VRAAG:

Behoort ’n kind of baba ’n sonbril te dra? En hoe kies ek een vir my kind?

ANTWOORD:

In die warm, sonnige Suid-Afrika is dit belangrik om jou oë sowel as jou vel teen die langtermyn- newe-effekte van ultravioletstrale te beskerm. Byna 99 persent van UV-strale word deur die oë geabsorbeer. Chroniese blootstelling kan lei tot skade aan die kornea, katarakte en makulêre degenerasie, wat blindheid tot gevolg kan hê. Okulêre melanoom is ’n soort velkanker wat ook in die oog kan ontwikkel. Kinders het ’n verhoogde risiko vir sonskade omdat hulle meer tyd buite deurbring. In vergelyking met volwassenes het hul oë helder lense en groter pupille – meer lig dring dus die oogweefsel binne en dit kan tot komplikasies lei. Al kan UV-skade behandel word, is dit onomkeerbaar. Dit kan in ’n mini-oorlog ontaard as jy jou kleinding ’n sonbril wil laat dra. Babas wat al vroeg daaraan gewoond geraak het, aanvaar dit meer geredelik as dié wat glad nie daaraan gewoond is nie. Dit word meestal afgepluk en beland op die vloer of in die mond. Wanneer jy ’n sonbril vir jou baba of kleuter kies, is dit belangrik om op die uitkyk te wees vir een wat minstens 99 persent van die UV-strale blokkeer. Die raam en lense moet ook breekbestand wees. Vir kleiner kinders en babas is ’n reeks met ’n elastiese kopband meer prakties, omdat hulle dit dan nie so maklik kan aftrek nie. Kleuters en groter kinders kan aan die soektog deelneem en ’n ontwerp kies met hul gunsteling-strokieskarakter of wat lyk soos een wat ’n TV-karakter dra.