Eerste oomblikke

akkreditasie
Die eerste oomblikke saam met jou baba is tye wat jy altyd sal koester - daardie eerste bad, voeding of selfs poefdoek! Ma's deel hul kosbare herinneringe.

Eerste hoorslag

Maudéne van Heerden (29) van Senekal, ma van Sebastiaan (7 weke)

Sebastiaan het ons vroeër verras as wat ons hom verwag het. Ná ’n dag in die hospitaal én emosies wat hoog geloop het, het ek die volmaakte huilstemmetjie in die teater gehoor.

Die oomblik toe ek sy stem hoor, het ek emosies van vreugde, vrede en liefde in my hart en siel ervaar. Ek was dankbaar en dit het my weer laat dink aan die wonder van die lewe.

Wat het gebeur?

Vanaf 16 weke van swangerskap het Sebastiaan vrugwater gesluk om sy longe te help ontwikkel. Só het hy geoefen om asem te haal.

Teen 24 weke het sy longe surfaktant begin produseer. Die surfaktant hou die klein lugblasies (alveoli) in die longe oop, vergroot dit met sy eerste asemhaling en voorkom dat dit platval met sy eerste asemteug.

In die baarmoeder kon Sebastiaan geen geluide maak nie, aangesien sy lugpyp vol vrugwater was, maar ná geboorte is sy lugpyp met lug gevul sodat sy stembande kon vibreer – wat daardie eerste huilgeluidjies voortbring wat jy gehoor het!

Eerste aanskouing

Melanie Philips (31) van Pretoria, ma van Collin (18 maande)

Toe ek jou die eerste keer sien, het jy my hart en my oë oopgemaak vir die wonder van die lewe self. In my oë was jy perfek! Jy het dadelik in my arms geskuil en in my hart geglip. Ek was trots en dankbaar. My wêreld het gaan stil staan, want jy was volmaak en vir daardie oomblik net myne. Ek kon net dankie sê.

Wat gebeur?

Op 17 weke in jou baarmoeder het Collin se ogies al sensitief geraak vir lig en hy kon ook onderskei tussen lig en donker. Teen 27 weke het die pigment in sy irisse reeds ontwikkel en het hy sy oë oop- en toegemaak. Hy kon toe nog nie goed sien nie en was bysiende, nes hy is met geboorte.

Met geboorte was Collin se sig nog effe wasig. Hy het jou gesig die beste gesien toe jy dit 20 tot 30 cm van hom af gehou het. Collin het gehou van kontrasterende kleure en het aanvanklik eers na jou donker wenkbroue, hare of mond gekyk.

Eerste vashou

Belinda Kapp (32) van Bloemfontein, ma van Lihan (7 maande)

As jy vir die eerste keer ’n mamma word, is jy bang vir die onbekende en bang vir dit wat verkeerd kan loop. Om daardie lyfie vas te hou, was die grootste oomblik in my lewe.

Ek het dadelik besef wat ware liefde is en was verlig om te sien dat al sy toontjies en vingertjies daar is. Met sy bos swart hare was hy vir my die pragtigste baba in die wêreld.

Wat gebeur?

Nadat jy aan Lihan die lewe geskenk het, was die oksitosien- en prolaktienvlak in jou liggaam hoër as wat dit nog ooit was. Oksitosien, beter bekend as die liefdeshormoon, het help sorg dat jy daardie dag dolverlief was op Lihan, terwyl die hoë prolaktienvlak (ook bekend as die moederskapshormoon) jou heerlik laat ontspan het.

Eerste naelstringversorging

Leanne Schoeman van Pretoria, ma van Klara (4 maande)

Die eerste keer dat ek Klara se naelstring skoongemaak het, was gruwelik. Dit maak nie saak hoeveel keer ek moes hoor dat dit glad nie vir haar seer is nie, ek kon dit net met pyn vereenselwig.

Ek het die stompie elke dag so dikwels moontlik en so goed as moontlik versorg sodat ons vinnig daarvan ontslae kon raak. Gelukkig het haar stompie afgeval sewe dae nadat ons by die huis gekom het.

Wat gebeur?

Klara se naelstringstompie het van geelgroen tot bruin en swart verander voor dit eindelik afgeval het.

Die ontsmettingsalkohol en watte waarmee jy die naelstringstompie (en onder die stompie) skoongevee het, asook die Wecesin-poeier wat jy oor die stompie gestrooi het, het dit in ’n japtrap uitgedroog.

Dit het gehelp dat jy haar doek omvou sodat dit nie teen die stompie skuur nie en dit het ook vir genoeg lugsirkulasie gesorg dat die stompie vinnig kon uitdroog.

Eerste nag

Carla Schrage (30) van Brits, ma van Heinrich (2 maande)

Daardie eerste nag ná die geboorte van ons pragtige Heinrich was my hart ’n warrelwind van emosies. Nadat al ons besoekers huis toe is, het die werklikheid my getref – ek is nou ’n mamma!

Ek was daardie eerste nag veral bekommerd dat hy dalk gaan ophou asemhaal. Gelukkig was die verpleegsters wonderlik en het my bygestaan met borsvoeding en al die simpel vrae beantwoord wat my so onnodig ontstel het.

Wat gebeur?

Ná die geboorte was jy op ’n hormonale hoogte en beslis nie lus vir slaap nie. Al wat jy wou doen, was om na Heinrich te staar, om hom van kop tot toon te verken. ’n Goeie nagrus het wondere vir julle albei verrig; jy het Heinrich gevoed wanneer hy honger was en gerus wanneer hy geslaap het.

Eerste bad

Mariana (29) van Colesberg, ma van Jaques (15 weke)

Ek het gesorg dat geurige badgoedjies en snoesige kleertjies gereed staan, maar ’n warm gloed het my steeds oorval toe ek besef badtyd het uiteindelik aangebreek! Moets en moenies het deur my kop gewarrel en ek het Jaques benoud vasgehou.

Maar die oomblik toe ek hom in die bad sit, het my baba tjoepstil geword. Sy volmaakte lyfie het ontspan en ’n hemelse dankbaarheid het my oorval. Ek het daar en dan besef: Vir dié uitdaging sien ek kans!

Wat gebeur?

In jou laaste trimester het daar ’n vernix-lagie gevorm wat Jaques se vel met geboorte bedek het. Hierdie waslagie het sy vel in die baarmoeder beskerm en gevoed.

Die vernix het onder meer gehelp om Jaques se temperatuur ná die geboorte te reguleer en het hom ook reg ná die geboorte teen bakteriese infeksies help beskerm. Met sy eerste bad vier dae later was die meeste van die vernix al deur sy velletjie geabsorbeer.

Eerste voeding

Chané Steyn (25) van Klerksdorp, ma van Dieter (3) en Eben (17 maande)

Die eerste keer dat Dieter aan my gedrink het, het daar ’n kalmte oor my gekom. Ek het geweet ek doen die beste vir my baba. Ons het dit glad nie moeilik gevind nie; ek glo ’n ma en baba weet instinktief wat om te doen.

Dit het aanvanklik vreemd gevoel – ’n aangename gevoel wat ek nie kan beskryf nie! Ek het besef dat borsvoeding ’n kommunikasie tussen my en my baba is. Al was hy nie by my nie, kon ek aan my borste voel dis nou tyd dat hy drink. Borsvoeding was met albei my kinders ’n hoogtepunt in my lewe en ek sal die tyd vir niks verruil nie.

Wat gebeur?

Kenners verwys na die eerste uur ná geboorte as die “goue uur vir borsvoeding”. In hierdie tyd was die oksitosien-, prolaktien-, endorfien- en adrenalienvlak in jou liggaam baie hoog.

Die baie oksitosien het jou melk laat vloei, die prolaktien het jou melkvoorraad gestimuleer, die endorfiene was ’n pynstiller en jou hoë adrenalienvlak het die moegheid help afweer. Dieter se suigrefleks was ook op sy sterkste net ná geboorte. Dít het saam met jou wonderlike hormone gesorg dat jul eerste voeding spesiaal was.

Eerste poefdoek

Melanie Kearney (29) van Bloemfontein, ma van Colin (2 maande)

Die meeste mense gril seker vreeslik wanneer hulle dink aan doeke ruil, maar toe ek Colin die eerste keer sien en hom vashou, het ek sommer bewoë geraak.

Dit was vir my ’n groot voorreg om sy doek die eerste keer te kon ruil; ek was in totale verwondering oor hoe wonderbaarlik God sy lyfie geskape het en hoe alles net reg werk.

Wat gebeur?

Colin se eerste vuil doek, wat bekend staan as mekonium, was taai en groenswart van kleur. Jou eerste
melk, kolostrum, het hom gehelp om van die mekonium ontslae te raak – hoe gouer en meer kolostrum jou baba gedrink het, hoe vinniger het hy die mekonium uitgeskei.

Twee tot drie dae later het Colin se poef slapper en saadjierig geword, met ’n bruin of mosterdkleur. Jou borsbaba kan sewe vuil doeke in een dag hê, of een vuil doek in sewe dae.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees