Vraag:

My babaseuntjie is vyf en ’n halwe maande oud en ek borsvoed nog. Ek wil nou met vaste kos begin. Gaan die hoeveelheid melk wat hy inneem afneem noudat hy vaste kos gaan kry? Wanneer drink hy sy meeste melk, wanneer bereik dit ’n plato en wanneer neem dit af? Tot wanneer is melk die belangrikste bron van voeding en waar pas kos in?

Antwoord:

Dit laat my hart sing elke keer as ek van nog ’n mamma hoor wat haar baba eksklusief tot op ses maande borsvoed! In die eerste ses maande van ’n baba se lewe is borsmelk al wat hy nodig het.

Van ses tot 12 maande voorsien borsmelk nog in twee derdes van ’n baba se voedingsbehoeftes en 12 tot 18 maande en later voorsien borsmelk nog in omtrent ’n derde van jou baba se behoeftes.

Van ses maande af is melk alleen nie meer genoeg nie, deels omdat die baba nou meer energie nodig het vir groei en ook omdat sy magie nie groot genoeg is om net meer en meer vloeistof te hanteer nie.

Daarom is energiedigte voedsel nodig om die energiegaping te oorbrug. Hy het ook ekstra minerale en vitamiene nodig, veral yster, wat nou uit kos verkry moet word.

Wanneer jy begin om vir jou baba vaste kos te gee, is dit ’n oefenproses; ’n stadige maar sekere blootstelling aan die wonderlike wêreld van kos.

Begin ’n voedingsessie deur eers te borsvoed en dan vir jou baba ’n teelepel vaste kos aan te bied.

Die nuutste aanbeveling is om binne die eerste maand ná eksklusiewe borsvoeding die kossoorte te gee wat potensieel voedselallergieë kan uitlok: gluten, koeimelk, soja, vis, eier en grondbone. Navorsing het gewys dat vroeë aanbieding van dié kossoorte saam met borsmelk latere kosallergieë help voorkom.

Dis belangrik dat jy die moontlike allergene net in klein hoeveelhede aanbied en dat borsvoeding voortgaan terwyl jy dié kosse bekendstel en baba se lyfie daaraan gewoond maak.

Kies ’n tyd van die dag wanneer jou baba gereed is om iets nuuts te leer, gewoonlik in die laatoggend. Begin deur ’n enkele kossoort op ’n keer met ’n lepel te voer. ’n Praktiese riglyn is om drie dae lank een keer per dag ’n teelepeltjie pap of graankos (die meeste soorte bevat gluten en is ysterverryk) te gee saam met voortgesette borsvoeding.

Ná drie dae kan ’n teelepel fyngedrukte eier of hoenderlewer gemeng met die pap of borsmelk gegee word. ’n Verskeidenheid groente en vrugte kan ook op dieselfde manier bekendgestel word.

Dit is bewys dat babas wat vroeg aan groente blootgestel word, meer groente eet wanneer hulle ouer is. Gee elke dag vir jou kind donkergroen blaargroente en oranje en geel groente en vrugte. Voeg ’n klein bietjie gepasteuriseerde koeimelk by jou baba se pap.

Baie fyn vis sonder grate en ander soorte vleis soos hoender en maalvleis kan volg. ’n Klein bietjie grondboontjie- of ander neutbotter kan ook by pap geroer word tot jou die baba dit later as ’n smeer op ’n broodjie kan eet.

Maak die kos geleidelik dikker en vermeerder geleidelik die aantal voedings, asook die verskeidenheid kossoorte. Vanaf nege maande word kos ál belangriker. Dan kan jy eers vaste kos aanbied en daarna borsvoed.

Vermy tee, koffie, suikerbevattende drankies en versnaperings wat baie sout en suiker bevat. Jou baba het in sy eerste jaar geen vloeistof behalwe borsmelk nodig nie. Van nege maande af kan jy wel klein hoeveelhede gekookte, afgekoelde water ook vir hom gee.