Afrika verhuis het, was die kinderoppassers hier iets wonderliks wat ons nie in Nederland ken nie. Die kombinasie van ’n skool in dieselfde straat en ’n oppasser tuis het uitstekend gewerk, veral in die beginjare van ons besigheid. Boonop het my ouers ook vir ses maande gekom om ons te help. Hulle kom steeds elke jaar vir ses maande en dit help geweldig. In eksamentye, wanneer die kinders my nodiger het, werk ek dikwels van die huis af sodat hulle kan voel ek is byderhand. Ons doen ook moeite om Sondae as gesin saam deur te bring. Saterdae kan die kinders vriende oornooi, maar Sondae is dit net die vier van ons en dan ry ons saam branderplank of doen inkopies. Bygesê, ons het net op die regte tyd met Kids Living begin. Ek sou nie kon doen wat ek nou doen as my kinders nog babas was nie. Dis perfek wanneer hulle ’n bietjie ouer is, want dan is hulle effens meer onafhanklik.

Het jul ondervinding in die Europese mark gehelp?

Dit het beslis. Ek dink ons het vinnig gegroei omdat ons die Europese handelsname so goed geken het en presies geweet het wat ons soek. Aanvanklik het baie min ondernemings in Suid-Afrika babaprodukte ingevoer. Later het ál meer handelaars daarmee begin, maar ons het ’n voorsprong gehad omdat ons al geweet het wat verkrygbaar is. So het ons byvoorbeeld die eerste stootwaentjies met drasakke ingevoer. Dit was amper asof ons destyds die ma’s moes oplei, maar vandag is dit algemeen.

Jou topwenke vir ander ma-entrepreneurs?

Weet presies wat te alle tye in jou besigheid aangaan. Ek is oral betrokke: Ek help skeepsvragte uitpak en is altyd in die winkel om te sien wat op die vloer aan die gang is en wat met die personeel aangaan. Selfs toe die besigheid al gegroei het en ek streng gesproke bietjie kon terugstaan, het ek dit te veel geniet en heeltemal in die besigheid gebly. Baie ma-entrepreneurs begin sterk, maar onttrek en stel bestuurders aan sodra die onderneming begin groei, veral na so vier tot vyf jaar wanneer hul kinders ouer begin word. Jy moet deurdruk.

Watter eienskappe dink jy maak van jou ’n goeie ma-entrepreneur?

Ek dink ek is ’n goeie aankoper en my produkkeuse is goed. Ek kan sien wat die mark nodig het. Ek luister baie fyn na kollegas en kliënte en hou heeltyd my vinger op die pols van die nuutste modes. Ons gaan woon gereeld uitstallings in Europa by en volg die modes daar. Ons doen regtig moeite om die nuutste en beste aan te koop. Die kliënte is ook baie beïndruk met die uitleg en voorkoms van ons winkels, want om by ons te koop is ’n ervaring. Ons verander die dekor elke ses maande.

Julle het die onlangs na Johannesburg uitgebrei?

Ons het soveel kliënte van Johannesburg gehad wat selfs Kaapstad toe gevlieg het om ons winkel te besoek. Ons kon sien daar is ’n behoefte en mense het gesê as iets in Kaapstad werk, sal dit beslis in Johannesburg werk. Ons kon aanvanklik nie, want ons kinders was nog te klein. Maar een Sondag het ons dit al vier bespreek en saam besluit om dit te doen. Ons het die kinders deel van die besluit gemaak, want jy moet 100 persent daar wees vir jou gesin en 100 persent vir die winkel, en as die een nie die ander ondersteun nie, gaan dit nie werk nie. Boonop wil ons hê die kinders moet voel hulle is deel van die besigheid; hulle is oud genoeg.

Grootste vrese?

Toe ons aanvanklik met Kids Living begin het, het ons die normale vrese gehad. Sou dit werk? Sou die onderneming groei? Sou ons regkom? Ons het nietemin besluit om die kans te waag. Met die uitbreiding na Johannesburg was ons grootste vrees of ons kliënte dieselfde ervaring daar sou hê as in Kaapstad. Maar ons het gelukkig uitstekende personeel en hulle kry dit goed reg om dieselfde atmosfeer in die Johannesburgse winkel te skep. Ek vlieg elke tweede week Johannesburg toe, want ek hou daarvan om met die kliënte te gesels. Dit maak dit ook makliker vir die personeel om met my in kontak te bly.