VRAAG:

Ek verwag my eerste kind. Ek en my man is baie geheg aan ons honde wat tans in die huis slaap en eintlik maar heeltyd by ons is wanneer ons tuis is.

Die twee hondjies slaap in die kamer by ons. Ons baba gaan vir eers ook in die kamer by ons slaap. Moet ek die honde voorlopig uitskuif?

Sal ons nuwe baba daaronder ly as die honde ook in die kamer slaap?

ANTWOORD:

DR MARETHA COMBRINK ANTWOORD: Die Amerikaanse Akademie van Pediatrie beveel aan dat troeteldiere liefs nie in jou kleinding se slaapkamer toegelaat word nie.

Diere kan in die kot of bababedjie spring, wat ’n groot risiko vir versmoring en ander beserings inhou. Dierehare in die omgewing kan ook implikasies hê vir jou baba se asemhaling.

As jou troeteldiere hul meeste tyd binne deurbring, kan jy ’n babamonitor inspan en jou baba se slaapplek buite hul bereik hou.

Jou troeteldiere sal dalk moeilik by die nuwe roetine aanpas en dis dus ’n goeie plan om die veranderinge vroeg te implementeer.

Leer hulle voor die geboorte al watter dele toeganklik is en wat nie, en let op ander gedrag wat ’n rol kan speel, soos dat hulle blaf of opspring.

Dit is belangrik dat die eerste ontmoeting ’n positiewe ervaring vir almal betrokke is. Wanneer jul baba gebore is, kan jou man ’n kombersie of klere van die kleinding saamneem huis toe sodat die diere daaraan kan ruik en gewoond aan die baba se reuk kan raak.

Wanneer julle tuiskom, kan die troeteldier aan die nuwe baba ruik en hom of haar ondersoek. Die troeteldier mag nooit alleen by die baba gelaat word nie.

Beloon goeie gedrag en wees bedag op jaloesie of kwaai gedrag.

Dit is belangrik dat julle steeds genoeg tyd en aandag aan jul troeteldiere skenk sodat hulle nie afgeskeep voel nie.