VRAAG:

Formule én borsvoeding? Ek borsvoed my baba nou al ’n maand lank. Ek dink my melk droog op. Moet ek formulemelk saam met die borsvoeding gee?

ANTWOORD:

Lisanne du Plessis antwoord: Mammas twyfel dikwels of hulle genoeg borsmelk vir hul baba maak, veral wanneer babas meer gereeld wil voed. Dit gebeur gewoonlik teen dag 10 tot 14, op drie tot vier weke en dan weer op ses weke, drie maande en ses maande. Hierdie vraag na meer gereelde voedings duur gewoonlik 24 tot 72 uur en word gevolg deur versnelde groei en gewigstoename. Dit kan in hierdie tye voel asof jou baba gedurig wil voed, asof jou borste nie altyd so vol voel as aan die begin nie en asof jy nie noodwendig altyd ’n sakrefleks het nie. Dit is gewoonlik in hierdie tye dat ma’s ernstig twyfel aan hul vermoë om in hul baba se voedingbehoeftes te voorsien. As ’n aanvulling soos formulemelk dan gegee word, verminder die kontaktyd aan die bors en daal die melkproduksie dus. Ma is dan oortuig dat sy nie genoeg melk kon maak nie en verwys dikwels daarna as haar “melk wat opgedroog het”. Laat jou baba toe om ongehinderd en op aanvraag aan die bors te drink, want dit sal boodskappe na jou brein stuur wat jou liggaam “programmeer” om die regte hoeveelheid melk te maak. Wees verseker: Jou melk is perfek vir jou baba en jy produseer genoeg daarvan. Baie rigiede voedingstye kan veroorsaak dat jou baba gedurig honger of klaerig voorkom. Wanneer baba ’n voeding nodig het, sal hy of sy met jou kommunikeer deur te kriewel en dan te begin huil, deur die handjies in die mond te druk en daaraan of aan ’n kombersie te suig, en deur sy mondjie oop te maak en sy koppie in die rigting van stimulasie te draai. Wanneer jy hom optel, kan hy sy tongetjie uitsteek. Daar is ook ’n paar maniere waarop jy kan seker maak jou baba kry genoeg melk. Pasgeborenes en jong babas behoort agt tot 12 keer binne 24 uur te voed en vier tot ses nat weggooidoeke of ses tot agt nat lapdoeke te hê. Duidelike slukgeluidjies moet hoorbaar wees en baba behoort self die voeding te beëindig. Jou baba kan gereeld geweeg word, verkieslik op dieselfde skaal, om seker te maak hy sit genoeg gewig aan.