Ek is 38 weke swanger en hoor dat dit die beste is om jou baba se ore kort ná geboorte te laat toets. Hoekom moet ek my baba se gehoor laat toets? Hoe vroeg en wanneer moet dit gedoen word?
Volgens die Amerikaanse nasionale instituut vir doofheid en ander kommunikasie-steurnisse (NIDCD) word twee tot drie uit elke 1 000 babas in Amerika met ’n vorm van gehoorverlies gebore. Hierdie getal is selfs hoër in Suid-Afrika, waar drie tot ses uit elke 1 000 babas met gehoorverlies gebore word.
Die EHDI (Early Hearing Detection and Intervention)-program in Suid-Afrika probeer sorg dat babas se gehoor so vroeg moontlik getoets word. Die mikpunt is dat alle babas se gehoor in hul eerste maand met ’n siftingstoets geëvalueer word, verkieslik nog voor hul uit die hospitaal ontslaan word. Gehoorverlies moet teen drie maande al geïdentifiseer wees en indien nodig moet daar teen drie maande ook ingegryp word.