My baba weier om kos met 'n growwe tekstuur te eet. Hy eet gladde teksture soos puree en jogurt. Hoe stel ek growwe teksture bekend?

Anel Kirsten antwoord:

Dit is baie algemeen! Die geheim is om geduldig te bly en aan te hou om jou baba aan teksture bloot te stel. Dit duur soms 'n ruk voor babas tekstuur aanvaar omdat hulle nog nie genoeg ervaring daarvan het nie en ook nog nie genoeg tyd gehad het om te oefen hoe om dit te eet nie.

Help jou baba oefen deur 'n verskeidenheid teksture saam-saam aan hom bekend te stel, soos fyngedrukte vrugte en groente saam met 'n gladde puree.

Babas is gewoonlik tussen sewe en 10 maande gereed om growwer kos aan te durf. Gebruik hierdie geleentheid, aangesien dit latere fiemies kan help voorkom.

Gee jou baba sagte vingerkossies soos saggekookte groente, vrugtestukke, repies roosterbrood en mini-ryskoekies. Jou baba sal dalk meer daarvan hou om self te eet pleks van met 'n lepel. Moet die kos nie te klein sny nie.

Maak eerder self kos omdat dit van nature meer grof van tekstuur is.

Hou aan om jou baba aan growwe teksture bloot te stel. As hy 'n spesifieke kossoort weier, los dit vir 'n paar dae en probeer later weer. Jy sal sommige kosse tot agt keer moet aanbied voor baba dit aanvaar.

Laat hom toe om met sy kos te speel – dit sal hom help om al die teksture te leer ken.

Sorg ook dat hy nie oormoeg of reeds versadig is wanneer jy hom aan 'n nuwe tekstuur bekend wil stel nie.

Hou in gedagte dat bors- en formulemelk tot op nege maande oud steeds jou baba se hoofbron van voedingstowwe is. As hy ná sy eerste verjaardag steeds teksture weier, moet jy liefs professionele hulp gaan soek.

E-pos jou vrae na yolandi@babaenkleuter.co.za. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.