Gat in haar magie

akkreditasie
Noeleen Foster
Melissa (25) en Wicus (31) van der Merwe van Roodepoort se dogtertjie, Zoë, is met haar derms buite haar liggaam gebore. ’n Jaar later funksioneer sy normaal. Melissa deel hul storie.

Op 16 weke is ons vir ’n roetine-ondersoek ginekoloog toe. Ons sou daardie dag uitvind of ons ’n seuntjie of dogtertjie gaan kry, maar die ginekoloog het ander nuus ook gehad. Hy het gesê daar is iets fout met ons baba, maar hy het nie geweet wat die probleem is nie. Hy het ons verwys na ’n spesialis in Pretoria.

Dié het onmiddellik op die sonar gesien dat ek ’n dogtertjie verwag, maar dat ons meisiekind gastroskise het. Dit was die eerste keer dat ons daarvan gehoor het en moes navorsing doen om uit te vind wat dit is wat ons dogtertjie het.

Ons het op die internet gaan kyk en nare foto’s gesien – ons weet na dese dat dit beter is om ’n kundige te raadpleeg as om op die internet rond te krap. Ons het uitgevind gastroskise is ’n defek waar die baba se ingewande deur die maagwand peul. Die gat in die maagwand is gewoonlik naby die naeltjie. Die spesialis het ons ook ingelig dat dit eers reggestel kan word wanneer Zoë gebore word.

Ek het die nuus sleg gevat en was nog nooit in my lewe so bang nie. Ek het dae lank gehuil. Ons dokter het vir my antidepressante voorgeskryf sodat ek oor die ergste skok kon kom.

Ons het die spesialis weer na ’n maand besoek sodat sy kon sien of die spleet waaruit die derms peul, steeds dieselfde grootte was. Die gat het nie groter geword nie, dus was dit nie nodig om haar weer te besoek nie.

Ons het intussen by Avery Angles, ’n Facebook-groep, aangesluit waar ons ondersteuning ontvang het van ander
ouers met kinders wat gastroskise het. Dit help om ander mense se stories te hoor, jy voel dan nie so heeltemal alleen nie. Ek het myself kalm probeer hou, want ek wou nie nog stres op my ongebore Zoë plaas nie.

Die beplanning begin

Aangesien ons min of meer geweet het wat op ons wag, het ons begin voorberei. Ons het ’n pediater en chirurg gekies wat die ginekoloog tydens Zoë se geboorte sou bystaan. Hulle het in detail aan ons verduidelik wat tydens die geboorte gaan plaasvind, asook daarna.

Ongeveer ’n maand voor die keiserdatum het ek steroïede-inspuitings begin ontvang om Zoë se longe vir die geboorte voor te berei.

Ek het ’n paar dae voor die keiserdatum gevoel hoe Zoë minder beweeg en het ook besef dat haar bewegings anders voel. Ek het my ginekoloog in kennis gestel en hy het onmiddellik ’n noodkeisersnee gedoen.

Zoë is op 33 weke gebore. Sy het maar 1,8 kg geweeg en was ’n klein, premature mensie. Ek kon haar nie eens vashou ná sy uitgehaal is nie, want sy is dadelik na ’n teater geneem vir die eerste operasie.

Een week, twee prosedures

Tydens die eerste operasie het die chirurg ’n silo in haar magie gebou wat haar derms bymekaar en nat kon hou. Só ’n silo word gebruik om die derms stelselmatig in die maag te laat sak.

’n Dag ná die silo vasgewerk is, het die helfte van Zoë se derms reeds in haar maag teruggesak, en ’n week later het al haar derms mooi in haar magie gepas. Ons kon nie glo hoe vinnig dit gebeur nie. In hierdie tyd was ek elke dag by Zoë in die intensiewe sorgeenheid. Ek het vir haar stories gelees en verpleegsters het my aangemoedig om sagkens aan haar te vat en met haar te gesels.

Ná ’n week is Zoë weer terug na die teater waartydens die silo verwyder en sy toegewerk is. Tyd gaan mos stadig verby as jy wag en ons móés geduldig wag vir daardie eerste poefdoek, want dan sou ons weet of haar derms normaal funksioneer.

Ná Zoë se eerste vuil doek het sy vir die eerste keer toe sy 15 dae oud was melk deur buisies in haar neus ontvang. Sy het eers met net 1 ml melk elke 12 uur begin, aangesien ons dokters wou sien of sy die voeding kon hanteer. Sy het goed gevaar, het niks opgebring nie en het die volgende dag elke 6 uur 1 ml gekry.

Die spesialiste het haar intussen stadig maar seker die morfien, wat vir die pyn gegee is, verminder omdat sy reeds teen daardie tyd verslaaf daaraan was.

Drie dae hierna, net toe ons begin asemhaal en dink Zoë is gesond, het sy ’n infeksie gekry waar die silo verwyder is. Sy het vinnig siek geword en het nie eens beweeg nie. Ons dogtertjie het net daar gelê. Dit was een van die vreesaanjaendste dae wat ons beleef het. Zoë het antibiotika ontvang en ’n bloedoortapping gekry. Dit was ’n terugslag, maar sy het bly veg.

Ons het soveel ondersteuning gehad terwyl Zoë hier was. Baie mense het vir ons gebid, en gebed is sterk. Ek was die meeste van die tyd kalm. Die Here het my sterk gehou, want as ek nou terugdink, wil ek net huil. Ek en my man het mekaar positief gehou.

Ons het elke dag in gedagte gehou wat die dokter gesê het: Daar sal goeie dae wees, maar daar sal ook slegte dae wees. Hierdie raad het baie gehelp, want toe die slegte dae kom, was ons voorbereid.

Opdraende

Ek was ’n emosionele mamma toe ek Zoë 35 dae ná haar geboorte vir die eerste keer in my arms kon vashou. Sy was ’n klein en fyn dingetjie – dit was iets om aan gewoond te raak.

Op ongeveer ses weke is al die dreineringspype verwyder en Zoë het weer infeksie opgedoen. Ons was baie hartseer, want dit het gevoel of ons een stap vorentoe en twee terug gee. Gelukkig het sy vasgebyt en ’n paar dae later het ek die eerste keer vir haar ’n bottel melk gegee. Die wonderlike verpleegsters het my ook geleer om haar te bad en reg te hanteer.

Twee operasie, twee infeksies en 52 dae later is ons dogter uit die neonatale intensiewe sorgeenheid ontslaan en is ons huis toe.

Zoë het elke drie maande gegaan vir ’n opvolgbesoek en ons het ook gedurende haar eerste lewensjaar gereeld vir fisioterapie gegaan om seker te maak sy maak vordering met haar ontwikkeling.

Zoë het pas een geword. Soos wat normaal is vir premature babas, is Zoë se mylpaalontwikkeling effens agter. Sy is ook ’n bietjie kleiner as ander babas van haar ouderdom, maar ons Zoë is nou gesond.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees