Is koeimelk regtig so goed?

akkreditasie
Melk is 'n moet vir baba, maar kan 'n koei s'n werk? Ons vertel jou alles wat jy moet weet oor koeimelk vir jou baba.

Jou ma hou aan dat sy jou grootgemaak het op plaasmelk en kyk net hoe goed het jy grootgeword. Jou vriendin sweer egter dat koeimelk outisme, diabetes en klomp ander komplikasies veroorsaak.

As nuwe mamma sit jy reg in die middel en kopkrap oor wie nou eintlik reg is en wat jy vir jou baba moet gee.

Daar is geen debat oor watter melk vir baba die beste is nie. Borsmelk bly bobaas vir feitlik alle babas op aarde. Ongelukkig kan ma’s wat sukkel om te borsvoed (nog nie) bottels borsmelk koop nie, en daarom word tweedebeste opsies ingespan.

Borsmelkvervangers

Borsmelkvervangers (of formulemelk) word gemaak van koeimelk of sojabone en vervaardigers probeer hul bes om die samestelling so aan te pas dat dit so naby moontlik aan die samestelling van borsmelk kan kom. Hulle sal egter nooit die spesiale lewendige delesoos die ensieme en teenliggaampies van borsmelk in blikmelk kan sit nie en daarom sal dit altyd net tweede beste wees.

Om babas te beskerm, kan vervaardigers nie sommer net ingooi wat hulle wil nie. Die samestelling van borsmelkvervangers moet voldoen aan sekere internasionale standaarde wat vasgestel is met borsmelk, die goue standaard, in gedagte.

Al die verskillende blikke babamelk se samestelling is dus min of meer dieselfde. Hoewel koeimelk as bron gebruik word vir die proteïene en melksuiker in borsmelkvervangers, is daar ’n groot verskil tussen die twee.

Is koeimelk regtig so goed?

Koeimelk is ’n baie waardevolle voedingsbron. Dit bevat baie proteïene van ’n goeie gehalte en is die beste bron van kalsium, fosfate en magnesium. Die spesifieke verhouding van kalsium, fosfate en proteïene in melk maak dit ideaal vir die bou van sterk bene en tande. Melk bevat ook ’n groot klomp vitamiene wat help om jou kroos gesond te hou.

’n Koeimelkallergie word gewoonlik binne een tot drie jaar ontgroei en solank daar binne die riglyne gehou word, sal melk ook nie ’n ystertekort veroorsaak nie. Navorsing kon nog nie bewys dat melk outisme, tipe 1-diabetes of ander chroniese siektes veroorsaak soos beweer word nie.

Koeimelk

Al lyk dit so lekker as klein Heidi in die berge onder ’n bok gaan lê en melk drink, kan jou baba ongelukkig nie dieselfde met haar oupa se koei (of bok) op die plaas doen nie. Onveranderde koeimelk is nie geskik vir babas nie.

Koeimelk bevat te veel proteïene en minerale en jou baba se onvolwasse niere kan dit nie hanteer nie. Die groot hoeveelhede natrium in koeimelk kan ook jou baba laat ontwater en gevaarlike wanbalanse van die minerale in haar bloed veroorsaak.

Koeimelk het drie keer soveel kalsium as borsmelk en het ook te min yster. Hoewel borsmelk net ’n klein bietjie meer yster meer bevat, word 50 persent daarvan opgeneem, terwyl net 10 persent van die yster in koeimelk en 4 persent van die yster in blikmelk opgeneem word.

As koeimelk voor 12 maande vir babas gegee word om te drink, lei dit tot ystertekort en bloedarmoede. In een studie is gevind dat elke maand dat babas koeimelk drink, hul kans om ’n ystertekort te ontwikkel met 39 persent verhoog.

Daarby veroorsaak koeimelk as drankie piepklein bloeiende gaatjies in die derms van sowat 40 persent van babas wat dit drink. Die bloeding is so min dat ’n mens dit nie noodwendig in haar doeke sal sien nie, maar mettertyd sal die bloedverlies bydra tot ystertekort. Hierdie verskynsel neem af namate baba ouer word en hou heeltemal op wanneer ’n baba 12 maande oud is.

Allergieë

Toe ons nog kinders was, was suiwelprodukte taboe vir babas onder ’n jaar. Van dié wat ’n familiegeskiedenis van allergieë gehad het, is dit nog langer weggehou. Deesdae is groot internasionale organisasies dit eens dat wanneer ons op ongeveer ses maande met vaste kos begin, ons koeimelk ook kan gee.

Om dit weg te hou verminder nie die kans dat jou baba ’n allergie sal ontwikkel nie.

As jou baba reeds ’n koeimelk-allergie ontwikkel het voor sy begin eet, moet jy dit wel minstens ses maande lank vermy. Onthou dat babas wat vir koeimelk allergies is, ook nie bokmelk mag kry nie, en dat baie van hulle ook allergies sal wees vir sojamelk.

Standaardkoeimelkgebaseerde borsmelkvervangers en gewone koeimelk het dieselfde kans om ’n allergiese reaksie te veroorsaak.

Min is in

’n Bottel koeimelk is uit, en vir ma’s wat nie kan borsvoed nie, bly ysterverrykte borsmelkvervangers dus die enigste opsie. Alle babas, dié wat borsmelk drink en ook dié wat blikmelk drink, kan egter vandat hulle op ses maande begin eet, ook koeimelk en ander melkprodukte in klein hoeveelhede inkry.

As jy borsvoed, kan jy dus jou baba se pap met koeimelk meng pleks daarvan om uit te melk. Jy kan ook ’n lepel maaskaas op haar broodjie smeer.Leer jou baba ook jogurt eet. Koop ongegeurde volroomjogurt soos Griekse jogurt. Omdat jogurt effens suur is, bevorder dit die opname van yster en kalsium.

Gewone kaas moet liefs gebêre word tot sy een word, omdat dit baie sout bevat. Roomys en versoete jogurt bevat weer baie suiker en moet dus ook nie vir babas gegee word nie.

Van nege maande af kan jy die hoeveelheid koeimelk geleidelik meer begin maak, maar moet steeds nie vir haar ’n bottel vol gee om te drink nie. Studies het gevind dat meer as 460 ml koeimelk tussen nege en 12 maande ’n ystertekort kan veroorsaak.

Watter melk?

Omdat jou baba se brein teen ’n geweldige pas groei en ontwikkel, het sy meer vet nodig; haar brein bestaan mos uit vet. Sy het ook baie energie nodig en met ’n klein magie sukkel ’n mens soms om genoeg in te kry.

Vet bevat baie energie en ’n bietjie meer vet in haar dieet help haar dus om al die energie in te kry wat sy nodig het om mooi te groei. Babas behoort daarom tot twee jaar oud volroommelk te drink.

Bly weg van versoete of gegeurde melk en leer haar liewer om gewoond te raak aan die smaak van gewone melk. Jy kan ook volroom-poeiermelk gebruik as dit meer gerieflik as vars melk is. Maak seker dat jy net gepasteuriseerde melk gebruik, asook kaas wat van gepasteuriseerde melk gemaak is.

Ongepasteuriseerde melk kan organismes soos Salmonella, E. coli en Listeria bevat wat jou kleingoed baie siek sal maak. Vars of boksies langlewemelk is albei geskik vir jou kinders.

Ouer babas

As jy borsvoed, hou aan solank as wat jy kan, al is dit net een of twee keer per dag. As jy nie kon borsvoed nie en ’n borsmelkvervanger gebruik, kan jy jou kleinding van 12 maande af oorskakel na 500 ml volroomkoeimelk per dag.

Ja, jou baba het nie ’n kalfie geword op haar eerste verjaardag nie, maar koeimelk as deel van ’n gebalanseerde dieet is wel geskik vir jou peuter – en nie net geskik nie, maar baie belangrik vir sterk bene en tande. Melk en melkprodukte is ongetwyfeld die beste bron van kalsium en geen ander kos kan soveel kalsium in dieselfde hoeveelheid gee nie.

Onthou om ná haar tweede verjaardag na laevet- of selfs vetvrye melk oor te skakel. Sy het dan nie meer soveel ekstra energie nodig nie en hoe gouer sy leer om laevetmelk te drink, hoe makliker sal dit vir haar wees.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees