RAAKGEKOOP
Purity se Baby Cereal with Milk (200 g) R29,49, beskikbaar by alle kleinhandelaars en groot apteke.
Purity cereal

Toe jou baba begin eet het, het jy elke kossoort apart aangebied en dit baie fyn gemaak. Hy het gou geleer om daarvan te hou, maar begin nou verveeld raak met al die fyn happies wat per lepel in sy mond beland. Namate hy groei en ontwikkel, verander sy eetvermoë en voedingsbehoeftes en moet jy bybly deur die gepaste eetgoed te gee. Jou doelwit is immers om hom te leer om dieselfde kos as die res van die gesin te eet, en om dit sélf te doen.

Eet maak slim

Jou baba leer amper elke dag nuwe vaardighede by. Namate hy ontwikkel, sal hy kos wil hê wat sy sintuie stimuleer en ’n nuwe avontuur bied. Teen sewe maande kan jy pap met verskillende geurkombinasies bekendstel. Jy kan ook vrugte- en groentepurees met ’n growwer tekstuur begin meng vir ’n nuwe eetervaring waaraan jou baba kan smul. Teen agt maande kan jou baba al gevorderde koubewegings begin maak en kan hy selfs ’n tand of drie hê. Nou hoef alle kos nie meer so fyn soos daardie eerste happies te wees nie. Hy kan ook ’n stukkie kos of sy lepel vashou. Jy kan jou baba se ontwikkeling ’n hupstoot gee deur kos aan te bied wat hom nuwe vaardighede help leer. Onthou net altyd die belangrike reël: Moet jou baba nooit sonder toesig laat eet nie.

Doen dit so

Growwer kos moet geleidelik bekendgestel word. Pak die voedselverwerker weg en gebruik liewer ’n handmodel om kos soos pasta, wortels of perske fyn te maak, en span ’n vurk in vir pampoen, patat of peer. ’n Appel kan jy eers fyn en later grof rasper. Hawermoutpap leer jou kleinding ook om growwer kos te eet omdat dit fyn is, maar groter stukkies bevat. Gee een growwer kossoort met elke ete en hou die res in die pureevorm waaraan hy gewoond is. Dit sal makliker wees as die growwe kos iets is wat hy reeds ken eerder as ’n nuwe kossoort. Skil vrugte en groente nog steeds af, want die skil kan maklik aan jou baba se verhemelte vassit en dan is dit ’n storie om dit af te kry. Laat hom ook toe om self met sy lepel te probeer eet. Hy sal die lepel aanvanklik omdraai as dit mond toe gaan, maar hoe gouer jy hom toelaat om te oefen en te eksperimenteer, hoe gouer sal hy dit regkry. Deur hom dit toe te laat, stuur jy die boodskap dat jy glo hy kan dit doen en so word sy selfvertroue gebou. Onthou dat dit nie net gaan oor hoeveel hy inkry nie, maar ook daaroor dat hy leer om ’n verskeidenheid soorte kos te eet. Maak die skoonmaak makliker deur koerantpapier onder sy eetstoeltjie te pak en gooi dit ná ete weg.

Terg die smaakknoppies

Nadat jy jou baba geleer het hoe elke kossoort op sy eie proe, kan jy begin om met kombinasies te eksperimenteer. Jy kan byvoorbeeld die maalvleis met tamatie kook, botterskorsie saam met appel stoom of ’n vrugteslaai van sagte vrugte maak. Onthou dat jy steeds nie sout, sterk speserye en suiker by die kos moet voeg nie. Geur kos liggies met matige geurmiddels soos kaneel, suurlemoensap en pietersielie of vars groente en vrugte soos tamatie, sampioene, appel en peer. Jy kan ook sy vrugte en pap meng. Dis nou ook tyd om die kosse wat van nature sterker geure het te begin aanbied; selfs kos wat gasvormend is, kan in klein hoeveelhede gegee word. Beproef lewer, lemoen, koejawel, broccoli en blomkool. Peulgroente soos lensies en gesplete ertjies kan ook in klein hoeveelhede gegee word, asook vis en eier. Onthou dat dit nodig kan wees om jou baba tot 20 keer aan ’n kossoort bloot te stel voor hy aan die nuwe geur en tekstuur gewoond is en dit aanvaar. Selfs al doen hy net ’n tongtippietoets en spoeg dit uit, het hy steeds geleer. Moenie die gespoeg as verwerping beskou en die kossoort wegpak nie; bly dit aanbied tot hy dit eet. ’n Baba aanvaar nuwe kosse gewoonlik makliker voor sy eerste verjaardag as daarna. 

WAT MOET BABA NOU EET?

AVOKADO Jou baba moenie net aan growwigheid gewoond raak nie, hy moet ook leer kou. Repies avokadopeer het ’n lekker sagte mondgevoel, maar moet ook ’n bietjie gekou word. Dit is dus ideaal vir jou baba se eerste koupogings.

FYNGERASPERDE APPEL EN FYNGEDRUKTE PATAT Tekstuur kan ook ingebring word deur dieselfde kos te gee, maar dit geleidelik growwer te maak. Die gewone appelpuree kan jy dus vervang met appel wat fyn gerasper is, en pleks daarvan om die patat met ’n stokmenger fyn te maak, kan jy dit met ’n vurk fyn druk.

HAWERMOUTPAP Een van die eerste maniere waarop jy jou baba aan growwer kos bekendstel, is deur te begin met fyn kos wat klein stukkies growwigheid bevat. Hawermoutpap is ideaal omdat dit van nature so ’n tekstuur het. Onthou om dit sonder sout te kook en nie suiker by te voeg nie.

MAALVLEIS As jou baba goed vorder, kan jy maalvleis aanbied, want dis sommer propvol growwigheid. Voeg ekstra water by wanneer jy dit gaarmaak en maak dit met meel of mielieblom dik. Die sousie sal jou baba help om dit te eet. Aan die begin sal hy die stukkies uitspoeg, maar wees geduldig. As jy net aanhou om dit te gee, sal hy gou gewoond raak aan die nuwe gevoel in sy mond.

BOTTERSKORSIEVINGERS EN MURGPAMPOENTJIES Die meeste babas wil self eet en daarom sal ’n handkos wat hulle self kan vashou, daardie ekstra motivering gee wat nodig is om ’n stukkie growwe kos in te kry. Vervang botterskorsiepuree met gaar vingers wat jou baba self kan eet. Skil die botterskorsie af en stoom dit net so heel. Toets dit met ’n mes en as dit sag genoeg is, kan jy ’n paar vingers afsny, dit laat afkoel en vir jou baba gee. Murgpampoentjies is ook ’n ideale handjiekos wat jy heel, skil en al, kan stoom en net die punte afsny voor jy dit vir jou baba aanbied.

BROODVINGERS EN PASTAVORMS Die meeste ma’s dink dalk dat ’n sagte witbroodjie die beste vir ’n sagte babatjie werk. Witbrood is egter geneig om ’n kluitjie te vorm wat moeilik is om te kou en sluk. ’n Stukkie growwe brood soos ’n swaar bruin- of saadbroodjie met ’n growwe tekstuur en wat maklik krummel, is ideaal. Pastavormpies met krulle en draaie is ook lekker handjiekos. Kook dit sag en laat jou baba dit net so eet.