Droomland toe met jou

akkreditasie
As jou baba 'n slaaproetine het, maak dit jou en haar meer ontspanne. Maar hoe begin jy met so 'n roetine?

Babas slaap meestal ’n groot deel van hul lewe om, maar die meeste pasgeborenes se slaapsiklus is maar taamlik wisselvallig. Namate hulle ouer word, verander hul slaapbehoeftes en ook hul slaapsiklus. Daar is gelukkig heelwat wat jy kan doen om jou baba se slaapgewoontes te beïnvloed en van vroeg af ’n slaaproetine te kweek.

Hier is voorstelle wat jou baba – en jou – sal help om ’n goeie nag se slaap in te kry.

0 tot 3 maande

Wanneer moet ’n mens met ’n slaaproetine begin? Sodra jou baba te lank aaneen in die dag slaap en snags gereeld wakker word. Dit gebeur meestal iewers in baba se eerste drie maande. As hy bedags meer as snags slaap, beteken dit hy ruil sy dag- en nagroetine om.

Help hom om in die nag beter te slaap deur hom bedags meer gereeld wakker te maak, soos elke drie uur vir ’n voeding. As jy sukkel om hom wakker te kry, haal eers sy kombersies af sodat hy stadig wakker word.

Laat dag- en nagvoedings verskil. Bedags kan jy hom in helder daglig voed terwyl musiek speel, en snags kan jy die vertrek donker en stil hou. Maar moet hom nie bedags te min laat slaap in die hoop dat hy in die nag beter sal slaap nie. Dit werk nie!

Wenke:

Moenie jou baba se aandslaaproetine te laat begin nie en sorg dat hy elke dag dieselfde tyd gaan slaap. Soms sal jy egter nie daarby kan hou nie, soos wanneer julle gaan kuier of kuiergaste kry.

Begin met ’n kalmerende roetine 30 tot 45 minute voor slaaptyd. Dit kan ’n bad insluit, en jy kan rustig saam met hom op die bed lê en saggies sing. Gee sy laaste voeding in die kamer waar hy gaan slaap. Hy sal waarskynlik in jou arms aan die slaap raak; lê hom dan saggies neer.

Babas onder drie maande het dikwels teen 10-uur nog ‘n voeding nodig voor hulle verder slaap. Dit sal ál vroeër geskied soos hul ouer word.

3 tot 6 maande

Op dié ouderdom kan die meeste babas snags 10 uur lank sonder ’n voeding klaarkom, maar moenie stres as jou baba nog wakker word om te voed nie.

Hou die tyd waarin julle rustig raak konstant en dieselfde; babas het hierdie voorspelbaarheid baie nodig. Jou baba sal nou tussen ses- en agtuur saans wil gaan slaap. Sit hom in sy bedjie terwyl hy nog nie diep slaap nie, maar wel vaak is. Dis baie belangrik dat hy in hierdie stadium leer om hom self aan die slaap te maak.

Kinders verskil egter en dis glad nie die einde van die wêreld as hy dit nog nie regkry nie. Moenie moed verloor nie! ’n Baba se slaapsiklus is gewoonlik 40 tot 45 minute lank. As dit is hoe lank hy sy dagslapies is, is dit waarskynlik al wat hy nodig het.

Wenke:

Stel hom bloot aan geluide gedurende sy slaaptye bedags sodat hy kan begin onderskei tussen dagslapies en nagslapies.

Ruil sy doek om net voor jy hom die laaste keer vir die nag voed sodat jy hom nie weer vir ’n doekomruiling hoef wakker te maak. Gebruik goeie doeke wat die hele nag lank hou. Gee hom ’n sagte massering as deel van sy slaaptydroetine.

6 tot 12 maande

Dié ouderdomsgroep reageer baie beter op ’n vroeë slaaptydroetine. Onthou dat babas wat oormoeg is, snags meer gereeld wakker word. Jul slaaptydroetine kan sesuur saans begin, maar moenie verbaas wees as hy soggens vyfuur reeds katjie van die baan is nie!

Wenke:

Babas van hierdie ouderdom behoort nie snags wakker te word vir ’n voeding nie. Verminder die hoeveelheid melk in sy bottel of beperk die tyd wat hy snags borsvoed. Maak seker hy is warm genoeg, maar ook nie te warm nie.

Probeer om nie jou ouer baba uit sy bedjie te tel as hy in die middel van die nag wakker word nie. Vryf sy ruggie, neurie saggies of tik hom liggies op sy boudjies tot hy weer insluimer.

As hy droog, skoon, nie honger nie en ook nie siek is nie, kan jy hom elke nag ’n bietjie langer laat huil voor jy na hom toe gaan. Wag eers vyf, dan 10 en uiteindelik 20 minute voor jy na hom toe gaan, maar moet hom nie optel nie. Dit gaan waarskynlik net ’n paar nagte duur voor hy self aan die slaap raak.

So lyk 'n slaaptydroetine

  • 17:00 -17:30
    Aandete sodra hy saans vaste kos begin eet.
  • 17:30 -18:00
    Rustige speeltyd saam met pappa of mamma. Wees versigtig vir oorstimulasie: Lees ’n storie of sing slaapliedjies.
  • 18:00-18:30
    Badtyd. Hou dit rustig en kalm en moet hom nie te opgewonde laat word nie. Badtyd beteken dis die einde van die dag en begin van die nag. Gaan ná badtyd na sy slaapkamer en bly daar. As hy daarvan hou, kan jy hom saggies masseer voor jy sy slaapklere aantrek – sing ’n spesiale liedjie waarmee hy elke aand sy massering kan verbind.
  • 18:30 -19:00
    Maak die ligte dowwer (donkerte is belangrik vir slaap) en gee hom sy laaste melkvoeding. As hy in jou arms aan die slaap raak, kan jy hom teen
  • 19:00 saggies in sy bedjie lê.

Nog wenke:

Wees realisties. Moenie moedeloos raak as dit voel jy is die enigste lewende wese wat snags nie slaap nie as gevolg van jou baba se slegte slaaproetine. Dis normaal. Baie babas se slaaproetine word omvergewerp wanneer hulle tande kry of siek is.

Doen wat vir júlle werk. Jy werk dalk bedags en voel baie meer gerus as jou baba tussen julle op die bed lê. Daar is geen wet of reël wat dit verbied nie – die doelwit is egter dat almal rustig en deurlopend slaap.

Die ideaal is dat hy in sy eie bedjie slaap en dit regkry om hom self aan die slaap te maak, maar dis beslis nie die einde van die wêreld as hy dit nie regkry nie. Lekker slaap!

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees