Groei, baba, groei

akkreditasie
Wil jou baba skielik heeldag op die bors wees? Dan beleef hy waarskynlik 'n groeiversnelling.

Julle het in ’n lekker roetine gehad waar jy elke vier uur geborsvoed het, maar deesdae voel dit of jy skaars jou hemp toegeknoop het, of boetie soek weer bors. Dis of hy net nie genoeg kry nie. Die kans is ook goed dat sy slaappatroon deurmekaargekrap is.

Die oorsaak is waarskynlik een van daardie eienaardige fases van jou baba se ontwikkeling: groeiversnelling. Anders as wat die naam sê, groei jou baba nie noodwendig vinniger in dié tyd nie. Hy sit ook nie noodwendig meer gewig aan nie.

Maar sy behoefte aan melk neem drasties toe en hy is baie hongerder as voorheen. Dis die gevolg van ekstra hormone wat in dié fase deur die pituïtêre klier geproduseer word.

Om meer melk te kry, sal hy meer gereeld begin voed. Hoe meer gereeld hy voed, hoe meer neem jou melkvoorraad toe, en so los baba sy probleem eintlik self op – dis nou as jy saamspeel en hom op aanvraag laat drink.

Ná ’n ruk sal jul normale voedingspatroon weer gevestig word, maar jy maak nou meer melk, al weet jy dit nie.

Wat om te verwag

Jou baba beleef in die eerste jaar ’n hele paar snelgroei-fases waarin hy hongerder gaan wees en meer melk wil hê.

Dié tye kan vir jou frustrerend wees, maar troos jou daaraan dat dit gewoonlik net ’n paar dae duur. As jou baba voorheen goed geëet en geslaap het, kan jy verwag dat dié patroon versteur sal word tydens ’n groeiversnelling. Jou baba kan ook meer knieserig wees as gewoonlik.

SÓ HERKEN JY DIT

  • Jou baba vra drie tot vier keer binne ses uur vir die bors.
  • ’n Bottelbaba drink sy bottel leeg en lyk binne ’n uur of hy nog wil hê.
  • Sy gewone drieuurlikse of vieruurlikse skedule is daarmee heen.
  • Hy slaap skielik snags slegter en is weer honger in die nag.
  • Sy dagslapies word ook kortgeknip en hy lyk honger.

Wees paraat

Jy kan die eerste groeiversnelling in die eerste twee of drie dae ná geboorte te wagte wees. Dit gebeur om die oorgang van kolostrum na gewone borsmelk aan te moedig.

Die volgende versnelling vind gewoonlik teen twee of drie weke oud plaas, dan weer op ses weke, drie maande, ses maande en soms weer op nege maande. (Dis net riglyne en verskil van baba tot baba.)

Oorleef en gedy

Voed op aanvraag, want dis hoe jou borsmelk sal toeneem. As jy bekommerd is oor jou melkvoorraad, drink self meer – tot 3 liter per dag. Eet gesond en rus, en oorweeg ’n vitamienaanvulling.

Moenie jou baba se voedings aanvul met formulemelk nie – dit sal veroorsaak dat jy self minder melk maak, en gou is daar ’n bose kringloop waar jy ál minder melk maak en ál meer bottel gee. As jy regtig te min melk het, sal jou baba droë doeke hê. ’n Groeiversnelling duur tipies 48 uur. Bel die dokter as jy dink dit hou te lank aan.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees