Jou borskas is waarskynlik te klein vir al die liefde wat jy vir jou splinternuwe pienkvoet voel terwyl jy jou verstom aan haar perfekte toontjies, vingertjies en gesiggie. Maar die wonderwerk is nog lank nie verby nie: In elke nuwe week gaan jou kleinding ’n ietsie groter groei en ’n ietsie verder ontwikkel. Hier is wat jy die eerste ses weke kan verwag ...
Baba luister reeds van geboorte af as jy met haar gesels en teen die derde dag kyk sy al stip na jou. Sy kan binne dae haar ouers se reuk van dié van vreemdelinge onderskei.
Navorsers het in ’n studie kussinkies aan weerskante van babas neergesit, een met die reuk van hul ma en die ander met ’n ander persoon se reuk. Baba ná baba het gedraai na die kant van hul ma se reuk.