VRAAG: My baba is vier weke oud en skree ure aanmekaar. Hoekom skree sy so en wat kan ek doen om te help?

DR. MICHELLE BRITS ANTWOORD: Die enigste manier waarop babas met ons kan kommunikeer, is deur te huil. Soms is die antwoord eenvoudig – hulle is honger, oormoeg, het ’n nat of vuil doek, of hulle wil net vasgehou word. Partykeer huil hulle omdat hulle seer het of net nie lekker voel nie. 

Daar is verskeie faktore wat ons in ag moet neem wanneer ons die regte antwoord soek. As daar geen merkwaardige simptome soos koors, uitslag, braking of diarree is nie, sal ons meer moet fokus op wanneer presies jou baba huil. Is dit voor of ná ’n voeding? Borsvoed jy eksklusief, gee jy byvoedings of drink baba net formulemelk? Hoe gereeld werk haar magie? Sukkel jy om winde uit te vryf? 

Dis alles vrae wat ek sal vra om my te help om die oorsaak te identifiseer.

As jou baba gewoonlik ná ’n voeding huil, is die oorsaak moontlik winde wat vassteek en dan maagpyn en krampe veroorsaak. As jy ’n borsvoed-mamma is, sal my eerste aanbeveling wees om jou dieet te bekyk. Skakel suiwelprodukte vir minstens ’n maand uit en kyk of dit ’n verskil maak. 

Jy kan ook jou baba se magie masseer om die winde en krampe te verlig: Laat haar plat op haar ruggie lê en ry dan fiets met haar bene. 

As niks van die bogenoemde wil help nie, kan ’n mens koliek oorweeg. Koliek is een van daardie toestande waarop ons ongelukkig nog nie antwoorde het nie. Ons weet nie wat dit veroorsaak nie. Die diagnose word gewoonlik gemaak wanneer ’n baba sowat drie uur per dag onbeheerbaar en onverklaarbaar huil, dit drie dae per week gebeur en minstens drie weke aaneen voortduur. 

Koliekbabas huil meestal in die aand of laatmiddag, en ’n mens sukkel om hulle rustig te kry.

Die enigste manier waarop babas met ons kan kommunikeer, is deur te huil

As dit soos jou baba klink, is daar stappe wat jy kan doen om dit beter te maak. Eerstens wil jy seker maak dat jou baba nie honger is nie. Stap twee is om seker te maak baba se doek is droog en skoon. 

Ek beveel aan dat jy meer gereeld van winde ontslae probeer raak terwyl baba voed om te keer dat hulle te diep in die spysverteringstelsel afbeweeg. 

As jou baba net melk uit ’n bottel drink, kan jy gerus ’n bottel gaan soek wat spesifiek gemaak is vir babas wat baie winde sluk. 

As niks hiervan help nie, beveel ek aan dat jy jou baba neem na ’n chiropraktisyn wat in babas spesialiseer.

Het jy 'n vraag?

E-pos jou vrae na briewe@babaenkleuter.co.za

Vrae kan ongelukkig nie persoonlik be­ant­woord word nie.