So tussen die sneesdoekies deur wat jy uitdeel en antihistamiene wat jy toedien, is dit baie belangrik om vas te stel wat die oorsaak van die allergieaanval is. Daar kan ’n klomp verskuilde snellers in jou huis wegkruip, van die ooglopende soos ’n troeteldier of kakkerlakplaag, tot die minder sigbare soos stofmyte en muf.

Wat kan jy doen?

TROETELDIERE is bekende snellers van allergieë. En dis nie net langhaardiere wat ’n probleem veroorsaak nie, want die allergie is eintlik teen die dooie vel wat die dier saam met die hare afskei, asook teen die dier se speeksel wat op die hare voorkom. Verban alle troeteldiere uit jou kind se kamer en hou hulle weg van gestoffeerde meubels. Was jou troeteldiere elke week.

STOFMYTE is mikroskopies klein organismes wat van die stof in jou huis leef. Hul teenwoordigheid lei tot aanvalle soortgelyk aan dié van ’n stuifmeelallergie, maar kom enige tyd van die jaar voor, nie net in die lente nie. Die myte is veral lief vir matrasse en beddegoed.

Goeie nuus is dat die myte niks hou van groot temperatuurveranderinge nie. Sit dus gereeld jou kind se matras en kussings in die son en was die beddegoed in baie warm water. Behandel ook knuffelspeelgoed. As jy nie die teddies kan was nie, pak hulle in ’n swart sak en vries hulle een keer per week oornag.

Nog raad: Soek op die winkelrakke na Mite free-produkte waarmee jy beddegoed kan was en die matras kan spuit. Dis onmoontlik om van alle myte ontslae te raak, maar hoe minder myte, hoe beter vir jou kind. Hou jul omgewing ook so stofvry as moontlik.

KAKKERLAKKE Nog ’n rede om ’n kakkerlak te haat – asof nog ’n rede nodig is – is dat kakkerlakpoef ook ’n sneller van allergieë is. As julle ’n kakkerlakprobleem het, roep die kenners in om van die verpesting ontslae te raak. Maak intussen seker dat jul huisvullis in digte houers is en gereeld buitentoe gevat word, sodat daar nie rede is vir die kakkerlakke om in te trek nie.

MUF As muf die oorsaak is van jou kind se allergieaanvalle, sal dit ook heeljaar plaasvind. Dis veral as julle gekap en gebou het dat die mufspore in die lug beland. Raak ontslae van die muf. Probeer intussen om jou huis goed geventileer te hou en vogtigheid te verminder. In die badkamer kan jy met bleikmiddel die teëls, stortgordyn en sommer alles afvee om die muf te keer. Dalk kan jy jou kind in ’n ander kamer laat slaap as die muf juis daar voorkom. 

Hoe lyk jou matte?

Dit sal jou dalk verbaas om te hoor dat matte in jou huis eintlik kan help met die probleem. Matte vang stof en kieme vas en keer dus dat dit in die lug sirkuleer. Dan stofsuig jy die sondaars weer uit die mat uit. Sorg net dat jy ’n goeie stofsuier gebruik. As jy nuwe matte wil lê, wees op die uitkyk vir Belgotex se SilverCare-matte. Die silwer het teenbakteriese eienskappe wat die mat en omgewing besonder higiënies maak omdat dit stofmyte, bakterieë en slegte reuke beveg.