Hoe speen ek?

akkreditasie
Hoe gaan ’n mens te werk wanneer jy wil ophou borsvoed?

Vraag:

Ek borsvoed my babaseuntjie en het besluit om hom tot op ’n jaar oud te borsvoed. Hoe gaan ’n mens te werk wanneer jy wil ophou borsvoed? Moet ek my ginekoloog vir medikasie vra? En hoe bewerkstellig ’n mens die oorskakeling van borsmelk na koeimelk?

Antwoord:

Dit maak nie saak of dit jou of jou baba se besluit is om op te hou borsvoed nie, geleidelike spening is makliker en beter vir julle albei.

As ’n ma onmiddellik moet ophou borsvoed, soos wanneer sy chemoterapie moet kry, is dit ’n goeie plan om by ’n laktasiekonsultant aan te klop.

Wanneer jy egter besluit om geleidelik op te hou, kan jy begin deur een voeding per dag of elke tweede dag te probeer oorslaan. Dit sal help dat jou borsmelkproduksie geleidelik afneem en dat jou borste nie onnodig vol en ongemaklik word nie.

Die “moenie aanbied; moenie weier nie”- tegniek is ’n veilige en doeltreffende benadering tot spening. Jy borsvoed wanneer jou baba of kleuter vra, maar bied nie aan as hy nie vra nie. Daar is geen manier om te beraam hoe lank dit sal kos om hom te speen met net hierdie tegniek nie, maar saam met ander metodes kan dit vinniger gaan.

Beplande spening kan ’n positiewe ervaring wees as jy in staat is om wedersyds aanvaarbare alternatiewe vir borsvoeding te vind. Dit kan insluit ’n verandering in roetine of om, wanneer ’n voeding verwag word, dit te omseil deur vervangers en afleidings aan te bied.

Begin byvoorbeeld met ’n aktiwiteit waarvan hy baie hou net voor die tyd wat hy gewoonlik sou borsvoed: Pak sy gunsteling-legkaart of lees sy gunstelingstoriereeks. Hoe jy ook al besluit om te speen, maak seker dat jy ekstra tyd saam met jou baba deurbring terwyl hy gespeen word. Dit sal help dat hy nie afgeskeep voel nie.

Jy kan van een jaar oud af van bors- of formulemelk na koeimelk oorskakel. Die geleidelike blootstelling aan koeimelk kan vanaf ses maande begin. Jy kan ’n teelepel gepasteuriseerde koeimelk by baba se pap roer en dan oor drie dae kyk of daar ’n allergiese reaksie is of nie. Gee ook jogurt (aanvanklik ongegeur en onversoet) in klein hoeveelhede.

Koeimelk moenie borsmelk voor een jaar oud vervang nie; dit kan dus deel wees van die dieet in klein hoeveelhede, maar moenie borsmelkinname verminder nie.

Ná een jaar is die dermkanaal volwasse genoeg en kan die meeste babas van borsmelk of formulemelk oorskakel na koeimelk.

As jy aanhou borsvoed, moet die koeimelk steeds nie inmeng met borsvoeding nie en ook nie met vaste kos nie. Baie babas verkies dit om melk te drink as om te eet, en baie babas drink op ’n jaar oud te veel formule- of koeimelk. Dit kan hul aptyt vir kos verminder en hulle ook hardlywig maak. As jy bekommerd is, spreek gerus ’n dieetkundige.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat ma’s hul baba eksklusief borsvoed (net borsmelk gee) van geboorte tot ses maande. Daarna moet vaste kos ingesluit word en ’n mens kan tot op twee jaar oud of langer borsvoed.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees