Elke druppel is kosbaar

akkreditasie
Borsvoed jy? Al ooit daaraan gedink dat jou ekstra borsmelk die lewe van vroeggebore of siek babas kan red?

Mens sien die slagspreuk deesdae oral, op Themde, bekers en in sosiale media: I make milk, what’s your superpower? Borsmelk is die grootste geskenk wat jy jou baba kan gee, ’n lewenslange geskenk van optimale gesondheid: fisiek, intellektueel én emosioneel.

Wêreldwyd besef ál meer ma’s dat hulle hierdie geskenk nie hoef te beperk tot hul eie kleingoed nie. Elke druppel moedersmelk is kosbaar en selfs vyf of ses teelepels skenkermelk per dag kan vir ’n vroeggebore baba die verskil tussen lewe en dood beteken.

Voorkom eerder as genees

In Suid-Afrika sal 50 uit elke 1 000 kinders nooit hul vyfde verjaardag vier nie. Verreweg die meeste kindersterftes vind in die eerste vier weke plaas weens komplikasies van vroeë geboorte. Sulke komplikasies is makliker om te voorkom as om te behandel, en borsmelk is die goedkoopste, doeltreffendste behandeling.

Borsmelk is vir alle babas belangrik, maar vir vroeggebore babas is dit onontbeerlik. Hul immuunstelsel is ekstra kwesbaar en infeksies soos breinvliesontsteking, bloedvergiftiging en longontsteking eis ’n hoë tol. Borsmelk staan nie verniet bekend as “vloeibare goud” nie: dit is ’n lewegewende vloeistof propvol teenliggame wat kieme beveg.

Moedersmelk se voedingswaarde is onvervangbaar vir babas wat eintlik nog in die baarmoeder hoort. Dit optimaliseer hul groei en ontwikkeling. ’n Vroeggebore baba se spysverteringstelsel is onvolwasse, en borsmelk verteer makliker – en beter – as enige mensgemaakte produk.

Nog ’n groot infeksiegevaar vir vroeë babas staan bekend as nekrotiese enterokolitis, oftewel NEK. Dis ’n ontsteking van die dermkanaal wat dermweefsel vernietig. Dit kan noodlottig wees, maar selfs as dit behandelbaar is, moet groot dele van die derm gewoonlik verwyder word. So ’n verkorte dermkanaal veroorsaak lewenslange voedingstekorte.

Die ideaal is natuurlik dat alle babas – voltermyn of vroeggebore – geborsvoed word. Ongelukkig is dit nie altyd moontlik nie. Soms is ’n ma ernstig siek, het sy ’n borsverkleining gehad wat haar melk verminder, of het sy eenvoudig ’n paar dae nodig voor sy van die vroeë geboorte kan herstel. Dit is waar skenkermelk inpas.

Sit dit in die bank

Namate een wetenskaplike studie ná die ander bewys het dat vroeggebore babas wat borsmelk kry ’n beter kans op oorlewing het, minder antibiotika benodig, vroeër ontslaan word en beter groei, is borsmelkbanke wêreldwyd gevestig.

In 2008 het prof. Anna Coutsoudis van die Universiteit van KwaZulu-Natal en haar kollegas die Human Milk Banking Association gestig om Suid-Afrikaanse borsmelkbanke te reguleer. Daar is tans verskeie niewinsgewende borsmelkbanke oor die land heen.

Volgens suster Louise Goosen, laktasiekonsultant en stigterslid van Milk Matters, is die grootste banke die South African Breastmilk Reserve (SABR) in Gauteng, Milk Matters in die Wes-Kaap, iThemba Lethu in KZN, en Universitas in Bloemfontein. Die meeste provinsies het sedert 2011, toe die gesondheidsminister sy ondersteuning uitgespreek het, hul eie borsmelkbanke op die been gebring of minstens die wiel aan die rol gesit.

Wie kwalifiseer?

Omdat die nood so groot is – en die borsmelk so min – word skenkermelk slegs op voorskrif van die baba se pediater voorsien. Daar is ook streng kriteria waaraan die baba en ma moet voldoen. Louise verduidelik: “Die ideaal is steeds dat die baba sy eie ma se borsmelk kry, want dit is spesifiek vir sy behoeftes geformuleer. Ons doel is om ’n gaping te oorbrug, nie om die ma van haar verantwoordelikheid te onthef nie.”

Om te kwalifiseer vir skenkermelk, moet die baba:

  • ’n weeskind wees;
  • minder as 1,5 kg weeg;
  • en/of aan NEK ly.

Daarbenewens moet die ma:

  • ’n onvoldoende melkvoorraad hê weens mediese redes; of
  • medikasie gebruik wat nie veilig is tydens borsvoeding nie.

Louise vertel: “Een van ons onlangse ontvangertjies was die baba van die eerste hartoorplantingspasiënt wat haar baba tot 26 weke kon dra. Tydens swangerskap moes sy haar medikasie verminder en haar eie lewe in gevaar stel. Ná die geboorte moes sy dadelik daarmee aangaan om verwerping van die oorgeplante hart te voorkom. Aangesien die middel nie veilig is tydens borsvoeding nie, het haar kleinding etlike weke skenkermelk ontvang.”

Informele melkskenking

Ma’s het nog altyd borsmelk voorsien aan babas buiten hul eie. Voor die ontdekking van formulemelk sou baie babas nie kon oorleef sonder soogvroue nie. Tot onlangs was dit algemeen vir vroue in ontwikkelende lande om mekaar se babas te borsvoed. Toe navorsers egter ontdek dat virusse soos MIV deur moedersmelk oorgedra word, is dié praktyk ontmoedig. Boonop het ’n onlangse studie gevind dat drie uit vier monsters van borsmelk wat aanlyn verkoop is, met bakterieë besmet was.

Interessant genoeg beveel die Wêreldgesondheidsorganisasie steeds “borsmelk afkomstig van ’n gesonde skenker of soogvrou” bo formulemelk aan. Waarom? Eerstens omdat bottelvoeding nie risikovry is nie. Formule kan ook besmet word met dodelike bakterieë, selfs al word dit versigtig aangemaak. Dit kan gevaarlik lae of selfs giftige vlakke van sekere bestanddele bevat, en word verbind met verskeie kort- en langtermyngevare.

Ten tweede meen sekere kenners dat die gesondheidsgevaar van informele melkskenking uit verband geruk word omdat dit nie sosiaal aanvaarbaar is nie. Statisties is die risiko klein, en boonop kan virusse en bakterieë vernietig word deur selfdoen-pasteurisasie.

As jy informeel wil skenk of iemand anders se melk vir jou baba wil gee, moet jy net vooraf genoeg inligting inwin om ’n ingeligte besluit te maak.

Hoe word ek 'n skenker?

As jy borsmelk wil skenk, kan jy een van die organisasies op bl. 46 kontak. ’n Verteenwoordiger van die borsmelkbank sal jou tuis besoek en ’n vraelys laat invul om moontlike leefstyl- of gesondheidsrisiko’s uit te skakel.

Sy sal verduidelik hoe jy die melk moet uitpomp en berg en jou van houers voorsien. As jy nie jou melk by die naaste afsetpunt kan aflaai nie, kan sy reël dat dit opgelaai word.

Die borsmelkbank betaal gewoonlik vir die nodige bloedtoetse, maar jy moet self die pomp voorsien. Alle skenkermelk word gepasteuriseer. Hierdie proses vernietig virusse en bakterieë, maar nie immunologiese faktore (stowwe wat die immuunstelsel beïnvloed) of voedingstowwe nie.

Louise vra dat ma’s reeds begin uitmelk terwyl hulle wag vir die uitslag van hul bloedtoetse. Daar is nie ’n minimum hoeveelheid wat jy moet skenk nie. Selfs eenmalige skenkings word aanvaar.

Wie kan NIE skenk nie?

Milk Matters aanvaar nie borsmelk van ma’s wat:

  • MIV-positief is;
  • Hepatitis B gehad het;
  • Sterk antidepressante gebruik;
  • Nikotien of alkohol misbruik nie.
  • Skenkers word aangemoedig om die melkbank te laat weet as hulle siek word of medikasie moet neem.

Wat van my eie baba?

Borsvoeding is ’n perfekte stelsel van vraag en aanbod. Hoe meer jou baba drink of jy uitpomp, hoe meer melk sal jy maak. Moet dus nie bekommerd wees dat jy jou eie kleinding gaan ontneem nie.

Wit trane

Die verlies van ’n kind is ’n verpletterende ervaring. Wanneer ’n baba tydens swangerskap, geboorte of laktasie sterf, kan die pyn van vol borste dié van jou leë arms en hart eggo. Vroue sê dikwels dat dit voel of hul liggaam saamhuil.

Soms besluit ma’s in hierdie situasie om hul borsmelk – hul sogenaamde “wit trane” – te skenk. In sommige gevalle skenk ’n ma die bevrore voorraad wat sy opgebou het terwyl haar kind in die hospitaal was. In ander gevalle hou hulle ná hul baba se dood aan uitmelk.

Louise sê: “Dis ’n persoonlike keuse wat net die ma kan maak.” In haar ervaring meen skenkers van “wit trane” dikwels dat dit die rouproses aangehelp het. ’n Deeltjie van die baba leef voort in die kinders wat haar borsmelk ontvang, en dit gee betekenis aan ’n lewetjie wat te kort was.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees