Groot spiere

akkreditasie
Grootspier-ontwikkeling is die sleutel tot jou kind se noodsaaklike verkenning van sy wêreld, en word later die basis waarop baie van sy skoolprestaasie rus.

Pasgeborene 

Jou hulpelose bondeltjie het omtrent geen spierbeheer nie, maar sy leer vinnig. Ná ’n week kan sy al haar koppie effens skuins lig terwyl sy op haar magie lê, en daardie belangrike nekspiere word elke dag sterker.

Hoe kan jy help?

Bevorder magietyd met die doel om ’n sterk nek en rug te kweek. Sit jou baba gereeld op haar maag neer met haar armpies voor haar om haar te stut. Sy sal self probeer om haar kop te lig. Roep haar naam, of plaas iets interessants voor haar neer om haar aan te moedig. Onthou net, dis nie veilig om jou baba op haar maag te laat slaap nie.

Onder een jaar

Iewers tussen sewe en 10 maande begin jou baba kruip. Dis ’n reuse mylpaal.

Hy dra sy gewig op sy handjies oor en ontwikkel so sy skouers en handboë. Dit gaan later help dat hy ’n potlood kan vashou en teken. Sy rug en nek word sterker en hy moet ook die twee kante van sy lyf koördineer.

Dit bevorder die ontwikkeling van sy linker- en regterbrein en die verbinding tussen die twee. Hy leer ook heupstabiliteit en rompbeheer -rotasie.

Hoe kan jy help?

Speel kruipspeletjies, soos om handeviervoet te staan en diere na te boots. Moedig magietyd aan met ’n interessante speelmat.

Onder twee jaar

Teen omtrent een jaar oud leer jou kind loop. In die daaropvolgende jaar sal sy hard daaraan werk om haar balans te verbeter. Die ontwikkeling van die vestibulêre stelsel, wat die ervaring van beweging en balans insluit, is noodsaaklik vir vroeë breinontwikkeling.

Hoe kan jy help?

Speel wildeperdjie. Staan handeviervoet en laat jou kleuter op jou rug lê. Sy moet vasklou en jy beweeg ál wilder. Dit oefen die skouer- en armspiere, beenen maagspiere en help haar balans verbeter.

Laat jou kind op ’n kombers op haar maag lê en trek haar heen en weer en links en regs. Sy moet haar kop op hou en balanseer. Dit gee die strekspiere van die nek, skouers en rug oefening en leer die linker- en regterkant om goed saam te werk.

Onder drie jaar

Woelig is die woord! Hy kan eenbeen spring (twee hoppe), trappe klim, agteruitloop, op een been balanseer, ’n bal vang wat gerol word, driewiel ry, met al twee voete in die lug spring ... Moedig dit alles aan.

Hoe kan jy help?

  • Wys jou kleuter hoe om bollemakiesie te slaan met sy ken teen sy bors gedruk.
  • Laat hom van ’n klimapparaat hang (staan gereed om te vang).
  • Laat hom ’n stootwaentjie rondstoot.
  • Gee hom ’n skopfietsie – dis baie goed vir sy beenspiere en koördinasie.
  • Laat hom hobbelperdjie ry – dis goed vir die bolyfspiere.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees