Is slaapafrigting skadelik?

akkreditasie
Kan slaapafrigting die nagmerrie van slaaptyd in 'n droom verander? Ons bekyk slaapafrigtingsmetode en vra of dit vir babas skadelik kan wees.

Desperate ouers sal enigiets doen om hul baba aan die slaap te kry: op ’n trampolien spring, die gesuis van ’n haardroër inspan tot die haardroër uiteindelik uitbrand, of soos ’n pa van Sandton tot by die Wes-Rand ry elke keer as sy baba moet slaap, al is dit tweeuur die oggend.

Dít is van die uiterstes waartoe party ouers gedryf is voor hulle hulp begin soek het, vertel Jacqui Flint, eienaar van die Baby Love-slaapafrigtingsprogram in Suid-Afrika.

Sy beskryf slaapafrigting as ’n proses om jou baba of kleuter te leer om op hul eie te slaap sonder dat jy hulle eers sus, om hulle self te kalmeer en hul slaapsiklusse te verbind sodat hulle deur die nag kan slaap.

Beheerde huil

Daar is verskeie slaapafrigtingmetodes. In die meeste is ’n donker kamer, gepaste musiek en ’n slaapvoorwerp soos ’n sagte speelding of fospeen sleutelelemente. Jy volg dieselfde strategie in die nag as met slaaptyd. Die metodes begin meestal ná ’n paar dae tot ’n week werk.

Die slaapafrigting-onderneming Mom’s Helper skoei hul metode op die beginsel van beheerde huil. Dié metode is oorspronklik ontwikkel deur Richard Ferber, wêreldbekende Amerikaanse pediater en skrywer van Solve your child’s sleep problems, wat in 1985 verskyn het. Mom’s Helper se program is vir kinders van ses maande en ouer. 

Huil dit uit

Die Baby Love-program span twee metodes in vir babas ouer as drie maande:

’n ligter slaapafrigtingsmetode en ’n fermer een. Met die fermer metode kan jou baba meer huil. Die fermer aanslag behels ’n mate van die huil-dit-uitmetode. “Slaapafrigting duur nie weke of maande nie, maar soms is meer as sewe dae nodig,” sê Jacqui.

“Om ’n baba te laat huil in ’n beheerde omgewing waar jy kalm is en na al sy behoeftes omgesien het (skoon doek, magie vol) terwyl jy ’n langtermyndoelwit in die oog hou, is baie anders as om ’n baba te los om te huil omdat jy eenvoudig keelvol is.”

Slaapafrigting kan nooit in isolasie plaasvind nie, sê Jacqui. “Jou baba moet bedags so lank wakker bly as wat vir sy ouderdom gepas is en moet natuurlik genoeg te ete kry. Net dan kan slaapafrigting werk.”

Baby Love se slaapafrigting begin in die oggend en met die fermer metode sit jy jou baba wakker in sy bedjie neer en mag jy een keer gaan inloer om te verseker alles is in orde. Baby Love-agente verduidelik egter stap vir stap vir ouers wat om te doen en watter hulpmiddels om te gebruik. Ouers behartig self die slaapafrigting.

Onttrekkingsmetode

Met die onttrekkingsmetode van Andrea Grace, skrywer van Teach yourself baby sleep (2007), sit jy jou baba in die bed en sit jy by hom tot hy aan die slaap raak. Jy kan sy handjie vashou en so na aan hom sit as wat jy kan. Jy moet hom net nie optel of voed nie.

Sodra hy maklik aan die slaap raak terwyl jy by hom sit, moet jy nie meer aan hom raak nie. Jy bly by hom, maar vermy oogkontak. Elke aand skuif jy jou stoel geleidelik verder van sy bed af tot jy buite sy kamer is, maar waar hy jou steeds kan sien. Dit kan ’n paar weke duur voor jy heeltemal uit sy kamer is. Andrea beveel slaapafrigting van ses maande af aan.

Tel-op-sit-neer-metode 

In Secrets of the baby whisperer verduidelik die skrywer, wyle Tracy Hogg, die tel-op-sit-neermetode. Jy sit jou baba vaak, maar wakker in haar bed neer en sodra sy huil, troos jy haar in die bed. As dit nie werk nie, tel jy haar op en troos haar tot sy ophou huil.

Sodra sy ophou huil, sit jy haar onmiddellik weer neer. Jy herhaal dit soveel keer soos nodig, al tel jy haar tientalle kere op. Later behoort jy haar nie meer so baie op te tel nie, tot sy leer om op haar eie te slaap. Tracy sê dié metode werk van drie maande af.

Is slaapafrigting skadelik?

Jenny Perkel, skrywer van Babies in mind en ’n kliniese sielkundige van Kaapstad wat in babas se geestesgesondheid spesialiseer, is taamlik skepties oor slaapafrigting.

“Ons is nie gekant teen alle slaapafrigtingsmetodes nie, maar meen ouers moet ander opsieseers oorweeg, want hulle is geneig om eerste na slaapafrigting as ’n antwoord te gryp.

“Navorsing wys daar is baie belangrike redes waarom babas nie goed slaap nie en slaapafrigters is dikwels nie spesialiste in babas se geestesgesondheid nie.

“Daarom raai ek ouers aan om eers ’n pediater te spreek en seker te maak daar is fisiek niks verkeerd nie. Raadpleeg ook ’n sielkundige wat in babas se geestesgesondheid spesialiseer en oorweeg slaapafrigting eers daarna.”

Volgens Dilys Daws, ’n kinderpsigoterapeut van Londen in Engeland, het babas wat sukkel om te slaap dikwels skeidingsangs, meestal omdat hul ma aan onopgeloste droefheid ly, soos oor ’n miskraam. 

Die probleem met slaapafrigting is dat dit soos ’n stoomroller oor al dié subtiliteite ry,” sê Jenny. Sy raai ma’s aan om nie te gefokus te raak op die feit dat hul baba in die eerste jaar moet deurslaap nie.

“Wat jou baba in die eerste lewensjaar moet leer, is vertroue, nie onafhanklikheid nie. As jy reageer op jou baba se gehuil, sal sy leer om jou te vertrou. “As sy jou vertrou, sal sy ’n inherente vertroue in haarself en in die wêreld ontwikkel, en dis die basis van geestesgesondheid as volwassene.”

In die Westerse samelewing is daar baie druk op ouers oor hul baba se slaappatrone. Almal wil weet of jou baba al deurslaap. Indien nie, laat dit jou voel jy doen iets verkeerd, sê Jenny.

Volgens navorsing deur die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad is daar geen slaapprobleme onder babas van die Xhosa-gemeenskap in die Wes-Kaap nie. “As babas nie deurslaap nie, word dit nie as ’n probleem beskou nie. Hulle sê dit is eenvoudig hoe babas is.”

Jenny raai egter slaapafrigting aan as jy fisiek nie gesond is nie, aan nageboortelike depressie ly of as jy ’n meerling het. Jy kan jou baba darem nie sielkundig skaad as jy haar af en toe laat om vir kort tye te huil nie, sê sy.

Sielkundige skade word net aangerig as ’n baba herhaaldelik alleen gelaat word om ’n aansienlike tyd lank te huil.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees