Inenting is noodsaaklik

akkreditasie
Wat kan ek sê en doen om my vriendin te oortuig om haar nuwe baba in te ent?

Vraag:

Ek voel baie sterk oor inenting en al drie my kinders het sover al hul immuniserings ontvang. Ek het egter ’n vriendin wat glo dat immunisering skadelik vir kinders is. Wat kan ek sê en doen om haar te oortuig om haar nuwe baba in te ent?

Antwoord:

Immunisering is deesdae ’n groot onderwerp vir bespreking en die meeste mense het ’n sterk opinie. As ouer wil jy graag die heel beste vir jou kind doen, en jy wil nie jou kind skade doen nie.

Ongelukkig was daar heelwat vals inligting in die media ten opsigte van veral die MMR-immunisering, wat ouers nou twee keer laat dink voordat hulle immuniseer. En op die internet is die nie-immuniseerders baie prominent.

Immunisasies word blameer vir die verhoogde voorkoms van sekere siektes, daar word gesê dat vaksiensubstanse iets bevat wat skadelik is, en dat die immuunsisteem die meeste siektes self kan beveg.

Die waarheid is egter dat die voordele baie meer as die moontlike nadele is. Immunisasies is ongelukkig nie heeltemal sonder newe-effekte nie, waarvan koors, geïrriteerdheid en ’n veluitslag die algemeenste is. Dit is ook waar dat immunisasies in baie raar gevalle ernstige newe-effekte soos ’n konvulsie kan veroorsaak.

In my opinie weeg die voordele van immunisasie egter baie swaarder as baie skaars moontlike komplikasies. Immunisasies beskerm en voorkom siektes wat permanente skade en jou kind se dood kan veroorsaak.

Die hoeveelheid kinders wat voor immunisasies gesterf het aan siektes soos polio of masels of tetanus was baie hoog. Sedert kinders daarteen geïmmuniseer word, sien ons hierdie siektes skaars. Siektes soos polio het permanente neurologiese skade veroorsaak, iets wat ons in die moderne samelewing skaars sien.

Immunisasies beskerm meer mense as net jou kind. As meer as 85% van kinders geïmmuniseerd is, praat ons van kudde-immuniteit en word die ongeïmmuniseerde 15% beskerm. Dis daarom dat die kinders wat nie geïmmuniseer is nie, nie die siektes kry nie. Maar dit beskerm ook teen groot uitbrake.

As daar ’n uitbraak van ’n siekte is, is dit veral jong babas (dié wat nog nie geïmmuniseer is nie) en bejaardes wat die siektes opdoen en dan sterf of komplikasies ontwikkel.

Immunisasies bespaar geld. Indien jou kind ’n voorkombare en aansteeklike siekte opdoen, moet die kind dikwels gehospitaliseer word. In sommige gevalle soos pertussis in jong babas of masels pneumonie word intensiewe sorgeenheid-behandeling benodig. Jy sal ook tyd by die werk moet afneem. Die kinders is gemiddeld aansteeklik vir twee weke.

Immunisasies kan siektes laat uitsterf. Siektes soos pokke bestaan nie meer nie danksy immunisasies, en ons is besig om hard te werk aan die uitsterf van polio en masels. Toekomstige generasies word dus ook beskerm. Immunisasies het die toets van die tyd weerstaan, en dit is bewys dat dit veilig en effektief is.

E-pos jou vrae na yolandi@babaenkleuter.co.za

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees