Dis iets wat elke nuwe ma ’n honderd keer hoor: Huil is die enigste manier waarop jou baba met jou kan kommunikeer. Maar selfs al weet jy dit, bly dit senutergend as die kleinding se trane spat en jy nie verstaan hoekom nie.

Sommige kenners meen ’n mens kan jou baba se huil “lees”, maar verskeie studies het gewys kinderartse, ma’s en oppassers kan meestal nie onderskei tussen babas se verskillende huilklanke nie. Tog, namate jy jou kleinding beter leer ken sal jy ál beter kan aflei wat sy nodig het en hoe jy haar kan kalmeer.

Die meeste pasgeborenes huil elke dag tussen een en drie uur lank en sommige babas huil heelwat meer as ander. As jy ’n huilbalie het, troos jou daaraan dat hierdie tyd betreklik vinnig verbygaan.

Ek is honger

’n Pasgebore baba se grootste behoefte is voeding en die meeste ma’s bied instinktief heel eerste die bors aan. Tekens dat jou baba dors is, sluit in dat hy sy mondjie na sy wang draai sodra jy daaraan raak, dat hy knieserig is, smakgeluidjies met sy lippe maak of aan sy handjies suig. Hou in gedagte dat babas nie altyd honger is nie, maar dalk net ’n behoefte aan suig het. Kyk dus eers of die foppie help. Suig is ’n refleks en kan jou baba help ontspan.

Hoewel dit beter is om jou baba op aanvraag te voed as volgens ’n vaste skedule, moet jy daarteen waak om jou baba kort-kort net ’n bietjie te voed. ’n Pasgebore baba drink gewoonlik ongeveer elke twee uur en daarna rek dit geleidelik na drie tot vier uur tussen voedings. Moenie wag tot jou baba hard huil van die honger nie, voed hom liewer sodra hy knieserig word.

My doek is vuil of nat

Sommige babas is meer sensitief vir ’n nat of vuil doek as ander. Party word dadelik knieserig as hul doek nat is, terwyl ander ure lank met ’n vuil doek sal lê sonder om te kla. Kyk altyd hoe ’n huilende baba se doek lyk, al het jy dit pas geruil. ’n Baba kan skaars ’n minuut later weer ’n vuil doek hê! Ruil dit voor hy brandboudjies ontwikkel.

Ek het ’n wind

As jou baba kort ná ’n voeding huil, sit ’n ongemaklike windjie waarskynlik iewers vas. Laat hom teen jou skouer lê en vryf met ferm bewegings opwaarts of tik-tik ferm op sy ruggie tot die windjie uitkom.

Ek kry te warm of koud

Nes jy ongemaklik voel as jy nie reg vir die weer aangetrek is nie, sal jou baba kla as hy te warm of koud kry. Pasgeborenes beweeg nie juis rond nie en kry boonop makliker koud as grootmense. Hulle verloor ook maklik hitte deur hul kop. Die aanbeveling is gewoonlik dat jou baba een lagie klere meer as jy dra. Waak daarteen om baba te warm aan te trek. As hy sweet, kry hy te warm. Voel jou baba se temperatuur op sy magie of agter sy nek; moenie sy hande of voete as maatstaf gebruik nie.

Jou baba moet nooit met ’n warmwatersak of elektriese kombers slaap nie. Jou baba kan moontlik ook huil bloot omdat sy doek te styf sit, iets hom skaaf of ’n klere-etiket hom krap. Gaan sy klere deur om seker te maak niks hinder hom nie.

Ek is vaak

As jou baba reeds vroeër sy koppie van kant tot kant beweeg en jou met druipende ooglede aangekyk het, is sy gehuil ’n teken van moegheid. Die beste is om gou hierop te reageer voor baba oormoeg is en in trane uitbars. ’n Baba wat oormoeg is, baklei dikwels huilend teen die slaap. Dit kan help om jou baba nou styf vas te draai in ’n kombersie en hom ferm heen en weer te wieg terwyl jy sjjj-geluide maak.

Ek het stilte nodig

Pasgebore babas raak vinnig oorweldig deur te veel dinge in hul omgewing en ’n baba wat oorgestimuleer is, is gewoonlik ’n huilerige baba. Tekens dat jou baba oorweldig voel, is dat hy oogkontak vermy, sy koppie van jou af wegdraai of selfs begin hik.

Soms hoef jy hom net uit die oorstimulerende omgewing (baie mense, helder ligte, harde klanke of geraas) te neem en na ’n rustige, donker plek te verskuif. As jou baba reeds kliphard skree, sal jy hom dalk moet kalmeer en selfs aan die slaap moet maak, wat natuurlik moeiliker as gewoonlik is omdat hy hom nie self tot bedaring kan bring nie. Witgeraas kan help om baba te kalmeer omdat dit aan die baarmoeder herinner.

Ek soek jou by my

Babas floreer op aanraking, stimulasie en aandag, en soms sê jou baba se huil dat hy wil hê jy moet hom vashou. Sommige babas het ’n groter behoefte aan aanraking as ander. Moenie bang wees dat jy jou baba sal bederf deur hom in die eerste ses maande op te tel as hy huil nie. Praat met hom terwyl jy hom vashou, wieg hom en hou hom soms teen jou vel sodat hy jou kan ruik. Dit kan ook help om baba in ’n drasak rond te dra.

Ek het koliek

As jou baba laatmiddag of vroegaand sonder enige ooglopende rede sowat ’n uur lank huil, is die oorsaak waarskynlik koliek. Koliekbabas kan elke dag tot drie uur lank ontroosbaar huil. Dit begin gewoonlik teen die tweede week en hou tot sowat vier maande oud aan. Dokters kan steeds nie regtig sê wat koliek veroorsaak nie, maar baie meen dit hou verband met maagkrampe. As jy vermoed jou baba het koliek, bespreek dit met die pediater. Dit kan ook help om baba se magie te vryf, fietsrybewegings met sy beentjies te maak of hom te masseer.

Ek het pyn of is siek

As jou baba baie skril en anders as gewoonlik huil, kan hy siek wees of pyn hê. Neem sy koors; dis gewoonlik een van die eerste tekens dat iets fout is. Sy koors behoort nie hoër as 37,2 grade C te wees nie.

’n Loopneusie en die ongemak wat daarmee gepaard gaan, kan jou baba ook huilerig maak. Koors, moeilike asemhaling, diarree en braking is by pasgeborenes altyd rede tot kommer. Kontak jou dokter as jy enigsins onrustig voel. 

Goue wenke
Reageer vroeër eerder as later. Hoewel ’n mens nie op elke geluidjie hoef te reageer nie, het navorsers gevind babas wat huil en opgetel word, huil gemiddeld minder as babas wat gelos word om te huil. Gee jou baba kans om op te hou huil en as dit nie gou gebeur nie, tel haar op. Sing vir jou baba en dans met haar. Die wiegende beweging is vertroostend en so ook jou stem en teenwoordigheid.
As niks help nie
  • Gaan stap met baba in die stootwaentjie.
  • Dans met baba in jou arms terwyl jy vir haar sing.
  • Draai jou baba styf toe met die handjies by die gesig.
  • Bad jou baba saam met jou in die groot bad.
  • Gee haar vir iemand anders om te troos. Soms is jy so gespanne dat jou baba dit kan aanvoel.