Soms is dit makliker om iets te beskryf deur eers te sê wat dit nie is nie.

Geboortevlekke is nie voorgeboortelike kneusings of drukmerke nie, lui die inleidende afdeling oor nevusse (die term wat artse vir geboortevlekke gebruik) in drr. Jan van Elfen en Don du Toit se klassieke gesondheidsgids, Dokter in die huis. Nou wat is dit dan? En waarom kry mense dit? Op die laasgenoemde vraag het dokters nog nie die hele antwoord nie.

Wat hulle wel weet is dat vaskulêre (of vaat-) vlekke, wat een soort geboortevlek is, deur bloedvate onder die veloppervlak veroorsaak word en nie oorerflik is nie.

Geboortevlekke het ook niks te doen met wat jy as vrou tydens jou swangerskap aangevang of nie aangevang het nie, anders as volgens volksoorlewerings uit onder meer Spanje en sommige Arabiese lande waarvolgens geboortevlekke veroorsaak word deur onbeantwoorde wense of behoeftes van ’n vrou tydens haar swangerskap.

So sou ’n drang na aarbeie wat nooit bevredig is nie, byvoorbeeld ’n aarbeivlek op die baba se vel tot gevolg kon hê. Vandag weet ons dat geboortevlekke nie voorkom kan word nie.

Gelukkig word die meeste vlekke darem kort ná geboorte dowwer. Medici onderskei hoofsaaklik tussen twee vleksoorte: vaskulêr en gepigmenteerd.

Eersgenoemde word veroorsaak deur die ooraggressiewe groei van bloedvate in die vel, terwyl gepigmenteerde vlekke deur die oorproduksie van pigment in die vel meegebring word.

’n Eenvoudiger kategorisering is om te onderskei tussen rooi en bruin vlekke.

3 Algemene vaskulêre (rooierige) vlekke 

Hierdie soort vlek word veroorsaak deur bloedvate onder die veloppervlak en kan pienk, rooi en selfs blou of pers van kleur wees.

Hoewel dit meestal op die kop of nek voorkom, kan dit op enige ander plek ook verskyn.

Hemangiome

Hemangiome is van die algemeenste vaskulêre vlekke. Dit is gewoonlik al met geboorte of kort daarna sigbaar. Dié effens verhewe vlekke staan ook bekend as aarbeivlekke.

Bykans 5 persent van alle babas, van wie die meerderheid meisies is, word met só ’n vlek gebore.

Die vlek groei gewoonlik baie vinnig in die eerste ses maande van ’n kind se lewe, net om teen sewejarige ouderdom te verdwyn.

Ligter variasies van hemangiome wat gewoonlik op die voorkop of agter teen die nek voorkom, verdwyn al binne die eerste jaar.

Daarvóór is hulle egter duidelik sigbaar, veral wanneer die baba huil. Dit gebeur soms dat ’n hemangioom teen ’n taamlik vinnige pas aanhou groei.

As dit die geval met jou kind is, behoort julle ’n dokter te raadpleeg. Moet ook nie ’n aarbeivlek ignoreer wat jou baba se sig (op die ooglid) of sy vermoë om te voed (naby die mond) of asem te haal (in die keel) belemmer nie.

As jou baba meer as een van dié vlekke het of die vlek verander in ’n oop wond, word ’n doktersondersoek ook sterk aanbeveel.

Die gewone aarbeivlek is partykeer meer verhewe en lyk byna pofferig. Dié effens ernstiger, maar steeds skadelose vlek word ’n spelonkagtige hemangioom genoem.

Dit kan moontlik letsels veroorsaak wat ’n baba se sig, neus, ore of mond kan versper.

’n Dokter sal moontlik behandeling voorstel in die vorm van medikasie wat die bloedvate laat krimp (lees heel onder meer oor behandelingsmetodes). 

Die Salm-of-ooievaarsvlek

Die Salm-of-ooievaarsvlek is nog ’n vaskulêre vlek waarmee tot 50 persent van babas gebore word.

Dit word veroorsaak deur die uitsetting en samedromming van klein bloedvaatjies onder die vel en lyk byna soos klein, ligrooi lappies op die vel.

’n Salmvlek op die voorkop word soms ’n engelsoen genoem, terwyl dieselfde vlek teen die agterkant van die nek as ’n ooievaarsvlek bekendstaan.

Die kus van die engel verdof meestal binne ’n paar jaar, maar die een wat aan die ooievaar toegeskryf word, is geneig om te klou, hoewel dit dikwels onder ’n haredos verskuil bly.

Die Portwynvlek

Die Portwynvlek is, soos die naam aandui, rooi-of perskleurig.

Dis ’n permanente vlek en word veroorsaak deur die abnormale bloeding van bloedvate, waarskynlik weens ’n probleem met die senuwee wat die verwyding en vernouing van die bloedvate beheer.

Dit kom gewoonlik op die gesig voor, maar enige ander plek op die liggaam is nie uitgesluit nie.

Michail Gorbatsjof, die laaste leier van die destydse USSR, het een op sy voorkop, terwyl die sangeres Tina Turner s’n op haar skouer pryk.

Syfers uit die Verenigde Koninkryk dui daarop dat net drie uit elke 1 000 pasgeborenes portwynvlekke het, waarvan 10 persent op die ooglede voorkom.

Portwynvlekke wat nie behandel word nie, kan mettertyd donkerder en selfs dikker word. Raadpleeg ’n dokter as jy besorg is oor jou baba s’n. Die vlekke word dikwels met laser behandel.

Dié wat naby die oë voorkom, verg beslis die aandag van ’n oogspesialis.

3 Gepigmenteerde (bruinerige) vlekke

Die Café au lait-vlek

Die Café au lait-vlek kry sy naam van sy melkkoffie-voorkoms. Dis ’n baie algemene vlek wat soms al met geboorte sigbaar is, en ander kere eers later sy verskyning maak.

Dis ook nie ongewoon dat babas meer as een van dié plat vlekke het nie. Raadpleeg egter ’n dokter as jou kind meer as vyf het, of as die vlek(ke) baie groot is.

Café au lait-vlekke verdof nie soos baie ander geboortevlekke nie, maar word saam met die kind groter. 

Die Mongolevlek 

Die Mongolevlek is ’n blougrys vlek wat veral voorkom by babas met donkerder velle, veral dié van Oosterse herkoms.

Die vlek lyk byna soos ’n kneusplek en kom meestal op die onderrug of boonste deel van die sitvlak voor. Dit kan egter ook op die arms en bene wees.

Hierdie skadelose pigmentasiekolletjies verdof of verdwyn dikwels teen vierjarige ouderdom en verg geen behandeling nie. 

Moesies

Moesies (of die verouderde term, moedervlekke, wat nog algemeen in Nederlands gebruik word) is ook ’n soort bruinerige geboortevlek.

Sowat een uit 100 babas word met dié permanente vlek gebore. Die meeste moesies verskyn egter eers van twee jaar oud af.

’n Moesie kan enige grootte of vorm aanneem en die kleur kan wissel van ligbruin tot swart. Hierdie gepigmenteerde geboortevlek kan ook op enige plek op die lyf voorkom (die oudmodel Cindy Crawford s’n is lewensgroot op haar bolip) en het baie selde behandeling nodig.

Daar is ’n baie klein risiko dat moesies in kanker kan ontaard. Hou dus dié wat van grootte, vorm en kleur verander fyn dop en raadpleeg ’n dokter.

’n Moesie wat seer is of jeuk, moet ook ondersoek word. Hoewel ons hele vel teen die son beskerm moet word, geld dit veral vir moesies. 

Behandeling 

Omdat geboortevlekke skadeloos is en sommiges dikwels spontaan verdwyn, is behandeling selde nodig – tensy die merk onooglik is of op ’n plek voorkom waar dit teen klere skuur en dus kan oopgaan, of as dit om die een of ander rede baie vinnig versprei.

Soos genoem, verg ’n geboortevlek wat inmeng met jou baba se asemhaling, voeding, sig of gehoor ook behandeling.

Dit is ongewoon, maar nie onmoontlik nie, dat ’n vinnig groeiende geboortevlek op ’n onderliggende siekte kan dui. Van al die behandelingsmetodes is laserterapie die gewildste.

Polslaserbehandeling word hoofsaaklik ingespan om vlekke te behandel wat naby die veloppervlak voorkom.

Twee ander metodes behels die inspuit van steroïedmiddels om die bloedvate af te sluit om te voorkom dat die vlek verder versprei of dit selfs te laat krimp.

Chirurgie is gewoonlik die laaste uitweg, maar ook die enigste keuse vir ernstiger geboortevlekke soos die nevus sebaceous, ’n seldsame geboortevlek wat op die kopvel (meestal ’n haarlose kol) of gesig voorkom.

Die kleur van dié vlek neig na geel of verskil bloot van die kleur van die res van die vel.

Kinders wat só ’n vlek het, behoort dit in hul vroeë tienerjare te laat verwyder omdat dié letsel met ’n taamlik hoë risiko vir velkanker verbind word.