Jou baba is die mooiste, liefste ding in die wêreld, maar daar is net een probleem: Hy slaap byna glad nie. Jy lyk soos ’n uitgewaste lap en kry moordgedagtes as mense praat van babas wat, wel, soos ’n baba slaap. Goeie slaapgewoontes kan ’n groot verskil maak, sê kenners, maar hoe op aarde kry ’n mens dit reg? Begin deur rondom jou baba se eie ritme te werk, sê Erica Neser van Baby Sleep Zzzone, skrywer van verskeie boeke oor die onderwerp. “Moenie ’n roetine aan jou baba opdwing nie. ’n Roetine val gewoonlik natuurlik in plek. Kyk na jou baba se ritme – wanneer slaap hy en wanneer is hy wakker? – en werk daar rondom.” Pas ook op vir te veel van ’n voedingsroetine, sê Erica.

Una van Staden, slaapkonsultant & eienaar van Pika
Una van Staden, slaapkonsultant & eienaar van Pikanini Baby Academy 082 456 8566, una@pikanini.co.za, pikanini.co.za. Die webwerf lullabytrust.org.uk bevat oulike wenke vir slaapveiligheid.
Erica Neser, babakenner, stigter van Baby Sleep Zz
Erica Neser, babakenner, stigter van Baby Sleep Zzzone en skrywer 083 292 5252, ericaneser@gmail.com, babysleep.co.za, ericaneser.co.za. Erica se nuwe slaap­boek is gratis in ’n e-boekformaat op haar webtuiste beskikbaar.

Babas, veral dié wat geborsvoed word, het ongereelde voedingstye, soms ’n uur uitmekaar en soms vyf uur uitmekaar. Sommige kere wil jou baba dalk vinnig drink en ander kere weer langer. “Elke ma en baba vind hul eie ritme, maar keer dat ’n horlosie jul lewe reguleer. Onthou dat jy nie jou baba by jou roetine kan laat aanpas nie; dit werk andersom. Pas jou roetine by jou baba aan,” sê Erica.

Ouers wat hul baba in hul eie roetine probeer indwing, raak gefrustreerd – en die baba ook. Die roetine ontstaan uiteindelik vanself op ’n natuurlike manier, want babas hou van voorspelbaarheid. Una van Staden, ’n slaapkonsultant en eienaar van Pikanini Baby Academy in Johannesburg, stem saam: “ ’n Baba se roetine word nie deur ’n horlosie bepaal nie. Moet haar byvoorbeeld nie bedags wakker hou in die hoop dat sy moeg raak en saans slaap nie. Die teenoorgestelde sal gebeur. “Skep liewer goeie slaapassosiasies vir jou baba soos om haar ’n slaapkombersie as troosvoorwerp te gee. Namate sy groter word, sal sy leer om haar self daarmee te troos as sy wakker word.”

Una se wenke vir ’n gesonde slaappatroon
  1. Pasgebore babas slaap beter as hulle knus toegewikkel word. Ons kry baie positiewe terugvoering oor die “Love to Dream”-toewikkelsakkie wat babas toelaat om in hul natuurlike liggaamlike posisie te slaap. Dit voorkom dat hulle as gevolg van die skrikrefleks wakker word.
  2. Klein babas is geneig tot winde ná voedings en moet sowat vyf minute ná elke voeding (of gedurende die voeding) liggies op die rug gevryf word om die winde te laat uitkom. Babas se slaap word deur winde en krampe versteur.
  3. Moet snags liewer nie met baba speel of gesels terwyl hy drink nie. Dis onnodige stimulasie.
  4. Babas sal begin om gebruike soos bad- en storietyd met slaaptyd te verbind. ’n Goeie slaaptydroetine vir babas is: bad, slaaptydvoeding, ligte agtergrondgeluide, ligte gewieg en dan word die baba lomerig met sy slaapkombersie neergelê. Moenie jou baba se slaapkamer tussen bad- en slaaptyd verlaat nie. Vestig ’n slaaptydroetine waartydens alles (eet, bad, storie lees, ensovoorts) in ’n vasgestelde orde geskied.
  5. Babas moet in hul daaglikse roetine gelei en geleer word hoe om dit aan ’n slaapsiklus te koppel. Speel bedags met jou baba as hy wakker is en lê hom neer wanneer hy moeg is. Nie net maak ’n roetine die lewe meer voorspelbaar vir ma, pa, baba en die res van die gesin nie, dit maak die lewe makliker omdat almal weet wat om te verwag. Mamma is ook in staat om probleme beter op te los. Daar is geen vaste patroon vir babas se dag nie. Soms gaan hulle voor ’n dagslapie drink en soms wanneer hulle wakker word. Dit hang alles van die duur van die vorige slapie af. Hoe lank jou baba wakker is, bepaal wanneer hy weer moet slaap. ’n Gesonde slaapsiklus vir ’n baba is sowat 45 minute deur die dag.

Erica se wenke vir goeie slaapgewoontes
  • Pasop vir die soort slaapafrigting waar die baba geïgnoreer word en vir langer en langer tye huil. Dit kan ma en baba emosioneel skaad. Die baba se streshormone werk oortyd en al wat hy leer, is dat niemand kom nie en hy sy ouers nie kan vertrou nie. 
  • ’n Gesonde slaappatroon bestaan uit verskeie slaapblokke van ongeveer een uur elk, met voedings en vertroosting deur die nag. Tussen drie en 12 maande smelt die blokke geleidelik ineen.
  • Babas is nie veronderstel om van vroeg af deur te slaap nie. Dis normaal om in die eerste jaar gereeld vir voeding of troos wakker te word.
  • Dis natuurlik en gesond dat ’n baba naby sy ma slaap. Dit lei tot gesonde breinsiklusse en meer rus vir almal.
  • Koester jou baba en reageer as hy huil. Dit skep ’n grondslag van liefde en vertroue. Moenie luister as mense vir jou sê dis verkeerd om jou baba vas te hou of te wieg om hom aan die slaap te sus nie. Babas floreer op koestering.
  • Aanvaar dat onderbroke slaap tot drie- tot vierjarige ouderdom normaal is en vermy streng skedules.
  • Moenie voor ses maande te veel van ’n vaste roetine verwag nie.
  • Borsvoeding is die maklikste en natuurlikste manier waarop ’n baba aan die slaap kan raak.
Baba se slaapplek Erica se wenke

  • Jou huis hoef nie heeltemal stil te wees as jou baba in die dag slaap nie. Hy voel juis veiliger as hy stemme hoor. Jy kan wel ouer kinders leer om nie te skree nie, veral as jou baba vir skielike geluide skrik.
  • Agtergrondmusiek of witgeraas kan help om omgewingsgeluide uit te skakel. Goeie musiek vir slaaptyd is rustige klassieke musiek of sagte natuurgeluide. Herhalende, voorspelbare melodieë werk gewoonlik goed.
  • Pasgebore babas gaan nie van ’n groot bed hou nie. ’n Kleiner mandjie kan hom veiliger help voel.
  • Daar is oulike bedjies beskikbaar wat reg langs ma se bed staan as jy jou baba naby wil hou, maar nie in jou bed nie.
  • ’n Baba moenie te warm kry nie – oorverhitting is gevaarlik.
  • Sommige babas slaap beter met ’n naglig aan. ’n Blou lig onderdruk glo ons slaaphormone, dus is ’n rooi-oranje lig ’n beter idee. Hou dit dof.
  • Die veiligste slaapposisie is op die rug.
  • As jy ’n lomerige of slapende baba van jou arms na die kot skuif, sit hom sitvlak eerste in die bed en nie kop eerste nie, want dit kan sy skrikrefleks aktiveer. Hou jou hande eers op hom as jy hom in die bedjie sit. Dit kan ook help om sag te sing terwyl jy hom neersit. Sing steeds sag terwyl jy uit die kamer beweeg.
  • ’n Bababedjie moet ’n ferm matras hê en geen kussings nie. Plaas jou baba met sy voete teen die onderste deel van die bedjie om te keer dat hy onder die komberse beland.
  • Geen elektriese kombers of warmwatersak moet in ’n bababedjie wees nie. Beddegoed van natuurlike stowwe is ideaal.