Jou kinders is die kosbaarste dinge in jou lewe. Daarom is dit so belangrik om die regte kinderoppasser te kies vir die dae wanneer jy nie self daar kan wees nie. “Jy moet jou afvra of jy jou ouerskapsverantwoordelikhede met dié persoon kan deel,” sê Bev Wilson, direkteur van The Professional Child Care College in Johannesburg.

Maar tog moet jy realistiese verwagtinge koester, maan Laurie Ann Hingst, eienaar van Super Nannies, ’n landwye plasings- en opleidingsagentskap vir kinderoppassers. “Daar bestaan nie iets soos die ‘perfekte kinderoppasser’ nie en dikwels beteken ’n aangename persoonlikheid en ervaring meer as ’n string kwalifikasies,” meen sy. “Vertrou jou instink.”

Wie moet ek kies?

Stap een is om jou gesin se besondere behoeftes in ag te neem en iemand te kies wat daaraan voldoen, is Laurie Ann se raad. “Swem jou kinders? Dan moet jy iemand kies wat kan swem. As jy honde het, moet jy seker maak die oppasser hou van diere,” sê Bev.

Jou keuse van oppasser hang ook af van die mate waarin sy by jou kind betrokke gaan wees. Moet sy hom net smiddae oppas wanneer hy van die speelgroepie af kom, of moet sy hom ook kreatief stimuleer? Het hy dalk ’n au pair nodig wat met huiswerk kan help, of het hy spesiale behoeftes wat ’n bepaalde kwalifikasie vereis? Gestel jy het drie woelige seuns, sê Bev. Dan het jy waarskynlik ’n manlike au pair nodig, en iemand wat jonger is en nog hope energie het.

Doen jou navorsing

Die Kinderwet bepaal dat niemand wat in Suid-Afrika met kinders werk, ’n polisierekord mag hê nie, sê Bev, so vra bewys van 'n skoon rekord. Gaan ook alle verwysings na om seker te maak niemand probeer jou ’n rat voor die oë draai oor vorige ervaring of kwalifikasies nie. “Ons vind dat mondelingse aanbevelings dikwels nie uitwerk nie. Verwysings bied ’n blik oor die kandidaat se ervaring met kinders en algemene huishoude- like pligte. Dit bied ook insig in moontlike swak- en sterkpunte en in hoe hulle by ’n huishouding inskakel,” sê Laurie Ann. As jy nie die vertroue het om self iemand te kies nie, kan jy ’n aanstelling maak deur ’n agentskap wat al die administratiewe sake sal hanteer en meestal ’n streng keuringsproses handhaaf. Neem hul tarief in ag.

Wees op die uitkyk vir dié eienskappe

’n Passie vir kinders is belangrik, maar iemand kwalifiseer nie as kinderoppasser net omdat sy self kinders het nie. ’n Kwalifikasie in kindersorg is gaaf, maar vaardighede kan altyd aangeleer word, meen Laurie Ann. Die ideale kandidaat het ’n positiewe ingesteldheid, is eerlik en betroubaar, wys inisiatief en is bereid om te kommunikeer en take op jou manier uit te voer. Stel vas of die kandidaat fiks genoeg is om na jou kinders om te sien en of sy maklik saam met jou kinders kan beweeg.

Die onderhoud

Jou ontmoeting met kandidate is baie belangrik. Voer die eerste onderhoude op ’n neutrale plek soos ’n koffiewinkel. Nooi daarna ’n kortlys van kandidate na jou huis vir ’n opvolg-onderhoud. Bev deel dié wenke:

  • Sorg dat jou kinders by is wanneer jy dié onderhoude doen. Kinders het ’n goeie instink en weet gewoonlik vinnig of hulle van iemand hou of nie.
  • Kyk hoe iemand teenoor jou troeteldiere optree – hulle is deel van die huishouding.
  • Vra gefokusde vrae. Wat is haar siening oor dissipline? Wat gaan sy doen om jou kind te vermaak en te stimuleer en wat is die volgende ontwikkelingsmylpaal waaraan sy aandag sou gee?

Waarna om op te let

Hou ook dié aftiklysie van Laurie Ann byderhand tydens die onderhoud:

  • Het die kandidaat betyds opgedaag, goed versorg gelyk en is sy netjies aangetrek?
  • Het sy haar hande gewas voor sy jou kind vasgehou het?
  • Was sy stiptelik, of het sy jou minstens darem betyds laat weet sy gaan laat wees?
  • Het sy om verskoning gevra indien sy laat was of verdwaal het?
  • Het sy ’n sin van ordelikheid wat met jou eie ooreenstem?
  • Is sy fisiek daartoe in staat om die werk te doen?
  • Het sy belangstelling in jou kinders gewys?
  • Hoe het sy met hulle omgegaan?
  • Kom sy intelligent voor en asof sy gesonde verstand het?
  • Het jy ontspanne en gemaklik gevoel terwyl jy die onderhoud met haar gevoer het?

’n Ontwikkelingskenner se raad

As ouer kan jy nie altyd daar wees nie. “Kies jou plaasvervanger as iemand wat jou kind primêr sal beïnvloed,” sê die ontwikkelingskenner en stigter van BabaGim, dr. Melodie de Jager. Cozette Laubser, kommunikasiebestuurder van die BabaGim-Instituut, voeg by: “Die mens wat jy aanstel se aanslag moet jou ouerskapstyl aanvul.” Melodie meen ’n goeie kinderoppasser is iemand wat nie net na jou kind se basiese behoeftes omsien nie, maar ook sy ontwikkelingsmylpale in ag neem en die verskil tussen groei en ontwikkeling verstaan; sy moet ’n goeie taalrolmodel wees en dus vlot en duidelik praat. Vra jou ook af: “Loop haar hart oor van liefde en is sy spontaan en meer geneig om te lag as te frons? Maak sy dadelik kontak met jou kleinding as sy by die deur instap?”

Bemagtig haar

“Opleiding vir jou kinderoppasser is jou verantwoordelikheid, aangesien sy jou kinders gaan versorg,” sê Laurie Ann. “Kursusse soos ons s’n verbeter kommunikasie in die huishouding en help om verwagtinge en kulturele aannames wat in die oppasser-werkgewer-verhouding kan ontstaan, uit te lig.” Oorweeg kursusse in kinderveiligheid, kos maak, speel en stimulasie, waterveiligheid, goeie voeding, babasorg, noodhulp, die ontwikkeling van mylpale, prettige idees vir speletjies, musiek en lees.

Mondelingse aanbevelings werk nie so goed soos formele verwysings nie.
Getty Images

Kontrakkennis

Jy móét ’n kontrak sluit wanneer jy ’n kinderoppasser aanstel. Dit gee die werknemer en werkgewer gemoedsrus en verseker dat julle op dieselfde bladsy is. “Albei partye moet instem tot die kontrak en ’n afskrif hou omdat dit ’n wettige en bindende dokument is wat albei beskerm,” sê Laurie Ann. Deur van die begin van jul werksverhouding af goed te kommunikeer, skep jy die ruimte vir ’n oop gesprek indien verpligtinge af en toe hersien moet word.

Wat om in te sluit

1. Sit pligte duidelik uiteen “Dit is onredelik om van iemand te verwag om pligte uit te voer wat nie bespreek is nie,” sê Bev. ”Wil jy hê die oppasser moet af en toe brood en melk gaan koop of kostuums vir die skoolkonsert maak? Stel dit dan van die begin af op skrif, anders kan verwyte maklik opbou.” Huishoudelike personeel word dikwels aangestel as huishoudsters én kinderoppassers, maar dan moet daar ’n aanvaarbare roetine en billike verwagtinge wees oor tydsbestuur, sê Laurie Ann. “Dit is belangrik dat almal besef skoonmaak kom tweede en dat die versorging van die kind die prioriteit is.”

2. Salaris Kom ooreen oor haar salaris en die maandelikse betaaldatum, sê Bev. Heelwat faktore beïnvloed ’n kinderoppasser se salaris, sê Laurie Ann. “Dit sluit werkure, ervaring en opleiding in, asook of sy by jou gaan woon of reiskoste sal moet aangaan. Die salaris sal ook deur haar rol bepaal word.” Die gemiddelde salaris van iemand wat by jou woon is tussen R4 000 en R4 500 per maand, terwyl iemand wat nié by jou woon nie R4 500 tot R5 500 verdien.

3. Verlof Hoeveel verlofdae het sy en wat sal as onbetaalde en jaarlikse verlof geld? Dit is onbillik om van iemand te verwag om hul jaarlikse verlof te neem, of selfs onbetaalde verlof, as jou gesin onverwags met vakansie gaan, sê Bev.

4. Geraamde werkure Jou werknemer moet altyd op dieselfde tyd aanmeld, maar kom ooreen oor buigbare huistoegaantye omdat jy dalk soms in die verkeer sal vassit en nie wil hê die persoon moet koers kies voor jy tuis is nie.

5. Die hantering van dissipline Moet sy afkoeltyd gee of woede-uitbarstings ignoreer? “Jy mag in geen omstandighede van iemand verwag om vir jou kind ’n pak slae te gee nie. Dan sal jou werknemer die wet oortree en jy mag niemand dwing om dit te doen nie,” sê Bev. Sorg dat jy dieselfde stel reëls as sy volg wanneer dit by dissipline kom, sodat jy haar nie ondermyn nie.

Werkloosheidsversekering

Volgens wet moet jy jou werknemers registreer vir werkloosheidsversekering, sê Bev. “Dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om die nodige vorms in te vul en hul werknemer aanlyn vir werkloosheidsversekering te registreer,” sê Laurie Ann. “Sodra jy ’n brief ontvang het met ’n registrasienommer, kan jy aanlyn by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) registreer en betalings ook aanlyn maak.” Die betrokke vorms en inligting is beskikbaar by labour.gov.co.za en die WFV se aanlynportaal, ufiling.co.za.

LEER BY ANDER MA'S

Marianne Styan (36) van Kaapstad, ma ’n 19 maande oue seuntjie, sê sy het ’n goeie kinderoppasser deur ’n agentskap aangestel, maar gou besef sy moes haar vooraf afgevra het hoe sy met dié vrou oor die weg gaan kom.

“Sy het ons seuntjie goed gestimuleer en was altyd betyds, maar ons persoonlikhede het gebots. Sy het ’n sterk persoonlikheid gehad en wou oorneem. Dit was moeilik omdat ons in ’n woonstel gewoon het en onder mekaar se voete was.

“Ons het die opsie gehad om ons gunstelingkandidate vir ’n dag as proeflopie by ons te laat werk, maar het daarteen besluit, waaroor ek spyt is. Só kan jy sien hoe sy jou kind hanteer en of julle oor die weg kom.

“As jy moet teruggaan werk toe, moet jy probeer om die persoon reeds sowat ’n maand voor die tyd aan te stel om deeltyds te kom werk sodat jy gerus kan wees oor hoe sy jou kind hanteer en sodat julle aan mekaar gewoond kan raak.”

Chantel van Heerden (34) van Pretoria het twee dogtertjies van vier en sewe jaar oud en sê ’n voormalige kinderoppasser se selfoongebruik het vir groot hoofbrekens gesorg. “Ek stel voor ouers verban die gebruik van selfone tydens oppasstye. Ek het agtergekom die oppasser praat nie veel met my kinders nie en was ’n paar keer op Facebook doenig terwyl sy na hulle moes omsien.

“Daar was ook kere wat ek by die kamer ingeloop en sy vinnig haar selfoon afgeskakel het. My reël is dus geen selfone nie, tensy daar ’n dringende oproep is.”

ADRESBOEK

Super Nannies supernannies.co.za, 086 146 2669, info@supernannies.co.za

Professional Child Care College childcarecollege.co.za, 011 482 3378, childcare@global.co.za