(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Mei 2016, bladsy 92) 

Dagslapies vir jou baba en peuter is veel meer as ’n vinnige ruskans vir slim ma’s. Dit is ’n belangrike deel van jou baba se roetine en het ’n regstreekse invloed op sy ontwikkeling en gemoedstoestand.

’n Oormoeë baba is immers ’n moeilike baba en dit wil jy tot elke prys vermy. Tog is dagslapies dikwels ’n groter uitdaging as om jou baba of peuter in die nag te laat slaap. Ons het by kenners gaan kers opsteek ...

’N RUSKANS VIR BABA

Hoeveel jou baba deur die dag slaap, hang in ’n groot mate af van sy ouderdom en persoonlikheid, sê Lee-Ann Stretch van Sleep Matters in Johannesburg (www.sleepmatters.co.za). “Elke baba verskil, maar daar is basiese riglyne.”

Lees: 5 slaapgeheime

’n Baba onder drie maande slaap vier tot vyf keer per dag, verduidelik Megan Heuer, ’n spelterapeut, berader en slaapafrigter van Pretoria (www.meganheuer.co.za). ’n Baba van drie tot ses maande sal waarskynlik drie dagslapies geniet, ’n baba van ses tot 12 maande sal twee keer in die dag slaap en een van 12 tot 18 maande het twee of een dagslapies nodig, afhangende van die individuele kind.

Dis egter die wakker tye tussen dagslapies wat die belangrikste is vir die vestiging van ’n goeie dag-slaaproetine. “Hoe laat jou kind van ’n slapie wakker word bepaal wanneer hy weer gaan slaap, nie hoe lank hy geslaap het nie,” verduidelik Megan.

Dit is daarom baie belangrik dat die wakker tye tussen dagslapies goed beheer word, want as te veel tyd tussen die slapies verloop, word jou baba of kind oormoeg, is Lee-Anne se raad.

Dan word adrenalien vrygestel en jou kleinding baklei teen die slaap. Baba weet nie wat om te doen om hom self te kalmeer nie, en dit het ’n invloed op sy slaap. ’n Mens kyk ook na wanneer die laaste dagslapie geëindig het om te bepaal hoe laat hy die aand moet gaan slaap.

Elke ouderdom het sy eie wakker tye: Hoe ouer babas word, hoe langer word die wakker tye, want hoe beter kan hulle al die bedrywighede en stimulasie in hul omgewing hanteer.

Lees: Naweekslapies 'n nagmerrie

By ’n baba van ses tot nege maande moet sowat twee tot twee en ’n half uur tussen slaaptye verloop. Babas van nege tot 12 maande kan gemaklik twee en ’n half tot drie uur op ’n slag wakker bly. ’n Driejarige moet ’n uur per dag slaap, terwyl jonger kinders meer slaap nodig het.

IS DAGSLAPIES OPSIONEEL?

Dis dikwels moeiliker om dagslapies toe te pas as die nagslaaproetine – veral by peuters en kleuters – omdat daar bedags soveel dinge gebeur en te sien is. Dagslapies is egter nie onderhandelbaar nie, beklemtoon Lee-Ann. “As ’n baba of peuter nie deur die dag slaap nie, slaap hulle snags ook moeiliker,” sê sy.

Megan beaam dit: “Dis ’n mite dat ’n baba wat snags sleg slaap, bedags minder moet slaap. Ons ervaring wys dat dagslapies babas help om snags ook goed te slaap.”

Lees: Slaap salig, liewe baba

Slapende babas verkeer 80 persent van die tyd in REM-slaap. Omdat hulle nie so diep slaap soos volwassenes nie, het hulle heelwat meer slaap nodig. Slaap is noodsaaklik vir hul fisieke en sielkundige ontwikkeling en dagslapies is ononderhandelbaar in die eerste drie lewensjare, sê Megan.

VAN TWEE NA EEN

Jou kind kan enige tyd ná sy eerste verjaardag van twee dagslaapsessies (een in die oggend en een in die middag) na net een in die middag begin oorskakel. Lee-Ann sê haar ervaring het gewys dat kinders gewoonlik tussen 14 en 18 maande genoeg wakker tyd het dat hulle net een keer per dag hoef te slaap. Dis is gewoonlik ’n moeilike oorgangstyd vir ouers, aangesien twee slapies vir ’n ruk dalk te veel is, maar een weer te min.

’n Geleidelike oorgang is nodig. Dit kan ouers dikwels tot ’n maand kos om baba van twee na een slapie te help oorskakel, sê Megan. “Die maklikste manier is gewoonlik om in die loop van ’n paar dae jou kleinding se wakker tyd geleidelik te verleng.

Terselfdertyd is dit belangrik om sy aandslaaptyd buigsaam te hou, want dagslaap het ’n direkte invloed op die nag se slap en andersom. As jou baba bedags minder slaap, kan hy dalk saans vroeër moeg word.

Lees: Laat haar slaap

Jy wil nie hê jou baba moet saans oormoeg wees nie, want dan gaan hy moeiliker aan die slaap raak. “In hierdie oorgangstyd kan dit dus nodig wees om jou kleinding saans effens vroeër bed toe te stuur.”

MOET EK HOM WAKKER MAAK?

Hoe gemaak as jou baba of peuter in die dag ’n buitengewone lang slapie inpas? Lee-Ann sê sy sou ’n kind net uit sy middagslapie wakker maak as dit ’n invloed op sy nagslaap gaan hê. “As jou kind in die dag lank slaap en steeds in die nag maklik aan die slaap raak, sou ek hom los.

Sommige kinders het meer slaap as ander nodig. As jou kind sukkel om saans aan die slaap te raak, kan jy hom wakker maak.”

Dit is wel belangrik om jou kleinding nie te na aan sy aand-slaaptyd nog te laat slap nie. “Moenie dat jou AS OUBOET EN BABA

SUKKEL OM TE SLAAP

Hoe gemaak as ouboet woel en baba wil slaap? Daar is geen maklike antwoord vir dagslapies as jy kinders in twee verskillende ontwikkelingsfases het nie, sê Megan.

Omdat ’n peuter of kleuter gewoonlik net een keer per dag slaap en ’n baba ten minste twee keer, sal dit moeilik wees om hul slaaptye 100 persent te koördineer.

Lees: 10 slaapprobleme opgelos!

“Ons sê gewoonlik vir ma’s dat as jou een kind slaap terwyl die ander wakker is, is dit die ideale tyd om gehaltetyd saam met die wakker een deur te bring.”

As dit vir jou erg moeilik of veeleisend word, beveel sy die volgende aan:

  • Laat jou baba in die stootwaentjie slap en gaan stap ’n ent met jou peuter of kleuter terwyl hy dalk op sy fietsie ry – dis ’n lekker uitstappie.
  • As jou baba nog baie klein is, kan jy haar in ’n drasak sit terwyl jy met jou peutertjie werk of speel.

“Die geheim is maar om die opsie te kry wat die beste vir jul gesin werk.” Afhangende van jou kinders se ouderdom kan jy wel hul middagslapie koördineer deur byvoorbeeld albei 12:00 in die bed te sit, sê Lee-Anne. Dit word egter moeilik as die baba ses maande of jonger is, omdat hy dan drie keer per dag moet slaap teenoor ’n peuter wat net een keer per dag slaap.kind later as 16:30 slaap nie, anders gaan hy sukkel om in die aand te slaap,” reken Megan.

NAWEEK-SLAAPROETINES

As jou kleinding deur die week by ’n skooltjie is en daar dagslapies geniet, is dit ’n goeie idee om oor die naweek by dieselfde roetine en tye te hou, is Lee-Ann se raad. Roetine laat kinders floreer en hul liggaamshorlosie is ingestel op ’n sekere slaaptyd, want dit is waaraan hulle in die week gewoond is.

Hoewel ’n mens oor die naweek nie heeltemal so streng hoef te wees nie, sal dit julle baie help as julle so na as moontlik aan die skooltye bly. Party ouers kry dit reg om naweke ’n ander roetine te volg, maar die meeste kinders vaar beter as die skoolroetine gehandhaaf word.

En ja, dit is moontlik dat jou kind baie soeter by sy skooltjie of selfs sy oppasser slaap as by jou! “Ouers is dikwels minder streng en dit veroorsaak dat kinders tuis meer weerstand teen slaap bied. Soms word hulle ook oormoeg en baklei dan teen slaap,” sê Megan.