Hallo, wêreld!

akkreditasie
Dit voel dalk nie so nie, maar in die eerste paar dae van jou baba se lewe is sy amper besiger as jy!

Soms fokus ons as nuwe ouers só op die groot kraamdag dat ons skoon van die paar dae daarna vergeet. Dinge daar in die hospitaal kan bedrywiger wees as wat jy jou ooit kon voorstel. Die meeste hospitale volg ná baba se geboorte gelukkig min of meer dieselfde prosedures as standaardpraktyk.

Onthou net, as daar lewensbedreigende komplikasies voor, tydens of ná die geboorte vir jou of jou baba was, word daar natuurlik ’n heeltemal nuwe rigting ingeslaan as wat ons hieronder beskryf.

Eerste asemteug

Jou baba se asemhalingrefleks werk voluit minute ná ’n vaginale geboorte of keisersnee. In die baarmoeder het sy haar kos en suurstof van die plasenta via die naelstring gekry, maar nou moet sy self begin asemhaal, al is die naelstring nog nie afgebind nie.

Die meeste moderne hospitale suig nie meer babas se neusies en keeltjies met ’n pypie skoon nie, hulle vee net die mondjie en neusie af sodra baba self gemaklik kan asemhaal.

Ná daardie eerste asemteug verander jou kleinding se velkleur van bloupers na rooi omdat suurstof vir die eerste keer van haar longetjies na die res van haar lyfie vloei en sy onafhanklik begin funksioneer. Sodra sy rustig is en in haar nuwe omgewing gestabiliseer het, verander haar velkleur na ’n gesonde pienk.

Naelstring se doel gedien

Direk ná die geboorte sal die dokter of vroedvrou jul babatjie op ma se bors neerlê met die naelstring nog aan die plasenta vas. Baba sal nat, effens verkreukel en opgekrul lê en belangrike vel-tot-velkontak maak met die mamma wat haar so lank in haar eie lyf beskerm en versorg het.

Pa sal die geleentheid kry om die naelstring te knip. Hy kan dié spesiale takie verrig terwyl baba op jou bors lê. Jul baba se naelstring word 2,5 cm van haar lyfie met ’n naelklem en 5 cm verder met ’n ander spesiale klem afgebind. As julle baba se stamselle wil bewaar, sal die dokter dit onttrek voor die naelstring geknip word.

Pa of die dokter knip die naelstring dan tussen die twee klemme af. Die stukkie naelstring sal binne sewe tot 14 dae uitdroog en afval. Moenie daaraan trek of peuter nie. Hou die plekkie net skoon en droog tot dit genees het. Klad dit sagkens droog ná badtyd en wend ’n bietjie medisinale ontsmettingsmiddel met ’n oorstokkie aan. Raadpleeg liewer die klinieksuster as julle onseker is of die proses normaal verloop.

Die dokter sal bloed uit die naelstring trek om vas te stel of baba se bloedsuikervlak normaal is. Jou baba se bloedsuikervlak word drie keer ná die eerste toets weer getoets: drie uur ná geboorte, ses uur later en weer ses uur later. Babas met ’n te lae vlak wil nie goed suig nie, is slaperig en kan in ernstige gevalle selfs ophou asemhaal.

Indien jou baba se bloedsuikervlak te laag is en sy nie wil drink nie, sal die personeel haar ’n klein byvoeding gee wat die vlak sal verhoog, gewoonlik met ’n spesiale lepeltjie of medisynedrupper.

Eerste slukkies melk

In sommige kraaminrigtings kan baba nog voor die naelstring geknip is of direk daarna al aan mamma se bors drink en kolostrum inkry, wat die eerste voedsame melk is voor borsmelk geproduseer word. Baba se suig- en reukrefleks sal haar instinktief na jou tepel lei.

Die vroedvrou of kraamsuster sal jou baba met ’n handdoek toemaak sodat sy nie koud word nie en sowel ma as baba met ’n kombers bedek om te verseker dat baba se temperatuur konstant bly.

Baba se lyfie moet nou gewoond raak aan die temperatuur buite die warm en beskutte omgewing van die baarmoeder en sy moet haar eie temperatuur begin reguleer.

In sommige hospitale sal baba eers in die herstelkamer (ná ’n keisersnee) of ná al die ander eerste toetse aan mamma drink.

Hoe lyk 'n nuwe mensie?

  • Jul baba sal waarskynlik plek-plek nog bedek wees met ’n wit, vetterige stof wat haar velletjie in die nat omgewing van die baarmoeder beskerm het. Hierdie stof, wat die vernix caseosa genoem word, word afgeskei deur die oliekliere in die vel en bevat velskubbe en fyn haartjies.
  • Dalk het sy nog fyn haartjies oor haar lyfie wat lanugo genoem word en haar ook in die baarmoeder beskerm. Dit is nie ’n teken dat julle baba harig gaan wees nie en gaan binne ’n paar weke verdwyn. Babas wat voor 40 weke gebore word, is geneig om meer lanugo te hê.
  • Sommige babas se velletjies is droog, veral dié wat langer as 40 weke knus in die baarmoeder gelê het, en hul hande en voete kan in die eerste paar dae vervel. Dit is ’n normale aanpassing van die vogtige omgewing in die baarmoeder na die droër atmosfeer buite.
  • Dit gaan ’n rukkie duur voor die porieë op jou baba se vel behoorlik werk en sweet- en oliekliere kan tydelik verstop, veral op haar neusie en die res van haar gesiggie. Dié wit “puisies” of milia sal self later verdwyn en moenie uitgedruk word nie.
  • Sommige babas het perspienk vlekke op hul neus, ooglede, voorkop of agter hulle nek wat veral duidelik is wanneer hulle huil. Dis nie permanent nie, word ligter en verdwyn later.
  • Ma se hormone het gedurende swangerskap in baba se bloedstroom beland en dit is normaal dat seuntjies en meisies se borsies geswel voorkom. Die geswolle borsies (soms is daar selfs ’n melkerige afskeiding) sal plat word namate jou baba se liggaam die hormone uitskei.
  • Geslagsdele vertoon proporsioneel groot direk ná geboorte as gevolg van ma se hormone en dis ook normaal. Meisies kan selfs die eerste rukkie ’n vaginale afskeiding hê tot ma se hormone uitgewerk het.
  • Babas se skedelnate is nog nie behoorlik geheg nie en daarom is daar bo-op en agter die koppie sagte plekkies wat mettertyd gaan toegroei. Die fontanel, soos dit genoem word, help baba om deur die geboortekanaal te beweeg omdat die sagte skedelplate na mekaar toe kan skuif om die geboorte moontlik te maak. Sommige babas se kop is taamlik vervorm weens die drukking van die geboortekanaal. Moenie bekommerd wees nie – die skedel sal vinnig normaal lyk.

Dalk moes die dokter ’n suier, wat van silikoon en nie metaal gemaak is nie, gebruik het om jul nuwe baba die wêreld in te help. In so ’n geval sal daar dalk ’n perserige, verhewe kneusing agter die koppie wees. Dit is bloed wat tussen die kopvel en skedel vasgevang is en sal outomaties deur baba se lyf opgeneem word en verdwyn.

As ’n tang gebruik is, sal baba dalk merkies aan haar kop en gesig hê wat ook binne ’n paar dae nie meer sigbaar sal wees nie.

Ondersoeke en toetse

Nadat julle mekaar die eerste keer van naderby beskou het, moet jul nuwe baba haar eerste roetine-ondersoeke en mediese toetse ondergaan. Die ondersoek sal bepaal of sy gesond is en nie dalk lewensbedreigende probleme het wat nie dadelik met geboorte sigbaar was nie.

APGARTELLING

Die vroedvrou of dokter moet bepaal hoe goed ’n baba se liggaam funksioneer en dit word met ’n standaardtoets of Apgartelling bepaal. Die vyf elemente wat met die Apgartelling ondersoek word, is asemhaling, polsslag, liggaamskleur, refleks en aktiwiteit. Elke onderafdeling word ’n telling uit 2 gegee, wat beteken die maksimumtelling is 10.

Sewe of meer uit 10 is ’n goeie telling, maar babas met ’n telling onder vyf kan ekstra suurstof nodig hê om hul asemhaling te reguleer. Selfs babas met ’n telling van sewe kan sukkel met asemhaling en suurstof nodig hê.

Babas met ’n tekort aan suurstof se asemhaling is onreëlmatig, hul polsslag is meestal laer as 100 en hul velkleur is blou of blekerig pleks van ’n gesonde pienk.

Babas behoort drie keer ná geboorte volgens die Apgarskaal ondersoek word: een minuut ná geboorte, vyf minute ná geboorte en 10 minute ná geboorte.

GEWIG, KOPOMTREK EN LENGTE

Die vroedvrou of dokter sal natuurlik kyk of daar nie sigbare fisieke afwykings is nie en baba dan weeg. Dié gewig word later as maatstaf gebruik om te bepaal of sy na wense gewig aansit. Enige gewig tussen 2,5 en 4,5 kg is normaal en babas met ’n lae geboortegewig kan ekstra sorg en aandag nodig hê.

’n Baba se gewig kan ook ’n aanduiding van moontlike gesondheidsprobleme wees. ’n Buitengewoon groot baba kan beteken dat ma suikersiekte het. Hoewel kopgrootte en lengte afhang van jou baba se grootte en gewig, kan ’n abnormale klein of groot kop ’n aanduiding van ’n moontlike probleem wees.

Die gemiddelde kopomtrek vir ’n baba van 3,3 kg is sowat 35 cm. ’n Gemiddelde lengte is 50 cm.

  • Jou baba kry nou ook ’n vitamien Kinspuiting in haar bobeentjie wat met bloedstolling help.
  • Die vroedvrou sal ’n naambandjie aan baba se pols (en soms ook die teenoorgestelde enkel) vasmaak sodat daar geen verwarring is oor wie se baba dit is nie.

Wat sê die dokter?

Jul baba sal binne die eerste 24 uur weer sorgvuldig deur die pediater ondersoek word en die dokter sal haar elke dag ondersoek tot julle huis toe gaan. Die dokter sal eers die aantekeninge lees wat die ginekoloog gedurende die swangerskap gemaak het om te kyk of daar enige probleme was wat die baba se ontwikkeling kon beïnvloed het.

Die dokter sal dus seker maak dat daar nie fisieke probleme is wat aanvanklik nie raakgesien is of diagnoseerbaar was nie. Hy sal onder meer die hart, longe, skelet, kop, binnekant van die mond, oë, ore en ledemate deeglik bekyk en seker maak die derms werk na behore en daar is nie ’n verstopping in die ingewande nie. Hy sal ook vasstel of jou baba se instinktiewe reflekse aanwesig is.

In die meeste hospitale sal jou baba se gehoor deur ’n opgeleide oudioloog getoets word voor sy huis toe gaan. Maak seker dit word gedoen. Jou baba sal voor haar ontslag uit die hospitaal ook haar eerste inenting kry: poliodruppels en die BCG-inspuiting teen tuberkulose.

Skielik geel

Meer as 50 persent van pasgebore voltermynbabas en meer as 80 persent van vroeggebore babas kry fisiologiese geelsug.

Dit word veroorsaak deur ’n verhoging van bilirubien, oftewel galpigmente, in ’n pasgebore baba se bloed. Bilirubien is ’n afvalproduk van hemoglobien wat in die rooibloedselle afgebreek word. ’n Pasgebore baba is nog nie altyd in staat om self van die bilirubien ontslae te raak nie.

Geelsug ontwikkel binne die eerste 24 uur ná geboorte en begin gewoonlik by die kop, beweeg stadig af na die voete en in ernstige gevalle sal die wit van baba se ogies geel vertoon.

Babas met geelsug sal noukeurig dopgehou word en indien nodig onder ultravioletligte geplaas word (dit word fototerapie genoem) om die bilirubien te help afbreek. Dit is belangrik dat baba se ogies behoorlik toegebind en teen die ligte beskerm word om oogskade te voorkom.

Die kans op geelsug kan verklein word deur te sorg dat baba baie melk drink. Navorsing wys dat hoe vinniger baba aan ma begin drink en ontlas, hoe vinniger word die bilirubien uitgeskei en hoe kleiner is die kans vir geelsug.

Ma’s wat baie gou ná die geboorte huis toe gaan, moet op die uitkyk wees vir geelsug. Verwaarloosde geelsug kan breinskade tot gevolg hê en verlengde geelsug (langer as twee weke) by pasgeborenes kan die simptoom van ’n ernstiger siekte wees. In so geval sal verdere toetse uitgevoer moet word om die presiese oorsaak vas te stel.

Skruk en ruk

Jou baba word met ’n hele rits reflekse gebore.

Soekrefleks – Baba draai haar koppie instinktief na ’n bors of vinger wat aan haar wangetjie raak op soek na kos.

Suigrefleks – Baba het die suig- en slukrefleks waarskynlik reeds in die baarmoeder geoefen en dalk duim gesuig.

Gryprefleks – Baba gryp outomaties iemand se vinger vas as dit in haar handjie gehou word.

Die skrik- of Moro-refleks – Harde klanke, vinnige beweging of verandering van posisie kan baba laat “skrik” en sy sal haar arms en bene weg van haar lyfie ruk en haar koppie na agter gooi.

Staprefleks – Baba behoort direk ná geboorte reeds die staprefleks tte oon en sal een voetjie voor die ander sit as sy regop gehou word.

Kruiprefleks – Baba sal direk ná geboorte haar beentjies onder haar lyfie wil intrek asof sy wil kruip omdat sy gewoond is aan die posisie in die baarmoeder.

Plantaarrefleks – As jy op die bal van jou baba se voetjie druk, sal haar toontjies instinktief na onder krul.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees