book-icon Uitgawe Oktober & November 2019

Doekruillesse

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Jy gaan in die eerste drie jaar van jou baba se lewe minstens ’n halfdosyn keer per dag doeke ruil. Dis dus ’n goeie plan om ’n spesiale doekruilstasie in te rig waar jy gemaklik kan staan en werk. Maak seker baba gaan ook gemaklik daar lê en dat dit groot genoeg is dat jou baba as peuter ook daar kan lê. As jy in ’n dubbelverdiepinghuis woon, skep op elke vloer so ’n stasie. Die doekruilstasie kan in die babakamer wees of in die badkamer. Koop doeke van die regte grootte. As jy weet wat jou baba weeg, is dit maklik. Ouderdom is nie so belangrik soos gewig nie. Wanneer doeke gereeld begin lek, is dit waarskynlik tyd om na ’n groter doek oor te skakel.

Sorg dat alles wat jy nodig gaan hê, byderhand is. Jou baba mag nooit alleen daar lê nie, want netnou val sy af. Doeke, vogdoekies, watte en water, poeier, boudjiesalf, ’n ekstra stel klere, ’n handdoekie, ’n antibakteriese sproei ... Beplan só dat jy selfs die rofste poef of tandedoek met ’n mate van grasie kan hanteer. Belê in ’n goeie doekdrom wat reuke wegsluit, of neem jou voor om elke keer die doek elders te gaan weggooi. ’n Babakamer moet darem nie na poef ruik nie.

Lê jou baba op sy ruggie neer, maak sy kleertjies oop en skuif dit uit die pad. Maak die doek voor los en gebruik sommer die voorkant van die doek om die ergste poef van voor na agter weg te vee. Vou die poef in ’n stewige bondeltjie binne-in die doek toe. Sit dit eenkant neer. Hou een hand op jou baba terwyl jy met die ander hand die vogdoekie of watte beetkry. (Alles staan mos reg!) Vee baba van voor na agter skoon. Jy kan ’n dogtertjie se geslagdeel sagkens ooptrek om seker te maak jy kry al die poef uit. Seuntjies is lief vir piepie wanneer hulle die vars lug voel. Moenie uitgevang word nie – niemand kan gou genoeg koes vir so ’n straal nie. Sit ’n snesies of waslappie oor sy penis wanneer jy die doek afhaal om ’n nat gemors te voorkom. Druk die gebruikte vogdoekies of watte ook by die toe doek in en gooi alles weg. Met pasgeborenes: Wees gewaarsku – wanneer jy die beentjies lig en hulle in die rigting van die magie druk, kan dit tot ’n poefontploffing lei. Met ouer babas: Hulle kan woelig wees. Maak seker daar hang ’n interessante bewertjie bo die doekruiltafel, of gee hulle ’n sagte boekie of speelding om mee te speel. Gesels deurentyd met jou baba. Doekruiltyd kan ook lekker bindingstyd wees. Maak altyd van voor na agter skoon. Dit help om blaasontsteking te voorkom.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees